Читать книгу Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez - Страница 5

3

Оглавление

Ek moes omtrent vas geslaap het van die pilletjie wat ek uit moedeloosheid in die nanag afgesluk het, want ek is baie deurmekaar toe ek wakker word. Maar ek weet dadelik iets is fout. Dis hopeloos te stil. Ek gooi die beddegoed van my af en strompel kombuis toe.

En daar, breed op my kombuistafel, sit die oorsaak van die stilte en my onrus. ’n Yslike swart kat.

En nee. Hy skarrel nie weg nie. Sit net daar en staar my aan met geelgroen glow-in-the-dark-oë in die oggendskemerte. Nou kyk, ek is erg mal oor katte, maar nie hiérdie lid van die spesie nie. Nee. Hierdie een het kom moeilikheid soek.

Ek gryp die groot meelsif wat langs die stoof hang en gooi hom daarmee. Met verstommend akrobatiese grasie seil hy tot bo-op die yskas. Die melkbottels klingel gevaarlik, maar hy glip buitentoe – dwarsdeur die diefwering aan die boonste klein venstertjie, wat altyd oopstaan omdat niemand daar kan bykom nie. En terwyl ek hygend en blasend rondsoek vir nog goed om te gooi, raak ek bewus van die feit dat die slaapkombersie halfpad teen Naas se hok af hang.

Naas!

Ek sien die deur van die hok hang ook skeef oop. Seker saam met die kombersie uit die hakies losgeruk. Ek is te bang om te kyk.

Naas?

Die hok is leeg. Hy is weg. Ek swaai om en begin koorsagtig oral soek. Bo-op die kaste. Nêrens. Dan laer af. Voëlsaad klou aan my voetsole. En ’n paar veertjies. Ag, genade.

Ek sak neer op my kniekoppe. Wat gaan ek vir oom Heydenrych sê? Die gedierte het Naas klaar opgevreet. Geen wonder hy het my met soveel genoegdoening aangestaar nie. Derduiwel!

Die gedagte laat my met ’n vaart orent kom en buitentoe storm. Na my buurman se gedeelte toe, want dis sweerlik waarheen die verdomde kat koers gekies het. Ek ruk die hekkie oop en gaan hamer teen die voordeur. My asem jaag en ek maak my reg om hom behoorlik sy fortuin te vertel. Wie het hom verlof gegee om so ’n roofdier aan te hou? Hier reg langs Naas? Sekerlik nie oom Heydenrych nie?

Ek laat my vuiste weer tamboer teen die hout. Luister ongeduldig. Magtag! Sou die verdomde man dan nog slaap? Ek merk op daar is wel ’n afgeslyte ou koperdeurklokkie in die dik kosyn, en ek druk dit met mening. Dit raas blikkerig binne die huis, maar niks roer daar binne nie. Het die bleddie mal krimineel ooit van sy nagtelike eskapade teruggekom? Ek het niks gehoor nie.

Ek tree vorentoe om te kyk of ek iets deur die venster kan uitmaak. En daar is hy! Op die vensterbank sit die kat en kyk my aan. Vermakerig so agter die ruit, met sy geelgroen oë. Ek dog ek bars ’n aar.

Kyk, ek is nie een wat maklik verloor nie, so ek draai om en gaan haal met stywe treetjies skryfgoed in my deurmekaar laai. Ek skryf.

Beste

Nee, hy is verdomp nie my “beste” nie …

Geagte meneer

Wat het Moira nou weer gesê is die vent se naam? Borinson? Kom nou, Lily, jy behoort te weet … Oberon? Ag, bog. Wie gee om? Sommer “Buurman”. Ja. Néé. Dan weet hy waar ek bly.

Geagte eienaar

Ja. Dit sal moet deug.

Neem asseblief hiermee kennis van my eerste klagte rakende u kat.

So ver my kennis strek, word troeteldiere nie hier toegelaat nie. Indien u nie die dier maniere kan leer en tuis hou nie, sal ek verdere stappe moet oorweeg.

