Читать книгу Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez - Страница 7

5

Оглавление

Ek is nie dadelik seker wat ek hoor nie. ’n Geluid het my wakker gemaak en ek het nie eens geweet ek het geslaap nie.

Die kamer lyk woes. Asof iemand iets gesoek het. Dit neem my ’n oomblik om te kliek dis ek wat dit so omgekrap het. Want op die bedkassie lê tannie Olga se foto. Die een van haar in die pers rok wat my gisteraand in die bad so opgewonde gehad het. Die een wat ek my in my malligheid verbeel het die inspirasie kan wees vir ’n reeks skilderye … Ha! Skilderye, nogal … ’n reeks, nogal! Van ou mense. In kleur. He-he-he. Wat ’n simpel gedagte. Ek dog my doringdraad-brainwave was erg, maar van alle Lilian Beekman-flash-in-the-pan-idees vat dié een seker die donut.

Nee wat. Ek sit die foto versigtig terug. Ek het dit in die oggendure opgespoor in die ou tjoklitboks bo-op die ekstra hangkas in die gang. Dit het daar agtergebly in die warboel toe ons oom Heydenrych se goedjies gepak het.

“Koooieee!” roep iemand en klop aan my kamervenster se ruit. Moira. Vir ’n sekonde oorweeg ek dit om die duvet oor my kop te trek, omdat ek vergeet het sy kom. Maar ek swaai my voete moeisaam van die bed af. Besef ek pyn oral. Breakdancing op ’n mens se stoep met jou buurman will do that to a girl, nè, dink ek suurderig en soek na my foon.

Die gekap is nou by my voordeur.

“Man, sy ís hier,” hoor ek Engela se stem ook. “Waar sal Lilian nou ooit … Liewe genade, die vrou se voordeur is dan nie behoorlik gesluit nie!”

“Tipies!” roep Moira uit.

“I don’t believe it!” hyg Engela.

En dan raak dit onheilspellend stil. Ek hoor hoe hulle versigtige voetstappe oor my drumpel kom, en in my geestesoog sien ek hoe die gedagte by die twee posvat dat hulle dalk besig is om ’n moordtoneel te betree.

“Lily? Is jy hier?” fluister Engela toe sy by my kamerdeur kom. Die begeerte om net weer agteroor te lê, kry al hoe meer meriete. As ek die krag daarvoor gehad het, sou ek wou opvlie en “Wha!” skree die oomblik wanneer die twee benoude gesiggies om die deur loer, maar al my ledemate is gelyktydig op strike.

“Jou gesê sy’s hier,” sê Engela en laat sak haar tassie.

“Ons bel en bel! En jy antwoord nie!” trek Moira los. “En besef jy jou voordeur was nie reg op knip nie, Lily? Enigeen kon hier ingeloop het en jou hier -”

“Ek kom so agter,” brom ek en soek verder tussen die beddegoed na my foon.

Toe ek die voortou neem ketel toe, sien ek in die gangspieël my hare toon sterk ooreenkomste met ’n afgeleefde verestoffer, en my oë is pofferig. Al wat my nou kan red, is koffie. Kanne vol.

Wat ek aantref toe ek by my kombuisdeur kom, is ’n vinnige glimp van die agterent en stert van ’n swart kat wat deur die venstertjie bokant die yskas op die vlug slaan. Een van die antieke melkbottels lê aan skerwe op die vloer. Dis natuurlik wat my wakker gemaak het. Meneer Kat het geskrik vir Moira-hulle.

Ek trap versigtig met my kaal voete tot by Naas. En ek dog my hart gaan staan. Hy lê op die naat van sy rug met sy voetjies in die lug. Ek is in skok.

Dis Moira wat eerste beweeg. Sy druk my uit die pad, haak die hok van die staander af en drafstap voordeur toe.

“Veearts?” roep sy oor haar skouer. “Bring karsleutels!”

Ek gryp my jas en Engela hou haar sleutels uit.

* * *

Die veearts se naam is Hans Griebenow en hy lyk soos iemand wat weet wat hy doen toe hy die hok by Moira vat en daarmee by ’n deur in verdwyn. Ek vat die clipboard by die meisietjie agter die toonbank, maar dis Moira wat alles invul. Toe wag ons. Alles ruik na ontsmettingsmiddel en iewers kerm ’n hondjie droewig. My hart krimp ineen. Veral toe die meisie ’n paar bloedspatsels skaars ’n meter van my kaal voete met ’n mop kom opvee.

