Читать книгу Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez - Страница 6

4

Оглавление

Op pad huis toe besluit ek om eers by oom Heydenrych ’n draai te maak. My gemoed is nie reg vir alleen wees nie. Daarvoor het ek die hele naweek. Ek ry eers by die Longbeach Mall om, want ek weet hoe hy sukkel om sy gunstelingknertsie in Vishoek te bekom. Daarna gaan los ek my kar voor die huis en stap af in die straat tot onder by die ouetehuis.

Oom Heydenrych is heeltemal by, sien ek toe ek by sy kamer instap.

“As dit is wat ek dink dit is, kom jy of jy gestuur is,” sê hy toe hy die plat bruinpapierpakkie sien wat ek uit my handsak haal. “Mens vrek mos van die dors hier in hierdie droë dorp.”

“Ja wel,” sê ek en hou dit na hom uit, “dis seker nie vreeslik korrekte prosedure van my om so iets vir oom te bring nie, nè?”

“Prosedure? Wie de hel besluit wat is prosedure?” knor hy. Sy helderblou ogies kyk skerp op en ek sien vir ’n oomblik die man op wie sy Olga so verlief was. “Dis omdat jy nog altyd een van daai rare mense was wat geen erg het aan prosedure nie, dat jy somtyds so swaarkry. So, vat die glas langs my bed en my koffiebeker daar by die wasbak,” beduie hy, “en skink vir ons ietsie, want dit lyk vir my of jy ’n medisinale versterkinkie nodig het.”

Toe maak ek so.

Ons praat nie veel nie. Net so bolangs. Want oom Heydenrych is nie juis een vir woorde nie en ek is bly daaroor, want ek is self nie juis lus vir praat nie. Ook nie juis vir die amberkleurige vloeistof onder in die koffiebeker wat my asem wil wegslaan nie. Maar ek neem klein slukkies en ten spyte van die vrank smaak, salf die warmte wat in my keel afkruip die skerpheid van die dinge wat in my woel. En toe oom Heydenrych later nog ’n skeutjie ingooi sonder om te vra, protesteer ek nie. En ja, teen die tyd dat ek aanstaltes moet maak om te loop, lyk die lewe tog effens rooskleuriger.

“Jy moet kophou, kinta,” sê oom Heydenrych en rol sy stoel flink vorentoe om die res van sy kosbare halfjackie heel agter in sy bedkas te bêre. “Jy kan nie dat hulle jou onderkry nie. Jy lyk maar so bloedjonk en onskuldig, maar jy is van sterk stoffasie gemaak, nes my Olgatjie.”

“Dankie, oom,” sê ek en ek merk ’n tranerigheidjie in sy ooghoeke. “Ek kom gou weer.”

Hy haak my nader met een seningrige arm en druk my vas teen sy maer skouer. Hy ruik na Vicks en troos. “Jy beter,” sê hy, “dis nie asof ek aldag besoekers kry nie.”

“Dalk moet ek oom bietjie kom haal om daar bo by die huis ’n draai te maak. Om vir Naas te kom kuier. Ek kan mos maklik die rolstoel hier op in die straat -”

Hy sny my woorde af. Skud sy kop. “Too many memories. My ou hart sallit nooit hou nie, nee. Kom kuier jy maar liewer altyd hier vir my.”

Toe onthou ek eers wat ek hom alles wou vra. Ek gaan sit weer op die bed.

“Weet oom iets van die kat wat die man langsaan my aanhou?”

“Kat?” wil hy weet.

“Ja, oom, die man in die ander helfte van oom se huis. Die kunstenaar. Die Russiese een. Hy hou ’n kat aan. En ek is bang -”

“ ’n Russiese kat?” Oom Heydenrych vryf sy ken aandagtig, soos iemand wat glo hy weet iets van so ’n kat, hy moet dit net onthou.

“Ek weet nie watse soort hy is nie, oom, maar ek is bang hy byt vir Naas.”

“O, Naas, ja!” Ek is dankbaar om te sien sy gesig verhelder. Dis mos nou iets wat hy goed ken.

“Bleddie beste rugbyspeler ooit daai,” sê hy, meteens vol woema. “Kyk, hy kan vir jou ’n bal skop, hoor! Hierdie Saterdag is die groot game op Loftus mos. Wag! Ek wil net gou op die nuus kyk of hulle iets daarvan sê.” Hy rol sy stoel nader en skakel sy TV aan.