Die uwe

Dr. Lilian Beekman

beekmanl@gmail.com

083 46

Nee, wag. Ek gaan nie my selnommer vir die vent gee nie. Ook nie my adres nie. Nee. Nooit ’n goeie idee nie. Wil buitendien nie heeldag en aldag gebel of opgeklop word nie. E-posse kan ek antwoord wanneer dit my pas.

Toe ek die briefie langsaan in die posbus gaan druk, sit Mister Dikgevrete Kat nog daar binne op die vensterbank. En ek moet maar tevrede wees met die vaste voorneme om anderdag met hom af te reken.

Ek is net terug in my kombuis en besig om vir my bietjie tee te maak vir die skok, toe hoor ek dit. Iets krabbel fyntjies. Swakkies. Dit kom van agter die spul ou teeblikke bo-op die besemkas. Ek sleep ’n stoel soontoe en klouter op.

Een van die blikke het op sy sy agter die ander ingerol en die deksel lê eenkant. Binne-in sit ’n patetiese bondeltjie vere. Ek is te bang om aan hom te vat. “Tjorts fedorie,” piep die bondeltjie uit die dieptes van die blik. Naas.

Ek moet haastig van die stoel afklim, want my bene is heeltemal lam van die skielike verligting.

* * *

“En dit?” vra Dricus toe ek ’n paar uur later met Naas, hok en al, by die werk aankom.

Ek vertel hom die storie terwyl ek die hok ophang aan die haak in die hoek waar daar op ’n tyd ’n potplant gekwyn het.

“En nou?” wil Dricus weet.

“En nou? Nou is dit óórlog. Glo my.”

“Hectic,” merk hy op en loop in die kombuis se rigting.

Gelukkig kondig die dreamcatcher by die deur die aankoms van ’n kliënt aan, anders het ek dalk ’n paar lelike woorde bygevoeg. Ongelukkig is dit Mevrou Besluiteloos van nou die dag. Om dit als te kroon, storm sy op my af. Met ’n prentjie.

“Ek is seker iemand soos jy sal dit vir my kan nadoen?” Vreeslik in haar skik hou sy die blaaitjie na my uit. “Onthou jy nog dié?” Toe ek haar stomgeslaan bly aankyk, verduidelik sy geduldig, soos vir ’n kulturele idioot: “Dis Japannees? Uit die seventies?”

Sy probeer ’n ander aanslag. “Dis Hello Kitty. Verskriklik cute, nè?”

“Verskriklik,” sê ek en vat tandeknersend die prentjie van die katgesiggie by haar en gaan sit agter by my werkstafeltjie daarmee.

Uit die hoek van my oog kan ek sien die vrou begin sterk wonder oor die teenwoordigheid van al my varkies, sowel as haar keuse van studio. Ek sou ook. En toe Naas boonop onverwags vanuit sy hoek lostrek met sy gunstelingversie van “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, lyk dit asof sy deur se kant toe wil neig.

Gelukkig kom Dricus agter die kombuisafskorting uit en beredder die saak deur vir haar een van sy nagemaakte leerstoele en ’n voosgevatte Woman & Home aan te bied.

Maar teen die tyd dat Naas oorgeslaan het na die Afrikaanse gedeelte van die volkslied, net toe Thuli by die deur ingeborrel kom, laat vaar die arme mens alle pogings om te maak of sy lees. Haar oë is wydgesper en sy klou die tydskrif op haar skoot vas met die greep van iemand wat op die vlug wil slaan.

Ek moet sê, Thuli van kop tot toon in geel-en-swart gestreepte lycra, met ’n kort blonde pruik effens skeef op haar kop, is nogal ’n gesig wat sterk manne oor dinge kan laat twyfel. Soos swaartekrag en wilskrag en ’n hele paar ander goed.

