Читать книгу Wanpraktyk - Andries Samuel - Страница 7

ykgedig

Оглавление

uit die pentateug, met bietjie proverb en profeet

daar word gesê, só:

’n gomer vol, ’n verseboek

moet bewaar word vir julle nageslagte

dat hulle die brood kan sien

wat julle in die woestyn moes eet

toe julle uit onderdrukking kom

wie sal kan sê:

is daar behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid?

in navolg en na-amen van dies wat weet?

kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer

om te luister beter as die vet van ramme

elke weg van ’n mens is reg in sy eie oë

maar woorde is die toets vir harte

iemand het gesê:

jy erken die een wie se verlies

jy vir altyd gaan dra, soos ’n slapende kind

alle verdriet, almal se verdriet

is die gewig van ’n slapende kind

elders lees mens, hoog aangeprys:

twee soorte gewig is ’n gruwel

en ’n valse weegskaal is nie goed nie

jy mag nie twee soorte weegstene

’n grote en ’n kleintjie, op jou tong hê nie

jy mag in jou huis nie twee soorte efas hê nie

jy moet ’n volle en regte gewig hê

jy moet ’n volle en regte efa hê –

sodat jou dae verleng mag word

julle mag geen onreg doen

in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie

julle moet ’n regte weegskaal hê, regte weegstene

’n regte efa en ’n regte hin

(wat de fok beteken dit?)

in die land wat julle gegee is

moet julle sy opbrings oes

moet julle die eerstelingsgerf

die eerste omer van julle oes

na die priester bring

volgens die sikkel van die heiligdom

word vir die eersgeborenes betaling geëis:

is dit iemand van ’n maand oud tot vyf jaar,

dan moet jou skatting vir die manlike geslag vyf sikkels silwer wees

en jou skatting vir die vroulike drie sikkels silwer

want hy vra dit self, ons eie god:

hoe bly mens rein by ’n valse weegskaal

en ’n sak vol bedrieglike gewigte?

ek weeg my daagliks

daagliks by die verdriet van ’n kind

Wanpraktyk

Подняться наверх