Читать книгу Glipstroom - Anemari Jansen - Страница 9

Soutpansberg

Оглавление

Toe die handdoek grond toe sak, sien ek in die halflengtespieël die gulheid van ons Nel-vroue se kurwes. ’n Bietjie selluliet op die bobene, nes my ma en my sus. ’n Helder, droë vel en oë die kleur van natgereënde blare. Bruingebrand van buite leef in die subtropiese klimaat. Ek leun nader. My wange is besonder rooi vanaand. Asof die gevoel in my lyf my laat gloei.

“Kos is reg.” Louis het ’n groenslaai en gebraaide skaaptjops saam met vars brood op die buitetafel gedek.

Ek snuif die braaivleisreuk in toe ek op die stoep kom. “Jis. Ek is nou flippen honger. Hoor hier, dis rêrig lekker as jy ’n slag vroeg by die huis is. Jou kos proe anders as myne.” Ek trek ’n stoel uit en gaan sit met ’n sug.

Sy glas is leeg. Hy skink weer wyn en antwoord nie.

“Het jy die boek van Kerouac op my bedtafel gesien?”

“Ek het. Hy was ’n tydgenoot van Ginsberg en Dylan. Waar het jy dit raakgeloop?”

Ek is beïndruk. “Dis die boek wat ek by die kunstenaar present gekry het. Ek het nie gedink jy sal dit ken nie.”

“Dis mos ons musiek gewees daai.”

Ons skep in, sit aan met die berg voor ons. Ek vat my tjop in die hand. “My ma-hulle het gebel, ons moet besluit waarheen ons Desember wil gaan. Suidkus of liewer Mosselbaai?”

“Ek weet nog nie of ek verlof gaan hê oor Desember nie.”

“Hoe bedoel jy nou?”

“Daar is ’n Botswana-job in die moeilikheid en hulle gaan regdeur werk. Ek het gesê ek sal kan toesig hou. Ons sal moet vasbyt daar.” Hy staar na die berg.

“Is jy nou ernstig?” Ek vryf oor my oë. “Ek was so lus om by die see te wees, sonder enige worries.”

“Wragtig!” Louis spring so skielik op dat hy die tafel vorentoe stamp.

Ek skrik, red my glas net betyds en kyk verstom na die vet bruin hond wat deur die ondertuin hardloop. Die ander honde in die omgewing blaf soos besetenes. “Wat?”

“Ek het gewéét dis ’n bosvark. Neels Erasmus wou nog met my stry, maar al die tekens was daar.”

“Waarvan praat jy?”

“Daar onder, man, uit die Erasmusse se tuin. ’n Helse grote. Hulle hele plek is omgedolwe. As hy eers gewoond geraak het aan groente in ’n dorpstuin, sal hy aanhoudend kom aas.”

“Maar is hulle nie gevaarlik so in die dorp nie?”

“Ja-a, maar eintlik baie sku. Hy sal dit waarskynlik net teen skemer of snags hier waag. Ek weet nie wat Neels daaraan gaan doen nie.” Hy gaan sit, eet verder met sy oë op die tuin. “By the way, al jou suurlemoenbome groei. Ek het gaan check.”

“Maar waar kom hy vandaan, die bosvark?” Ek vee die skaapvetjies om my mond met die servet skoon.

Louis rek oor en gooi die laaste druppels in die bottel in sy glas. Hy sluk dit behaaglik weg. “Van die berg af, dis hulle wêreld daardie. Gaan jy laat inkom van die vergadering af vanaand?”

“Nee wat, gewone tyd.” Ek staan met krom skouers op. “Bye.”

Louis strek sy hand uit na die koerant.

Kort ná sewe ry ek bultaf om Colette op pad na die dorpsbiblioteek by haar woonstel op te laai. Die breë strate stel nog die dag se hitte vry. Ek ry stadig en hou albei die voorste vensters oop om die geure van die skemer in te asem. Hier en daar werskaf mense in die tuin of in ’n garage. Die hele Louis Trichardt ruik na aandete. Vleis, rys en aartappels, pampoen wat aangebrand het. Kinders roep na maats in die strate. Op ’n kol skel iemand.