En om seker te maak dat ons niks van haar bates mis nie, gooi Thuli boonop ’n pirouette in die deuropening wat Tretchikoff se ballerina haar nie sou kon nadoen nie. Sy bly staan en wag vir ons reaksie.

“Verskriklik cute, nè,” sê sy.

“Verskriklik,” sê ek.

Thuli trippel nader en kry my aan die pols beet. Ek wil nog teëstribbel. “Kom,” sê sy en rem my kombuis toe.

“Ek het dit eintlik vir jóú gekry hier oorkant by Hair by Mona,” sê sy, “want ek weet jy gaan nog cuter as ek lyk daarmee.” Sy pluk die pruik van haar kop af en haar krulletjies spring parmantig orent. Ek probeer keer, maar mens wen nie maklik met Thuli nie. “Nee, komaan, Lily,” sê sy en woel my eie haardos plat. “Dié hairstyle van jou is lankal tired,” hou sy vol terwyl sy die ding op my kop plak en tot by my ore afrem. En ek weet presies hoe ’n lam ter slagting moet voel.

“Sien? Supercute!” Thuli pluk-pluk aan die kuifie soos ’n trotse mamma. “Dis lankal tyd dat jy ietsie nuuts try!”

Toe die dreamcatcher aandui daar is iemand wat wil inkom, los sy my net so, spring rats binnetoe en gaan sit op die naaste stoel. Daar gebeur min genoeg hier rond en sy gaan duidelik niks mis nie. Sy draai in my rigting, beduie iets en rol haar ogies vir my om te kom kyk.

En toe ek om die deur loer, weet ek wat haar so op hol het. Ek bly net daar staan. Haal nie die pruik af nie, want ek weet hoe my eie ou haartjies dán sal lyk, en daar is darem nog standaarde. Want die man wat ingestap het, is nogal iets. Dit kan selfs ek sien, al is my uitsig meestal van sy rugkant.

Ligte hare, so nie juis my cup of soup nie, maar tall, dark and handsome én onder sewentig is nie aldag hier in Vishoek te siene nie. So. Nie dat ek juis in mans belangstel nie, maar ek is ook nie blind nie, en ons kunstenaars sien mos maar altyd iets moois raak. Ek kan sien Mevrou Besluiteloos neem ook daar en dan ’n besluit om te bly sit net waar sy is.

Net Dricus staan nader, want die res van ons is vasgenael. Veral toe ons hoor wat die man wil hê.

“Kyk, ek weet nie of jy my kan help nie. Ek het ’n geweldige fout gemaak,” verduidelik hy. “Ek het iemand se naam op my arm laat aanbring en nou dryf die persoon my heeltemal tot raserny. So. Ek het net kom hoor of ’n mens so ’n tatoe kan verander?”

“Laat ek sien?” vra Dricus.

Thuli skuif ongemerk nader en Mevrou Besluiteloos sit die tydskrif neer. Ek onthou die artikel wat ek gelees het van Johnny Depp wat sy tatoe WYNONA FOREVER laat verander het na WYNO FOREVER, en maak of ek my tekkie se veter vasmaak. Nou wil ek ook niks mis nie. Die man begin sy hempsmou oprol, maar dis denim en hy sukkel.

“Ag, trek maar die hemp uit,” stel Mevrou Besluiteloos voor, “ons gee nie om nie.”

Vir die eerste keer stem ek met haar saam oor iets, net toe ’n selfoon iewers begin lui. Dricus draf na sy lessenaar, Mevrou Besluiteloos gryp na haar handsak en Meneer Tatoe laat vaar sy pogings met die hempsmou en pluk sy foon uit sy jean se gatsak. Al drie besef gelyktydig dis nie hulle foon nie en kyk verleë rond. Net ek besef wat dit is. Ek probeer my dom hou, maar dis duidelik waar die gelui vandaan kom. Dis Naas. Oom Heydenrych het daardie diedelie-diedelie-die-luitoon.

Gelukkig hou Naas op met lui.

