Читать книгу Glipstroom - Anemari Jansen - Страница 5

Soutpansberg

Оглавление

“Jissis, Maja. Wat gaan aan met jou? Ek bedoel, nége suurlemoenbome …”

My hand glip na my nek toe.

“Ons praat vanaand,” Louis se stem is saaklik. “Sam Malepane is op pad om my te kom haal.”

“Maar dis dan Saterdag en ons wou nog dorp toe.”

“Dit kan nie anders nie. Hierdie ongeluk vanoggend het alles beduiwel. Ons het ’n site inspection twaalfuur en ek moet die tender vanmiddag deurkyk.”

“Jy is omtrent getroud met jou werk.” Dit het uitgeglip.

Louis se wenkbroue trek saam. “Moet nou nie weer daarmee begin nie. Dis mos nou onnodig. Ons kan môre iets lekker saam doen.” Hy blaas deur sy neus. “Enigiets behalwe bome plant. Dis ’n huurhuis, for Pete’s sake.”

“Jammer,” mompel ek en draai weg. “Ek was bang ek kry dit nie aan die groei nie. En … ek sien jou letterlik nooit meer nie.”

“Ons het mos al hieroor gepraat.” Louis neem staan-staan ’n hap uit sy broodjie. Hy loer onder sy wenkbroue deur na my. “Ons padmakers en dambouers is min by die huis. Die meeste ouens se vrouens verstaan dit en ondersteun hulle.” Hy stap voordeur toe. “Jy sal moet gewoond raak. Ek het net nie vanoggend tyd om te staan en ginnegaap nie.”

Sonder ’n verdere woord stap ek kamer toe en trek aan. Toe sluit ek die voordeur, klim in die ligblou Golf 1100 en sit my handsak op die passasiersitplek neer. My kar draai vanself na die kafee op die hoek, waar ek twee sjokolades koop. Ek ry stadig deur Louis Trichardt se onderdorp terwyl ek die een opeet. Die huise groei inmekaar.

Eenkant op die stoep sit die kindvrou weer. Haar oë is vandag verbleik en oopgesper, asof die hare wat in ’n ponie op haar kop vasgemaak is, dit oophou. Ek klim uit en gaan sit langs haar op die bank. Haar oë draai na die sjokolade in my hand. Ek skeur die omhulsel oop en sit ’n stukkie in haar mond. ’n Traan soos ’n Tretchikoff-druppel hang vir ’n oomblik op haar bors voordat dit in die roklap verdwyn.

Ek wou nog vir Louis vertel dat ek en twee ander onderwyseresse gekies is om die standerdagtmeisies na die veldskool in Waterval-Boven te vergesel. En dat ons oor twee dae vertrek.

Ons peul in ’n deurmekaar bondel by die busdeur uit.

“Ek het nooit geweet veldskool kan so lekker wees nie! Toe ek in standerd agt was, was ons by Martha Gladhaar en dit was skrikwekkend. Soos ’n regte armykamp, met sersant-majore en al. Hulle het ons in ’n peloton laat staan én laat dril. En lekker op ons geskree.” Ek kyk af na die laaste trappie voordat ek my voete op die hoërskool se grasveld neersit.

“Martha Gladhaar.” Fya probeer ’n sigaret agter die bus aansteek. “Dis ’n afgryslike naam vir ’n kamp. Waar was dit?” Sy buig weg van die lastige wind.

“Swartruggens se wêreld, as ek reg onthou.” Ek vee my hare uit my gesig.

“Ons s’n was net so sleg,” lag Magda en frons. “Eerder konsentrasiekampe. Ek onthou nou nog die oom wat ons gedwing het om in die middel van die winter onder ’n yskoue straal damwater te bad. In ons onderklere. En dit terwyl hy so onopsigtelik as moontlik toesig hou. Asof een dag sonder om te bad nou eintlik so ’n moerse verskil in ons lewe sou maak.”

“Bleddie pervert,” sê Fya streng. “Met sy weermagmaniere. My grootwordtyd was besaai met ooms soos hy, kamstig streng maar vol verkeerde gedagtes. Hierdie kinders van vandag het dit maklik.”

“Wat het julle om te eet in julle woonstel?” Ek voel skielik flou. “Of nee …”

“Jy maak seker ’n grap. Ons kaste is dolleeg. Vanaand kuier ons op die koshuis se rekening,” beduie Fya met haar sigaret. Haar oë begin blink. “Ek gaan die koshuistannies se arm draai dat hulle vir ons juffrouens melksnysels met kaneelsuiker en plaatkoekies met stroop en roomys gee.”

“O ja,” kom dit van Magda. “Sewe dae van kampkos was meer as genoeg vir enige normale mens.” Sy vat my aan die hand. “Kan jy bly? Ag toe? Ons het nou gewoond geraak aan mekaar se geselskap.” Haar kort blonde hare staan wild om haar kop. In haar kortbroek en T-hemp lyk sy elfagtig, nie veel ouer as die kinders nie. “Komaan, komaan!” sê sy oor haar skouer vir die standerdagts wat in oproerige bondels rondstaan. “Koshuiskinders, kry julle goed in die kamers. Roll-call is oor ’n halfuur. Die res van julle kan julle goed vat en voor die saal vir julle ouers gaan wag.”

“Maar Juffrou …”

“Hannah, Retha, ek praat nie weer nie!” Sy frons diep. “Standerdagts, moet nou nie dat ek my humeur verloor nie.”

“Juffrou, maar kan ek net gou by die koshuis my ouers gaan bel?”

Fya draai haar rug op hulle en vee haar hare van haar voorkop weg. Kreukels om haar oë. “Ek het nou genoeg gehad van die bleddie kinders. Herinner my om nie swanger te raak voor ek ten minste vyf en dertig is nie.”

“Nou praat jy.” Ek swaai my rugsak oor my skouer. “Daar is nie ’n manier wat ek nou ’n kind kán of wíl hê nie.”

“Hel, nee.”

My oë draai na die malende kinders. “Hulle is eintlik ’n oulike groep. Mens leer hulle baie beter ken op ’n kamp as in die klaskamer.”

Magda en Fya soek deur die stapels bagasie na hulle kampsakke.

Fya se vlegsels tuimel oor haar skouers toe sy buk. Haar sigarethand is gevaarlik naby, vang die punt van die een vlegsel. “My hare brand al hoe korter. Ek sny sommer die spul af.”

Ons grawe ons slaapsakke en kussings onder ’n bondel ander uit. Stap met die gruispad na die woonstel wat Magda en Fya in die meisieskoshuis deel.

Vleiloeries roep en murmel in die koraalbome. Ek gaan staan. “Nee. Ek wil liewer gaan.”

“Tipies jy, altyd aan die afdwaal.” Magda waai oor haar skouer en stap aan.

Ek volg die voëlgeluide en onthou die kindvrou. Die beroerte het nie net haar woorde gesteel nie.

Glipstroom

Подняться наверх