Louis se aankondiging aan tafel laat my angstig voel. Ek wil beslis nie oor Kersfees in die middel van die boendoes gaan sit nie.

By die huis op die hoek van Trichardtstraat hou hulle weer kerk in die garage. Altyd op ’n Woensdagaand. En altyd so tien mense, op plastiekstoele en met die garagedeure wyd oop. Soos my motor die draai vat, hef hulle ’n Hallelujalied aan. Die klanke van die yl sang dryf saam met my om die sirkel na Colette se woonstel.

Ek haal diep asem, toet en wag. Haar sandale klik-klak ’n oomblik op die geteëlde stoep voordat sy verskyn in ’n sagte geel rok en lang, los hare. Haar skraal skouers is kaal. Vir ’n oomblik trek my hart saam terwyl ek haar dophou soos sy nader stap. Colette is regtig baie mooi.

Sy groet vrolik en babbel oor die aand wat voorlê.

Ons vind parkeerplek onder ’n straatlig in die hoofstraat. Stap die entjie in na die klomp wat reeds in die biblioteek vergader het.

“Dames.” Hettie tik met haar pen op die tafel. “Goeienaand aan almal. Ek is bly ons is voltallig. Soos julle weet, moet ons vanaand die reëlings vir die kunsuitstalling finaliseer. En dan, ons voel geëerd om Lem de Swardt op ons komitee te ontvang.” Sy skuif die papiere voor haar in ’n netjiese stapeltjie. “Hy sal as gerekende kunstenaar geloofwaardigheid aan ons kunsuitstalling gee. Lem sal egter eers teen agtuur hier kan wees as gevolg van ander verpligtinge, dus sal ons solank voortgaan met onafgehandelde sake van die vorige vergadering.”

Aan die punt van die lang tafel is ’n stoel vir hom oopgehou. Die vergadering neem sy loop. Die vrou met die bril en die ronde rug praat te veel en te lank. Besluite word geneem. Ek en Colette loer vir mekaar en rol ons oë.

Toe Lem de Swardt opdaag, is die meeste werk gedoen en bespreek. Hy stap met lang treë nader. Sy teenwoordigheid is intens.

Dit veroorsaak ’n beroering in die atmosfeer om die tafel. Die vroue beweeg rond op hulle stoele, gooi hulle hare oor hulle skouers. Marlene lig haar wenkbroue en plaas haar ken in haar hand om hom beter te beskou. Hy steur hom nie aan die fladdering nie, kyk vlugtig na my en Colette, groet en neem plaas op die oop stoel. Hettie glimlag in sy rigting en vra dat hy sy aandeel verduidelik in die uitstalling wat Oktober in die ou Barclays-bankgebou oorkant die biblioteek plaasvind.

Ek hou van sy stem, nes die eerste dag toe ons op sy stoep gesels het. Donker en warm. Soms maak hy oogkontak met my en Colette waar ons oorkant mekaar sit.

Hy hou die vroue in die holte van sy hand. Hulle adem hom in.

Ek ril. Die volmaan is sigbaar deur die breë biblioteekvenster voor my. Met die maan gepla, dink ek en loer na Colette. Sy is onbewus van enigiets behalwe Lem en sy hipnotiese woorde.

Ná die vergadering drink ons tee en eet Marlene se botterbroodjies met tuisgemaakte appelkooskonfyt.

’n Vrou keer my voor by die teetafel. Sy balanseer haar koppie en bord op een hand en draai ’n heup in my rigting. “Mens, ek wil nog met jou gesels oor die bespreking van ons volgende boek.” Ek eet ’n tweede botterbroodjie met die hand en loer uit die hoek van my oog na Lem.

Elke vrou in die vertrek wil sy aandag opeis.

Hettie kom onverwags langs my staan, haar oë ook op hom gerig.

Die vrou draai weg en trek haar rok reg voordat sy in Lem se rigting dwaal.

Hettie wag tot sy buite hoorafstand is. Sy ruik na parfuum en motballetjies en appelkooskonfyt.

Ek trek my wenkbroue op.

“Hy maak die baba Jesus in vroue wakker,” fluister sy. “Gevoelens van vertedering. Ek ken sy soort. Vroue wil hulle vertroetel en mak maak. Maar dis als verniet. Julle jonges moet ligloop vir daardie man.”