Die man vat-vat weer aan sy hempsmou, en besluit dan om te maak soos Mevrou Besluiteloos voorgestel het.

“Wel … as niemand omgee nie,” begin hy huiwerig losknoop. Ons is vasgenael, maar hy kom net drie knope ver, en net daar ruk Naas geheel en al handuit. Wip op en af op sy stokkie en kwetter soos ’n boom vol vinke. “Oor ons ewige gebergtes!” sing hy luidkeels. Almal draai na hom en daar staan ek soos die ma van ’n kleuter wat amok maak in ’n porseleinwinkel, en met iemand anders se blonde pruik op.

Dricus gee my een verbysterde kyk en stuur my en Naas liefs huis toe vir die middag.

“To come to terms with this morning’s trauma,” sê hy.

So wat die girlfriend se naam is, sal ek seker nooit uitvind nie. Al wat ek kon uitmaak toe die man moes skuins draai om een arm halfpad uit sy mou gewikkel te kry, is dat dit begin met ’n M en eindig met ’n N of iets, in Gotiese krulletters hoog op teen sy gespierde boarm. Ek wou nog mooi kyk, maar ek moes haastig by die deur uit met verdomde voëlhok en al terwyl Naas sy solo lustig afsluit met: “Waar die kráááánse antwoord gee!”

* * *

Dit hou my heelnag wakker. Nee. Nie Naas se aanval van musikale patriotisme nie. Ook nie die feit dat ek moes erken dat Thuli reg is oor my hare nie. My weerkaatsing in die bespikkelde badkamerspieël was nogal glad nie onaardig so met die vals blonde haardos nie. Toe ek dit afpluk, kon ek duidelik sien sake was beter toe ek dit opgehad het. Maar dis nie wat my wakker hou nie.

Ek kan nie slaap nie, want my kop wil nie tot ruste kom nie. Nie voor ek gedink het hoe om die man se ongewenste tatoe in iets anders te omskep nie. Kruis van die kunssinnige. Die geworstel met oplossings vir enigiets wat visueel van aard is. My brein het nog nie die boodskap gekry dat ek klaar is met kuns nie. Die stomme ding is skoon verward.

Ek boks die kussings in toom en wonder oor meisiename met M’e en N’e. Marina? Nee. Marion? Marian? Die M kan dalk vlerke word? Ja. Maar wat van die res? Nee, liewer die hele naam omskep in ’n oopbek-tier. Hmm … Ek teken dit in my kop. Huh-uh. Eerder ’n swart luiperd? Ja. Dit kan werk. Meer pigment om mee te speel. Of … Liewe genade, Lily! Kan iemand asseblief ’n boodskap na die betrokke lob van my ooraktiewe breintjie stuur?

Ek skakel die lig aan. Die feit dat dit baie sou gehelp het as ek geweet het wat die meisie se naam is, plus die feit dat dit net mooi niks met my te doen het nie, maak geen verskil nie. Ek gaan maak tee en klim weer in die bed met my tablet.

Daar is hordes hartseer stories op die internet oor mense met “tattooer’s remorse”, met prentjies by. Wie sou dit nou kon dink? Meneer Depp het dit al ’n tweede keer gedoen, sien ek. Die tatoe van sy troetelnaam vir Amber Heard, SLIM, is summier verander na SCUM. Wys jou net. Wanneer liefde draai, word dinge maklik lelik. Vra my.

* * *

Ek word ure later wakker met die tablet op my bors en ’n oplossing in my kop vir die arme tatoeman se probleem. Ek sien dit so duidelik voor my geestesoog dat ek dadelik opspring en my ou sketsboek en ’n paar potlode gaan uitgrawe. Ek weet al uit ondervinding dat mens nie moet wag vir die dag van môre as so ’n briljante idee kom aanklop nie. Want môre kan jy niks onthou nie.

Ek slaap glad nie verder nie. Toe dit lig word, is ek niks vaak nie en ek maak koffie.

