Читать книгу Glipstroom - Anemari Jansen - Страница 6

Kavango

Оглавление

“Nee! Jy is nie ernstig nie.” Ek kom in Single Quarters se enkelbed orent. “Wanneer?”

“Gisteraand gebeur. Die vervoertrok het omgeslaan so twintig kilometer buite Rundu, daar waar die grondpad begin. Blykbaar het twee bande gebars.”

“En ons goeters? Ons meubels en alles? Ag nee, demmit, ek het geweet dit gaan nie uitwerk nie. Hulle ry dan al langer as twee dae hiernatoe. Ons moes liewer saam met die trok hiernatoe opgery het. En nou dít.”

Uit die hoek van my oog sien ek Louis se ongeduldige skouers. “Maja …”

“Ag nee, man. Dis soos in die laaste strooi.” Ek wip uit die bed. Die vloer is vol sand en dooie muskiete.

“Sorry, vroumens.” Daar is ’n geïrriteerde klank in sy stem. “Ek moet baie meer hanteer as net ’n trok wat omgeslaan het. Maar dinge is gesort. Ek het al die sitebakkies en een loader soontoe gestuur; hulle gaan nou ons goed daarvandaan aanry. Om die waarheid te sê, die eerste vrag behoort nou enige oomblik aan te kom.”

Die kamer waarin ons reeds twee nagte oorbly, is kaal en onvriendelik.

“Trek aan sodat jy kan sê waar jy die goed wil hê.”

“Watter ouens het jy soontoe gestuur? Nou sien hulle mos ons hele lewe, al my goed.” My oë voel nat en warm.

Hy maak ’n vuis en slaan met sy regterhand hard teen die kas. En weer. Iets splinter.

“Is jy mal!”

“Los my uit.” Hy trek sy gesig en vryf met die linkerhand oor sy vuis. “Dit gaan nie help om te huil nie. Shit happens, jy weet. Deal daarmee. Dit kon erger gewees het. Dit kon ons gewees het wat in ’n ongeluk was. Dis niks, man, dis mos net ’n spul meubels. As dit nodig is, ry ons more Rundu toe om ’n nuwe sitkamerstel te koop. Of wat ook al gebreek het.” Hy stap met kwaai bene uit.

Die kasdeur is gekraak.

Ek kyk hom agterna. Never mind dat die dinge in die trok vir my belangrik is, erfgoed van my ouma-hulle, onthougoed, bêregoed. Onvervangbaar, dis wat dit is. Ek vererg my oombliklik en trek ’n T-hemp en kortbroek aan. Skreef my oë teen die son toe ek uitstap. My hart klop soos ’n dieselenjin. Toe skud ek my hare oor my skouers en stap vinnig na die huisie onder die wildevy, ons huis, waar ’n Toyota-bakkie in ’n stofstreep rem. Die bak is hoog vol bokse en meubels gestapel. Die lug ruik die ene veld.

“Môre.” Die ou man buig byna en bied sy hand aan toe hy uitklim. “Ek is Phineas Napo. Ek bly ook hier. Ek kom mos al ’n lang pad saam met Louis. Van daai tyd naby Messina, was ek altyd by sy sites.”

“Môre, Phineas. Ek is Maja. Louis se vrou. Is alles oukei? Het iets gebreek? Kan jy my help?” Ek stap dadelik om die bakkie om te inspekteer.

Hy volg my. “Nee wat, ek dink nie so nie. Die lorrie het net op sy kant gaan lê. Miskien is die glasgoedjies ’n bietjie stukkend. Maar die groot goed is reg.”

“Is die ander bakkies op pad? Ek het so geskrik. Om nou op so ’n manier te begin. Dis vir my baie sleg.”

“Hulle sal nou-nou hier wees. Ek en Victor gaan solank hierdie goedjies invat. Jy moet sê waar sit ons dit neer.”

“Kom.” Ek voel soos ’n vrou wat kaalvoet oor die Drakensberge moet trek. Sonder ’n padkaart. My gedagtes gaan terug na Laura Ingalls Wilder se onstuimige lewe saam met haar gesin op die Amerikaanse prêrie. As sy dit kon doen, beter ek vinnig bykom.

Ons dra nader en sukkel om die twee bonkige rusbanke by die voordeur in te kry. Phineas skroef naderhand die deur af en maak dit teen ’n buitemuur staan. “Ons los die deur hierso tot ons klaar is.”

Die leefvertrek is klein; ons skuif en stoot die rusbanke rond. Die meubels wil nie hulle lê kry nie.