Dis toe dat ek besef oom Heydenrych is weer wegwêreld. Ek was gelukkig om hom ’n rukkie vir myself te hê. En my vrae sal maar moet wag vir ’n volgende keer.

Toe ek buite in die lang gang kom, lui daar ’n klok en al die deure gaan oop. En net daar is die euforie van die knertsie saam met oom Heydenrych iets van die verlede. Want dit is etenstyd en aan die vasberade manier waarop al wat leef en beef (letterlik) in die rigting van die eetsaal verby my beur en skuifel, is dit die hoogtepunt van die dag vir die False Bay Retirement Hotel se inwoners.

Dis asof my voorland reg voor my kom staan. Hoe ek ook al hoe ouer en breër word. Met klikkende valstande en beige support hose wat plooi om my geswolle enkels terwyl ek tussen badkamer en eettafel en bed skuifel op ’n paar afskuwelike Green Cross-sandale met veelvuldige velcro-stroke. Hoe hou iemand soos oom Heydenrych dit uit? Geen wonder hy raak weg in sy eie wêreld nie.

Ek skuur ekskuus-tog-ekskuus-tog voordeur toe. En toe ek buite in die vars lug kom en die opdraand vat huis toe, vis ek my beanie uit my jas se sak en trek dit af tot oor my wenkbroue, want ek besef ek is definitief nie honderd persent nie. My gestel hou glad nie van koue wind of brandewyn nie.

Nog minder van die feit dat my buurman op pad uit is by sy voorhekkie net toe ek by myne moet ingaan.

Ek mik eers reguit vorentoe, deur toe, en wens hy het my nie raakgesien in die skaduwee wat die huis gooi nie, want ek is nie nou reg om hom te ontmoet nie. Nee. Ek wil ’n helder kop hê die dag as ek hom aanvat. Met dié dat hy hierdie kamtige “ware” kunstenaar is.

Toe skop iets binne my in. Seker wat hulle Dutch courage noem, en ek draai na hom. Ek is spyt nog voor die woorde uit is.

“Is jy die eienaar van daai nare swart kat?”

“Is jy my buurvrou?” wil hy weet. Ek kan nie sy uitdrukking lees nie, want sy gesig is half in die skaduwee onder sy simpel keps.

“Nee. Hoekom?” lieg ek my los. Ek sal later besluit waarom. Dalk omdat ek kan sien hy onthou my nie eens nie. Dalk omdat Dricus en Thuli nie kon besluit of hy pas uit die tjoekie of die loony bin gekom het nie.

“Wel, eerstens is sy nie by die huis nie en tweedens sal ek graag ’n gesprekkie met haar wou hê.”

“O. Hoekom?” Ek kan hoor ek klink soos Naas op ’n lam dag. Nee, heelwat dommer, besef ek toe ek oor my eie stoeptrappie struikel en soos ’n os neerslaan. Of dalk eerder ’n koei. Behalwe dat geen koei so dom sal wees om by haar eie drumpel te gaan staan en omval nie. My linkerskeen is verdomp seer en ek kan nie dadelik opstaan nie.

Hoe die vent so gou by my gekom het, weet ek nie. Maar toe ek nog wil orent beur, is hy besig om my te probeer optel. Ongelukkig in ’n ander rigting as ek, en ons albei steier agteroor – tot teen die ou swaar ysterstoel wat ek laas teen die trap afgesleep het tot waar dit nou op die lappie gras staan. Hy hou sy balans en laat los nie sy greep om my lyf nie. Nie eens toe ons lomp en pynlik bo-oor die stoel se armleuning tot sit kom nie, ek half skuins bo-op die man.

My kop draai, maar ek is op voor jy kan sê “eina” en beweeg mank-mank eenkant toe. Die palm van my regterhand brand soos vuur waar ek gekeer het dat my kop die sement tref. Ek kom nie ver met my seer skeenbeen nie en gaan sit eers op die trappie om dit te vryf.

“Auw, auw,” sê ek, “dis sweerlik af.”

“Dit voel so,” kreun hy vanuit die stoel. Blykbaar kan hy nie op nie. Hy is vooroor gebuig en vryf met albei hande sy laerug. Sy blonde hare hang wild om sy gesig.