Gevolglik gebeur daar iets wat nog nie tevore gebeur het nie. Ek daag eerste op by Exotic Tattoos.

“En dit?” vra Dricus toe hy aangestap kom. “Het jy in die bed gepiepie?”

“Dis nie nodig om snaaks te wees nie, Dricus. Dis nie aldag wat mens inspirasie kry nie.”

“O hel,” sê hy terwyl hy oopsluit, “ek is te bang om te vra, maar ek kan sien dit sal nie help nie.”

“Doringtakkies,” blerts ek dit uit nog voor hy behoorlik sy sit kan kry. “Pure genius, huh? Al moet ek dit self sê?”

“Doringtakkies?” Ek kan sien Dricus dink hy weet nou iets waaroor hy nog altyd gewonder het.

“Ja! Só gepas vir die man se situasie!”

“Ek is bly om te sien jy is uiteindelik weer opgewonde oor iets, Lily, maar waarvan praat ons?”

“Die man, dommie. Die een met die verkeerde tatoe. Kyk!”

Ek ruk my sketsboek uit en plak dit voor hom neer. Beduie. “Sien? ’n Hele halfmaan krullerige, dekoratiewe doringtakkies. Die M word ’n takkie vol dorinkies en dit krul so oor die ander letters tot by die N, en dan …”

“Doringtakkies, Lily? Dis jou idee van genius? Rêrig?” Die kyk in Dricus se oë is gevaarlik naby aan bejammering.

Ek sak terug op my hurke, my borrel geprik. Ek wat op papier baie meer van kuns behoort te weet as hy. Hier doen ek dit al weer. Soek goedkeuring vir my werk by ’n verdomde man. Nothing has changed, Lily Beekman. Geen wonder jy kon nog nooit jouself laat geld …

“Wag nou, wag nou,” keer Dricus toe hy my gesig sien. “Dis te veel so op my nugter maag! Almal weet van NFBC. Oukei?”

“Askies?”

“No Focus Before Coffee, Lily.”

En ek dog ek kry ’n toeval, want hy kyk verlangend bo-oor my sketsboek in die kombuisie se rigting. Ek is so uit die veld geslaan dat ek nie dadelik agterkom dat ons mos nou hier besig is om oor ’n waterskeidende grens in my huidige beroep te tree nie. En ek gaan maak vir my baas koffie.

Dis eers toe sy koffie op is, dat Dricus die durf het om my die waarheid te vertel.

“Doringtakkies en doringdraad wat om die boarm krul, is omtrent so passé en common soos kan kom, Lily. Sorrie. Buitendien, hy het gister geloop. Net na jy hier uit is met Naas.”

“O,” sê ek en klap my sketsboek toe. “En het hy gesê wanneer kom hy weer?”

“Nee. Nie sommer gou nie, soos dit vir my gelyk het. Hy is sonder ’n verdere woord hier uit.”

“Oor Naas?”

“Ja, wel … e … die feit dat Mevrou Hello Kitty en Thuli die arme kêrel feitlik oopmond aangestaar het, terwyl Naas die volkslied sing, het moontlik bygedra tot sy besluit om elders te gaan hulp soek. Onder meer.”

Ek kry skaam. Net waar ek gaan, maak ek amok.

“Sorrie, Dricus,” sê ek, “nog koffie?”

Ek is dankbaar toe hy knik, net toe die dreamcatcher die aankoms van ’n bestaande kliënt van hom aankondig en ek ’n rede het om na die kombuis te vlug. Voor ek dié ook verwilder.

* * *

“By the way, wat was die naam op die man se arm wat hy wou laat afhaal?” vra ek later toe ons weer alleen is.

“Not a clue,” sê Dricus, “alles was so deurmekaar, ek het nooit die ou se tatoe mooi onder oë gekry nie. Iets met ’n M? Hoekom pla dit jou so? Dis nie die eerste keer dat iemand ’n tatoe wil laat verander nie.”