“Waar is Louis? Het jy hom gesien?” vra ek toe die banke uiteindelik staanplek kry.

“Nee, ek dink hy is terug na die lorrie toe.” Hy kyk op na my. “Louis het ’n harde lewe hierso. Hy moet almal se kak vat. Jy moenie kwaad wees vir hom nie. Is nie sy skuld nie.”

Ek stoot die een bank vas teen die muur. Is my gevoelens dan so duidelik op my gesig te lees? “Hy het nou net ’n gat in die kas geslaan, so kwaad was hy.”

“Ag, dis niks nie. Louis is nog oukei. Van die ander wit ouens hierso – hulle leef nog of húlle die kitaar slaan. En die manne hierso word almal kwaad. Dan slaan hulle. Party manne in die compound donner hulle girlfriends.”

Ek dink nie ek wil dit weet nie. My maag kramp en ek buig vooroor. Ek wil vir Phineas roep, maar hy is weer by die deur uit.

Die volgende bakkie arriveer. Hulle laai die vrag net daar in die stof af en draai dan terug vir nog. Ons sleep die een boks ná die ander die huis in.

Die laaste bakkie bring die bokse met breekgoed en potte.

Ek skrik my koud. “Phineas.”

“Wat is dit nou?”

“Hier is niks in die kombuis nie. Niks! Nie ’n kas nie, nie ’n rak nie. Hoekom het ek dit nie netnou al gekliek nie? Wat gaan ek maak?”

Ek stap uit en gaan sit op ’n hopie op my hurke in die stof onder die wildevy.

Hy stap agter my aan en sit ’n onbeholpe hand op my skouer. “Ons sal plannetjies maak, jy sal sien. Ons kan sommer nou-nou workshop toe gaan. Dan kyk ons wat lê daarso rond. Ek kan vir jou rakke bou, met planke en bakstene. Louis sal ook help. Hy maak planne vir almal. Dis niks nie.”

“Ek wil nie hierso wees nie. Dis nie lekker nie. Dis nie ’n plek vir ’n vroumens nie. Ek kan nie só leef nie. Ek hou van mooi goeters en mense en ordentlike huise en ek wil nie. En my maag is seer.” Druk my kop in my arms.

’n Klompie spreeus vlieg raserig op uit die boom.

Ek vee die stof met my T-hemp uit my gesig.

“Toemaar, toemaar. Thula nou, thula.” Hy tik steeds met sy hand op my skouer. “Ons sal sorg, ons sal ietsie maak. Toemaar.” Sy sussende woorde laat my bedaar. “Om nou te begin huil, gaan nie help nie.”

“Ek weet.” Ek snuif hard en vryf oor my maag. “Nou goed dan. Oukei.”

“Wag net hierso.”

Hy verdwyn. Ek dwaal in die halfleë huis rond en begin beplan waar die meubels moet staan.

“Hierso.” Hy staan in die voordeur. “Eet eers. Ek het netnou gemaak.” Hy gee vir my die enemmelbakkie oats-pap met twee hande aan.

“Dankie.” Dit brand die onderkant van my hande toe ek aanvat. Ek vat ’n groot hap. Gerusstellend soos ’n kniekombers in die winter. Suikerig, dit proe nes my ma s’n. Ek is verskriklik honger en eet met groot, haastige slukke.

“So ja. Mens kan nie werk as jou maag leeg is nie. Ek gaan kyk wat ons kan doen.” Hy stap kombuis toe.

Iets warms loop teen my been af.

’n Rooi straaltjie kruip soos ’n duisendpoot teen my bobeen en kuit af. Ek frons en vee met my vingers daaroor, ruik daaraan. Nog ’n straaltjie en nog een. Dit is bloed.

Die badkamer voel te ver. Oats-pap en bakkie val. Die knoop spat af toe ek my kortbroek oopruk. My panty is rooi, die adrenalien ruk deur my lyf. My nuwe blommetjiespanty. Ek gaan sit, kyk tussen my bene deur, probeer agterkom wat aangaan. Toe in my hande, goeie vader, is daar iets so groot soos my handpalm; dit kan nie wees nie.

Ek fokus op die warmte in my hande. Hy lê styf opgekrul in die bloed en slym, die ooglidjie blou deur ’n vliesie sigbaar. Skok en skuld dawer deur my. Ek kan nie ophou kyk nie. ’n Miniatuurbabatjie.

“Is jy daarso binne? Hoekom vat jy so lank? Kom, ons moet by die workshop gaan kyk.”

“Phineas.” My woorde loop saam met die bloed in die toiletwater in.

“Ek kan nie hoor nie.”

“Phineas, help my.”