“Hy maak wát?”

“My kind, hy is ’n rokjagter. Móéilikheid. Mark my words.” Net so skielik is sy weer weg.

Ek kyk haar verstom agterna. Het sy die kennis in boeke opgedoen of deur ondervinding? Hettie met haar sedige haredos en dienlike rokke. Tog. Die glinstering in haar oë soms en nou dié aanmerking. Ek glimlag. Die baba Jesus, nogal.

Dit lyk asof Lem die aandag van die vroue geniet. Hy bly ernstig en fokus op elke vraag. Kyk hulle diep in die oë en raak soms aan ’n skouer of ’n elmboog. Ek hoor flertse van sy gesprek met die verbystap om my leë teekoppie kombuis toe te neem. Hy brei passievol uit oor sy navorsing. Dat hy in sy nuwe skilderwerk Jung se argetipes deur middel van gewone omstandighede wil verbeeld. Die vier komponente: die anima, die skadu, die ego en die persoonlikheid. Simboliek stewig geanker in die werklikheid. Want net onder die oppervlak van ’n mens of ’n skildery of wat ook al is daar diep, versteekte wortels van betekenis, sê hy. Hy wil dit alles ontgin. Dit lyk vir my asof elke vrou met wie hy gesels haarself wil aanbied as ’n objek van ontginning.

“Dis heeltemal weg van jou styl soos ek dit kan onthou,” praat Colette deur sy verduideliking heen. “Jy is dan altyd besig met geboue en interieurs. Ek het nog nooit gesien dat jy op figure fokus nie.” Sy draai haar lyf heeltemal na Lem terwyl sy praat. Behou oogkontak met net hom. Haar regterheup dy uit. Die ander vroue vervaag.

Lem kyk af, verskuif sy voete. “Dit is seker so. Maar in ’n sin is dit ’n voortsetting van die werk waarmee ek besig was. En vandat ek op die plaas is en weer kans het om die grond met my hande te bewerk, is ek bewus van die sensualiteit van die vrugbare omgewing waarin ek leef. Ek het ’n drang om dit te verbeeld. En die manier, hierdie keer, is om die beelde in my kop in figure te vergestalt.”

“Watter beelde …?” begin iemand.

“Jy moet saam met my uitry Schoemansdal toe. Daar is die interessantste ou geboutjies in daai omgewing. Jy sal soveel sien wat jy wil skilder, ek weet mos.” Colette se oë vernou. “Sê net wanneer jy tyd het. Ek kan jou kom haal ook.”

“Dis ’n deal. Ek ry graag saam.”

Colette straal. Die ander komiteelid smeer ’n botterbroodjie dik met botter en druk dit heel in haar mond.

Ek vind ’n boek oor origami tussen die rakke. Toe ek dit oopmaak, is daar iets soos sproete op die papier. Ek hou my gesig tussen die bladsye en asem die woorde diep in. As mens duisend kraanvoëls vou, kan jy ’n wens wens.

Ek kry die gevoel dat iemand na my kyk. Met die omdraaislag staar Lem se swart oë reguit en ernstig na my. Of altans, deur my. Dit lyk asof hy my nie raaksien nie – eerder iets waarvan ek nie bewus is nie.

My hart stoot soos sooibrand in my keel op. Dit is dan Adriaan se kyk daardie, Adriaan se manier met my gewees. Dít is aan wie Lem my heeltyd herinner. Al daardie jare gelede toe ek nog ’n student was en die wêreld jonk en spelerig. My bene steier, ek gaan sit eenkant op ’n bank met my gesig na die maan in die venster. In ’n skadukol, nie sommer sigbaar van die tafel af nie. My gedagtes galop soos wegholperde. Geen keer aan die emosies en herinneringe wat loskom nie. Ek slaan my arms oor my bors en leun met toe oë teen die bank terug.

Die keer lank, lank gelede, toe Adriaan, fris en geliefde boerseun, die tentseil vir ons tussen doringbome op hulle plaas gespan het. Effens skeef na links. En hoog genoeg vir sy voertuig om later daaronder in te pas.