Ek trek my skouers op. “Wel, dis mý eerste keer.”

“Hmm … dalk omdat hy nogal ’n dish is? Of hoe?”

Ek vervies my. “Nee, Dricus. Ek sou dieselfde gevoel het as dit ’n vrou was.”

“O, rêrig? Nou hoekom het jy dan heelnag daaroor gewonder?”

“Want dis hoe my kop werk. As so iets my pla. Ek wil dit oplos. Klaarmaak. Soos ’n blokkiesraaisel of ’n puzzle.”

“Toemaar wat,” sê Dricus, “vergeet nou maar daarvan. Ek twyfel of ons ooit weer van hom sal hoor.”

Die dreamcatcher klingel weer.

“Hoekom lyk julle so? Is iets fout?” vra Thuli in die deur.

“Nee, net Lily wat nog steeds worry oor gister se ou met die verkeerde tatoe.”

“O ja! Shame.”

“Ek wonder maar net wat die naam op sy arm was. Omdat ek …”

“Uh-huh.”

Ek hou vol: “Weet jy wat dit was? Marion? Marlin? Ek kon nie mooi sien nie en ek wou nie stáár soos sekere mense nie.”

“Jip.” Sy pluk haar selfoon uit haar pienk stretch denim se agtersakkie en hou dit na my toe uit. “Ek het ook palpitations gekry tot ek kans gehad het om dit mooi te bekyk.”

Mooi duidelike foto. Die digte bos hare. Die trotse profiel. Die tatoe net-net sigbaar waar die hemp afgeskuif hang oor een skouer.

MARTIN. In daardie Gotiese krulletters.

Thuli rol haar oë.

“Pity,” sê sy.

“Laat ek sien?” Dricus kyk lank. Ek kan sweer hy kry ook ’n palpitation of twee.

“Dóringdráád,” prewel ek en gaan kry liewer die koffiebekers reg in die kombuis.

Maar Thuli het snuf in die neus.

“Waarvan praat sy?” vra sy vir Dricus.

“Sommer iets vir ’n blokkiesraaisel,” antwoord hy droogweg. Iets waaroor ek al gewonder het, is nou vir my duidelik: dat Dricus meer van mooi mans as van vrouens hou. Nes ek.

Nogmaals lui die dreamcatcher. Dit word al amper vir my oulik, dink ek terwyl ek afgetrokke agter die afskorting koffiepoeier afmeet. Die ding van die doringtakkies sit egter nie lekker in my nie. Nee. Nie die man nie. Ek gee ook geen duit om oor sy of Dricus se seksuele of gastronomiese voorkeure nie. Maar dat ek my darem so kon misgis met die estetiese aspek, is iets wat ek nie lekker kan afsluk nie. Hier trippel ek vanmôre in met my flippen sketsie waaraan ek heelnag gewerk het, met die idee dat dit vreeslik oorspronklik en nommerpas is. Doringtakkies? So passé soos doringdraad, was Dricus se mening mos. En hy weet van.

Iets lui ’n ander soort klokkie in my agterkop. Barbed wire? Was daar nie so iets in die eeue oue TV-reeks Baywatch nie? Ek google dit vinnig. Maar natuurlik, nou onthou ek! Pamela Anderson! Die een met die yslike … En hier wou ek dit vir ’n hunk van ’n man … met MARTIN op sy arm … Agge nee, what was I thinking? Liewe genade – vir iemand met my agtergrond? Wys jou net, kuns is nie soos fietsry nie. Nee wat, ek het beslis nou heeltemal die plot verloor.

Ek voel hoe ’n gloed van skaamte uit my nek uit opstyg. Dricus was reg. Trane prik my oogbolle en ek snuit my neus aan die vadoek. Die melk borrel oor in die mikrogolf die sekonde toe Thuli om die hoek loer.

“Eeuw!” sê sy.

En dis presies hoe ek voel.

Op soek na Tretchikoff

Подняться наверх