“Over-excited puppies,” verduidelik sy, asof dit gereeld gebeur.

Wat is die kanse? Vir ’n arme voël?

Maar ek het Naas onderskat, want ek hoor hom skel nog voor die dokter weer sy verskyning maak met die hok in sy hand.

“Met eisj, asseblief!” roep Naas luidkeels, en die veearts skud sy kop en lag. Naas kyk hom astrant aan. “Hai suka wena!” kras hy en ek besef ek het meestal my asem opgehou tot ek kon opstaan om te hoor wat fout is.

“Stres,” sê dokter Griebenow.

Moira staan nader, want sy weet van diagnoses en goed.

“O,” sê sy, “kan u dalk verduidelik wat dit veroor-”

“Kan voëls dan stres?” glip die mees logiese vraag by my mond uit.

“Hulle kan inderdaad,” sê dokter Griebenow en draai na my, “veral as daar onverwags ander voëls in die omtrek is. Hulle is nogal territoriaal en dit ontstel hulle … Of katte? Is daar dalk ’n kat wat pla?” Ek sien hy neem die feit in dat ek kaalvoet is, met ’n woljas oor my nagrok.

“Die buurman,” sê ek en vou my jas voor toe.

“Se kat was vanmôre daar,” voltooi Moira my sin vir my.

“Gedurig,” voeg ek by.

“Russiese kunstenaar. U het dalk al van hom gehoor? Doktor Alexander Oborin?” vra Moira.

Ek kyk haar verbaas aan. Dóktor Oborin? En hoe weet sý en ek nie? Maar ek wil ook nie nóú vra nie. Dan lyk ek weer dom.

“Google,” sê Moira.

Die veearts kyk my aan met iets soos begrip. Oor Moira. En ek sien hom vir die eerste keer raak as mens. Hy is een van daai ouens wat nie heeltemal versigtig genoeg aanmekaargesit is nie. Neus, lippe en wange wat nie honderd persent by mekaar pas nie. En tog.

“Ek weet van meneer Oborin,” sê hy, nog meer formeel.

“So wat nou?” vra ek en hou my hand uit vir die hok.

“Ek gee vir u ’n voorskriffie vir kos wat ietsie in het. Kalmeermiddeltjie. Antidepressantjie, as u dit so wil noem. En verder sal ek aanbeveel dat u die katjie van hom af weghou?”

“Shini madoda,” mompel Naas en trap hoogvoet rond op die hok se boom.

“Hoe de hel doen ek dit?”

Dokter Griebenow vryf oor sy donker krulhare. “Wel … so ver ek weet, is meneer Oborin nie ’n maklike persoon nie. Glo baie gesteld op sy privaatheid, so ek ken hom nie goed nie. Ek weet wel hy help soms uit by Tears. Hy het ook onlangs gehelp met die reddingspoging van die pelikane, dus is hy erg oor dierebeskerming. So. Ek stel voor u gesels met hom en verduidelik die probleem.”

Moira sien ’n gaping. “Sou u so ver gaan om vir ons ’n amptelike brief te gee waarin u hierdie stresdiagnose bevestig? Sodat dit gebruik kan word indien doktor Oborin ons nie ernstig opneem nie?”

Die veearts trek sy skouers op. Ek kan sommer sien hy is nie lus om betrokke te raak by ’n sonde-met-die-bure-ding nie, maar Moira is Moira.

“Ek kan,” sê hy. “Ek doen dit nie graag nie, maar ek kan. Los asseblief u kontakbesonderhede by die toonbank wanneer u die betaling maak en die voorskrif vir sy nuwe kos kry.” Hy kyk van Moira na my. “Moet ek die afskrif van my diagnose vir u of vir u mammie e-pos?”

Arme ou. Ek kan nie help dat Moira haar so baasspelerig en formeel gedra dat mense dink sy is my ma of ouer suster nie. Ook nie dat ek party dae soveel jonger as my jare lyk nie. En dis nie die eerste keer nie.

Ek dog Moira blaas ’n fuse. Moet sê, ek sou ook.

Gelukkig vir dokter Griebenow kom ’n vrou by die deur ingestorm met iets in ’n bebloede kombersie, en hy vlie om en lei haar haastig deur na sy spreekkamer.