“Wat moet ek maak? Hau.”

Ek hou die skulpie teen my lyf vas. Sit my bene teen mekaar en hou met die ander hand toe. Toe staan ek op, trek my kortbroek oor my bene en leun teen die muur. “Kom in.”

Die deurknop draai. Phineas kyk na die bloed op die vloer, die panty tussen my voete. “Dis ’n babatjie?” vra hy sag en vryf sy hande. Hy kyk sku weg.

“Ja,” steun ek en buig weer vooroor toe krampe deur my onderlyf skiet. Ek haal hard asem.

“Ek het al baie babatjies sien gebore raak. By my huis in Eshowe. Ek het my vrou gehelp, baie tye. Hoe ver was jy nou?”

“Ek … twee maande, of drie.”

“Is alles uit?”

Ek sak teen die muur af. “Ek weet nie. Wat bedoel jy, alles uit? Ek dink so. Wat moet ek nou doen? Ek weet nie wat om te doen nie.” Trane stroom warm oor my wange. “My kop voel ver. Ek kan nie opstaan nie.”

“Ek gaan tee maak vir jou daarso by my huis. Ek gaan hierso voor die badkamer vir jou ’n handdoek sit. Dan was jy mooi, dan drink jy tee. Ek kom nou.”

Ek kyk voor my, voel rou. Voel stukkend. Weet nie hoekom wat nou gebeur het nie. Die panty is deurweek. My voete vol bloed. Ek staan op. My kop styg op, word swaar, trek vloer toe. Ek gaan weer op my hurke sit. Op. Spoel die panty uit. Sit die skulpie daarop neer.

Bad vol water maak. Phineas se hand om die deur met ’n handdoek. Sy eie handdoek, bruin, ruik soos vuurrook. Ek gaan sit, draai die kraan oop. Bruin water, dank vader, bruin water spoel die bloed weg, maak alles skoon. Ek was my, sit my vingers in myself in en probeer alles uitkry wat vassit. Sit goed vas? My maag kramp en ek steun. Ek voel so moeg, so ontsettend moeg. Leun my kop teen die bad se rand. Slaap agtervolg my.

Phineas klop. “Kom nou uit. Jy kan nie net daarso by die bad lê nie. Ek het jou tee by die bank op ’n boks gesit. En Hendrik bring jou tas met klere van Single Quarters af. Kom uit, dan maak ek die badkamer skoon.”

Met die handdoek om my lyf gedraai, stap ek uit. Hou die panty saggies teen my lyf vas. By die deur kyk ek om; dit lyk soos ’n slagpale. Bloed op die vloer en teen die toilet. Word naar, vlug, vlug.

Phineas vat my aan die arm. “Toe nou, toe nou. Hierso. Drink die teetjies. Ek sal skoonmaak.”

Ek brand my lip teen die blikbeker, mors. Eina. “Jammer.”

“Ek gaan iemand stuur om vir Louis te gaan haal. Dat hy hierso kan wees by jou.”

Ek skrik, kyk op, mors weer tee. “Nee! Nee, asseblief nie, Phineas. Hy …”

“Hy weet nog nie.” ’n Stelling.

“Ja. Hy weet nog nie, ek het hom nog nie vertel nie.” Kyk af. “Ek wil nie hê hy moet weet nie,” smeek ek. “Moenie hom vertel nie, Phineas, asseblief, moenie. Louis het al klaar te veel worries. Hy mag nie weet nie; dis beter so. Hy hoef nie te weet nie, nooit nie.” Hoopvol. “Dis ons geheim.”

“Ek sal nie praat nie. Maar ek verstaan nie hoekom jy nie vir hom die dinge vertel nie. ’n Man moet weet.”

Ek kyk af. “Phineas, jy sal my moet help. Ek moet die babatjie … Ons moet hom iewers gaan begrawe. En ek voel nie lekker nie. Die bloed kom heeltyd uit my uit. Asseblief, help my.”

Hy staan op. “Ek gaan gou die badkamer skoonmaak. Jy sal moet klere aankry. Sit hierdie ander handdoek onder jou. Louis gaan nou-nou hier aankom. Bêre die babatjie; ons sal hom môre begrawe.”

Ek vou die panty oop en proe bloed in my mond. Dit kan nie wees nie. Hoekom het my lyf dit gedoen?

Vlerke klap in my bors. Motte bons teen my ribbekas. Iets soos ’n feniks styg op en ontsnap deur my mond. Ek hoor die plofgeluid van my asem. My kop sak terug teen die rusbank en my oë gaan toe.

Glipstroom

Подняться наверх