Die bos was ruig en groen, die seil byna onsigbaar. Dit was reg vir die aand se staning. Hy het my vertel hoe hy vir oulaas seker gemaak dat hy die plek weer sou kry in die donker. Die bosveldbome en plaaspaaie het vir my almal dieselfde gelyk. Hy het na merkers gesoek en ek het na die spiere in sy voorarms gekyk terwyl hy bestuur.

Adriaan. My jong liefde. Met die ondergaande son het hy die dorp binnegejaag. Ek het met ’n hart wat dawer vir hom op ’n vreemde kerkterrein tussen oorblyfsels kermiskos, plastiekstoele en ’n pannekoektafel gewag. Ooms en tantes het opgeruim en kermisstalletjies afgeslaan. Pa, Ma en Maryke vergete reeds weg saam met die vriende by wie ons die naweek op die platteland deurbring. Pa en Ma se oudste dogter wat die aand by universiteitsvriende sou oorslaap.

“Was hier sweepslaan?” het hy gevra. “Ek was altyd koning daarmee.”

Ek het probeer seker maak dat niemand in die gemeente sien hoe ek oomblikke later saam met die jongeheer Adriaan Meiring in sy plaasbakkie klim nie. Ter wille van. Hy het vetgegee met die uitryslag en die koppe het in ons rigting opgeruk.

Die heelal, die hemel en alle engele het gesing vir ons twee daardie aand. In die maan se glybaan deur die somernag. Ek het langs hom op my rug gaan lê en gevoel hoe stewig die sponsmatras is wat hy gekoop en knus gesny het om in sy bakkie te pas. In sy nek het ek die son geruik, skoon soos ’n grasveld. In my arms was hy onmoontlik bonkig, vreemd, gespierd.

Daar was twee blikkies Doom byderhand wat talle kere rondgeswaai is deur die loop van die aand. Hoe helder kan ek nie die reuk onthou wat jou eers laat verstik en dan net so skielik weer vervliet nie.

Deur ’n opening in die ruigte was ’n huis sigbaar. Die plaashuis, wat volgens Adriaan deur ’n klomp hippies bewoon is, so vyftig of wat meter weg. Binne-in het ’n vrou met die lyf van ’n wintermuskiet tydsaam rondbeweeg. Voor ’n verligte venster, in hoëhakskoene, met ’n pienk japon aan.

Teen die nanag het dit begin khiza, ’n getrippel op die seil. Adriaan het my saam met hom omgedraai, my in sy warm, harige jong manslyf toegevou. Die eerste keer met ’n manslyf so styf teen myne. Sy linkerhand was oor my bors, die regterarm lankuit onder my hare. Ek het my asemhaling met syne probeer sinchroniseer. Ek het aan Pa en Ma probeer dink. Ek het my oë probeer toemaak en slaap. Net mooi niks het gehelp nie. Elke keer wat Adriaan beweeg het, was my lyf in ligte laaie.

Die water het naderhand van die seil afgetap en op ten minste ses plekke op die matras gedrup. Ons moes vou en pas om droog te bly. Toe sy hand warm tussen my bene gaan lê, het my hart by my keel uitgevlieg.

Ek skuif rond op die bank toe Marlene kom groet, knik en waai halfhartig. “Tarra, julle. Lekker slaap.”

Niks aan die aand voel reg nie. Eers was dit Louis se aankondiging en nou die vroue wat openlik aan Lem se lippe hang. Ek het nie eens ’n kans gekry om weer met hom te praat nie. Hel, en wat traak ’n ander man, ’n kunstenaar, my in elk geval? Ek frons en voel so geïrriteerd dat ek nie kan stilsit nie.

Een ná die ander begin die vroue huis se kant toe staan. My verbeelding is op loop, ek hoor weer Adriaan se stem.

“Daar is negentien dinge wat ek vir jou wil sê,” het hy slaperig in my oor gebrom.

“Net negentien?”

“Ja. Dis genoeg vir vanaand.”

“Ek wag.”

By die huis langsaan kon ek vaagweg sien hoe ’n man rondstrompel. ’n Bleek hond het op sy spoor gedraf en die wintermuskiet in pienk het deur die venster gestaar.

Die matras was skurf aan die onderkant omdat ons voete vol sand was. ’n Muskiet op my toon. Adriaan se diep stem in my oor. Sy bonkige buitelyne in my hande. En daardie donker oë wat so reguit en ernstig kon kyk.