* * *

Toe ons by die huis stilhou, spring ek uit, druk die hok met Naas en al in Moira se hande en pyl reguit op die buurman se voorhekkie af.

“Dink jy nie jy moet dalk net eers …” hoor ek Moira vra, maar dis klaar te laat. Ek hamer al aan sy voordeur. En weer.

Toe hy uiteindelik oopmaak, is dit net op ’n skreef, maar dis wyd genoeg om uit te maak dat hy net ’n handdoek aan het en glad nie opgewonde is oor wat hy sien nie. Ek kan nie heeltemal dieselfde sê nie, en dit gooi my ’n paar sekondes van stryk af.

“Nog steeds hier?” vra hy met een wenkbrou hooghartig gelig.

“Die kwessie van die kat,” sê ek, heelwat minder kragdadig as wat ek wou. Te laat onthou ek ’n paar complicated goed. Soos dat ek mos nie regtig ek is nie, maar die een wat by my kom kuier het, en ek dus en derhalwe nie terselfdertyd sy buurvrou kan wees wat ’n probleem het met sy kat nie.

“My vriendin … e …” Ek wys oor my skouer en is meteens intens bewus van my ongekamde hare, my kaal voete en die krapperige ou jas bo-oor my nagrok. En van die feit dat hierdie man seker geen duit omgee wat ek onder my jas aanhet nie.

“Sê asseblief vir haar ek is jammer, soos wat ek reeds gister in my e-pos aan haar verduidelik het,” sê hy ferm. “Ek is verlig om te sien jy het gisteraand se val oorleef, maar as jy my nou sal verskoon, ek is ongelukkig laat en dis nogal koud,” voeg hy by voor hy die deur toedruk.

En daar staan ek met my mond vol tande. En ek kan sweer hy weet wie ek is.

“En toe?” wil Engela weet toe ek terug is in my kombuis.

“Arrogante bliksem,” sê ek uitasem.

“Moira sê hy sê dis stres?”

“Ek weet nie wat dit is nie, maar hy gee mý beslis stres.”

“Ek praat van die veearts, Lily.”

“O … e … e … Ja, ek ook.”

“Hmm,” sê Engela, “Moira sê dan die veearts is ’n besonder nice ou.”

“Huh. Moira sál so sê. En sy hoef nie vierduisend rand te betaal vir sy diagnose of die duur kos te koop wat hy voorgeskryf het nie. Met antidepressantjies! I kid you not!”

Ek tel spoed op, want ek moet op ’n manier afblaas.

“En dit alles net omdat die verdomde man hier langsaan nie sy verdomde kat kan oppas nie!”

“Hmm,” merk Engela op met ’n irriterende skelm glimlaggie, “die arrogante bliksem.”

“Hou op snert kwytraak, Engela, en maak liewer vir ons koffie.”

“Red my volk,” piep Naas. En ek voel onmiddellik aardig.

“Die flippen voëlkos!” onthou ek. “Dit lê seker nog net daar op die toonbank by die …”

“Jy het dit in die kar gelos, Lily,” praat Moira by die voordeur, “in jou haas om jou buurman by te kom. Ek het gou gaan kyk of die kar gesluit is. Toe lê dit daar.”

Sy kon netsowel “Tipies!” bygevoeg het, dink ek, maar ek sê maar niks. Daar is genoeg stres in die vertrek. Hou my besig deur vir die pasiënt van sy nuwe kos in te gooi. En ek neem my voor om so gou moontlik daar bokant die yskas op te klouter en die klein venstertjie toe te maak – die een waar die kat inkom wanneer al die ander ruite toe is teen die wind en koue. Want my begroting sal beslis nie gereelde besoekietjies aan dokter Griebenow kan bekostig nie.

“Nogal iets vir die oog, hierdie buurman van jou,” sê Moira toe ons almal koffie het. “Hy lyk baie beter as op foto’s toe hy nog die vreeslike bosbaard gehad het. Veral met sy hare bietjie korter en so amper blond gebleik van Vishoek se son.”

Ek spits my ore. Dit verklaar natuurlik waarom Thuli en Dricus hom nie die dag in die studio herken het nie.

“Wanneer het jy hom dan gesien?” vra Engela, soos ek gehoop het sy sal.

“Nou net, toe ’n Uber hom kom oplaai het.”

“En?”

“Knorrige vent. Groet skaars. Wil by my weet of ek dan nie my e-posse lees nie.”

“Hoekom sou Lily se buurman dan vir jóú e-posse stuur?”

Dit neem my ’n rukkie om dit uit te werk. Toe draai Moira na my: “Nee, ek weet nie, miskien kan Lily vir ons verduidelik waarom haar buurman dink ek is sy?”

“Wel … Lang storie.”

“O koek, nee, wag,” sê Engela. “In daai geval, hou jou rede, Lily, ek moet net eers gou ’n draai loop.”

“Reg so. Ek maak solank vir ons nog koffie,” sê Moira, en ek weet daar is geen uitkomkans nie.

Nog minder toe Engela uit die badkamer kom met die blonde pruik triomfantelik omhoog.

“Het die lang storie iets hiermee te make?” wil sy skoon uitasem weet.

Moira sit vorentoe.

“Glad nie so interessant soos julle dink nie, oukei?” keer ek.

“Let us be the judge of that,” sê Engela. “Vertel?”

Toe vertel ek maar. Nie alles nie. Net genoeg.

“Nee-nee-nee! Jy kan mos nie die ding so los nie?” sê Moira toe ek klaar is. “Met die man wat dink ek is jy nie?”

Ag toggatjie, dink ek. Ek het mos nou die aand al geweet hierdie liegtery van my sal stertjies groei. En hier is dit nou.

“No big deal!” sê ek. “Wie gee om? Wat maak dit saak? Ek voel baiekeer self asof ek nie ek is nie!”

Die twee kyk my ondersoekend aan. En gee ek-het-jou-mos-lankal-gesê-die-arme-Eric-kyke vir mekaar.

“Oukei, oukei,” sê ek, “ek sal sake regstel. Sodra ek hom weer sien.”

“Jy beter,” dreig Moira. “Daar is geen manier dat ek gaan stilsit terwyl doktor Alexander Oborin dink my naam is Lily Beekman nie.”

My kop gryp so vas aan die “doktor”-gedeelte, ek kliek nie dadelik die implikasie van my vriendin se onwilligheid om ek te wees nie.

* * *

Hulle slaap nie dié keer oor nie. Hulle ry kort na middagete. My huis voel skielik so kaal en ek vreemd van alle vreugde ontdaan toe die twee weg is. Ek sleep my skootrekenaar nader. Laat ons maar sien? Die man se e-posse sou tog na my adres toe gekom het?

Daar is baie boodskappe. En ja, twee van die Rus oor sy kat.

Geagte buurvrou

Eintlik is dit nie my kat nie. Die dier het eenvoudig besluit om by my te kom intrek. Ek is werklik jammer oor die ongerief. Daar is egter nie veel wat ek daaraan kan doen nie, want soos almal weet, laat katte hulle nie voorskryf nie. Ongelukkig moet ek dringend weg vir ’n paar dae. Iemand kom sorg daagliks vir die kat. Kan ons ’n plan maak wanneer ek terug is?

Beste groete

Alexander Oborin

Ek herkou eers aan die eerste boodskap. Lees dit weer. Asof ek leidrade soek, waarvoor weet ek nie.

Die tweede een het gevolg kort op die hakke van die eerste. Soos whiplash, of second thoughts. Dit laat my glimlag, want ek kom dit ook oor. Dit lui:

Geagte buurvrou

Daar moet ’n oplossing vir die kwessie wees. Dalk kan ons die saak uitklaar oor ’n koppie koffie?

Groete

Alexander Oborin

Ns. Kan dit wees dat die dier eensaam is?

Ek dink hopeloos te lank na oor my antwoord. Delete die eerste pogings en gaan maak eers tee. Eintlik is ek mos kwaad, besef ek toe ek weer kom sit. Eintlik is dit mos pure bog hierdie. Ek trek my lippies styf en slaan my rekenaar se toetse.

Mnr. Oborin

Ons stem oor een ding saam en dit is dat daar oplossings vir hierdie kwessie is. Een daarvan sou gewees het om die kat in u afwesigheid iewers by ’n instansie in te boek waar die dier kon oorbly tot u terugkeer. Om hom net so by u huis in die sorg van iemand te los, is in my beskeie opinie suiwer slapgatgeit.

Maak ’n plan.

Lilian Beekman

Toe kliek ek op Send.

Op soek na Tretchikoff

Подняться наверх