Sy mond was soos ’n jagter. Watter dier sou ek wees?

“Jy’s ’n bokkie.” Sy mond het my bekruip, uit die ruigtes gejaag, vasgepen.

Hy het weer Doom gespuit. My nek gestreel.

“Slaap weer ’n bietjie. Dis nog vroeg.”

Ek het probeer. Maar die gevoel van sy duim in die kuiltjie van my keel. Sy slim vingers oor my koorsige lyf.

Dit het harder begin reën. By die huis langsaan het iemand ’n trompet gespeel. Een van die hippies het hoog en mal gelag. Die agterdeur het oopgegaan en veraf onder die kring van die kombuislig was iets soos ’n man met ’n kitaar en ’n rooikopvrou. Afgesluit in hul eie geheime, nag lange spel. Die wintermuskiet het in die vensterbank gaan sit en haar hare om haar vingers gedraai.

God, reën, water, sterre, semen. Ek het die aarde in my bors gevoel en die geweld daarvan. Here, net nie huil nie. Nie nou al nie.

Teen eerste lig het Adriaan geslaap. Ek het teen die matras af gekruip en van die bakkie afgespring om te gaan piepie. Gebukkend gestaan met een hand teen die bakwerk. Ek het afgekyk tussen my bene. Tjoepstil het die geel vloeistof tussen takkies en veldgras weggesyfer. ’n Paar warm druppels teen my kuit. Die grond was koud onder my voete en die lug was hol.

Ek het teruggekruip na sy warm hande. Die jagter het die bokkie se bloed gevat en dit aan sy wange gesmeer.

The insatiable incontinence of desire, het ek iewers gelees.

In die plaashuis langsaan het dit stil geword. En rondom ons het die bos wakker geword.

Colette wag by die voordeur; Hettie is reg om te sluit. Die res van die kunskomitee is al vort. Ek draai om van waar ek voor die venster heen en weer begin loop het.

“Jammer, julle, lekker slaap, sien jou in die week,” mompel ek in Hettie se rigting en maak spore na die motor terwyl Colette op ’n drafstap volg.

My regtervoet lê met ’n moedswilligheid op die petrolpedaal terwyl ons deur die stil strate skiet.

Colette kyk skuins na my. “Is jy oukei?”

“Ek is maar net die moer in vir Louis. Hy is letterlik nooit meer by die huis nie en wanneer hy daar is, is hy omtrent so vriendelik soos ’n buffel met hoofpyn. Ag, ek weet ook nie. Ek mis maar net die óú Louis. My kop is deurmekaar. Sorry. Kan ek jou sommer hier op die hoek aflaai?”

“Dit klink rof. Arme jy. Ek voel weer so opgewonde; Lem en ek gaan die naweek Schoemansdal en Buysdorp toe. Lekker. Nou kan ek heelweek daarna uitsien. Hy gaan baie inspirasie kry, miskien sommer vir ’n nuwe reeks. En wie weet, ons kan dalk by die museum van sy skilderye uitstal. My kop is nou so vol idees!”

Ek trap die rem. “Bye.”

Louis se lyf is warm en slaperig. Hy lê op sy rug en snork.

Ek roer aan sy skouer, maar hy reageer nie. Toe skuif ek na my helfte van die bed en draai weg van hom, stil, sodat hy nie die bed sal voel beweeg nie.

Nie eens ’n koppie rooibostee in die kombuis kon my hart die mal pas laat markeer nie; dit is aan die bokspring. Waarom sou ek juis vanaand van my eskapades met Adriaan onthou, daaroor dagdroom? En dit alles gemeng met ’n seevakansie wat ons dalk nie gaan hê nie en Louis wat deesdae net slaap, werk of fietsry. Lem omring deur al wat vrou is. Lem wat moeilikheid is.

My lyf trek styf en ek ril. Ek skuif van die bed af en gaan haal die duvet in die spaarkamer. Die lug ruik na vermolmde blare en grond toe ek die voordeur oopstoot. Ek krul op onder ’n boom en wag vir die naguiltjies om te begin roep.

Glipstroom

Подняться наверх