Ek hobbel nader. “Laat ek kyk.”

“Oor my dooie liggaam,” knor hy.

“Laat ek jou dan net ophelp.” Ek bied my linkerhand aan.

“Liewer nie!” Hy vryf oordrewe aan sy stuitjie, gryp albei die stoel se armleunings vas en beur met ’n vertrekte gesig orent. Kan die blikskottel nie sien ek probeer hier ekstra nice wees terwyl ek self in pyn is nie? Nee. Soek na sy keps waar dit op die gras geval het, en gluur my aan.

En dis toe dat ek hom herken. My gedagtes fladder op soek na uitkoms soos ’n kwikkie wat by ’n kerksaal ingevlieg het. Want dis hy. Die blonde man wat by Dricus se ateljee was. Met die tatoe waarvan hy wou ontslae raak.

En op die oomblik maak dit vir my saak. Dat ek, Lilian Beekman, so laag gedaal het dat ek gedink het dis ’n uiters kreatiewe idee om die naam op hierdie man, wat volgens almal heelwat weet van kuns en ontwerp, se biseps in doringdraad te omskep? Ek kan net hoop dat hy en almal anders in die kunswêreld nooit daarvan te hore kom nie. My reputasie het nog nooit iets te make gehad met ’n gebrek aan kwaliteit wat my werk betref nie, so hierdie is nou een skande wat ek nie bekend wil maak nie. Ek is op die plek naar. En supernugter, en al wat ek wil doen, is wegkom.

Hy draai na my. “Is jy oukei?”

Nee. Ek is glad nie oukei nie, wil ek vir hom sê. Sou jy oukei wees as jy ek was, huh?

“Ja wat,” antwoord ek, “ek dink ek bloei op ’n paar plekke, maar dis fine, dankie.”

Hy vat my stewig aan die arm. “Nou kom,” sê hy, “ek het ’n noodhulpkissie daar by my.”

“Liewer nie.” Ek draai weg uit sy greep, tel my handsak op en begin my huissleutel soek. Vergeet skoon ek is nie ek nie. Ek kom kuier mos net by sy buurvrou. Onthou eers van die leuen toe ek my sleutels raakvat.

“Jong, laat ek ten minste solank die plekke ontsmet.”

Ek skud my kop byna van my nek af. Wys jou, mens moenie lieg nie. Liegstories kry kleintjies en hier staan ek nou met die baksel. Voor hierdie man. Kan nie by my eie huis in nie.

Hy wys: “Daar’s bloed aan jou been. Laat ek net die wond skoonmaak.”

Ek kyk af. Ja-nee. Net mooi daar waar die fashionable skeur sit in my nuwe jean wat Thuli my ingepraat het om te koop, het die rand van die trappie my lekker beetgekry. My maag draai oor die bloederige streep. En my regterhand klop van die pyn.

“Regtig,” sê hy, “ek ken van.”

“Van wat?”

“Van noodhulp. Ek help op gereelde basis hier onder by die dierekliniek, so ek -”

Ek voel hoe raak my wange aan die brand. “Ag rêrig,” sê ek, “in daai geval sal ek ’n skiep vat. Dankie, hoor?”

Ek staan pennetjieregop met my handsak teen my maag gedruk. Wens hy wil nou net loop.

“Aangesien ek nou nie heeltemal ’n beseerde koei is nie, oukei?” voeg ek by. Onnodig skerp. Hy hoef nie te weet ek wil nie aan gevat wees nie.

Hy gee my ’n vuil kyk. “Luister, ek het regtig nie tyd hiervoor nie. My rug pyn ’n helse hou. Sit jy dan nou hier en wag tot daai vroumens eendag huis toe kom.”

Toe loop hy stokkerig om na sy kant van die huis. En toe besef ek waarom hy my nie herken het nie. Ek het mos die dag Thuli se bleddie pruik opgehad. Ek sou myself nie herken het nie.

Ek wag net tot sy voordeur toegaan, toe sluit ek haastig oop. Naas sit en slaap op sy hoogste swaaitjie en ek los hom net so en gaan tap vir my ’n diep bad. Waterbeperkings en al. Baai my geskraapte handpalm en seer ego in die warm watertjies. Dankie vader die buurman is nie my tipe nie. Wel … eintlik is ek nie sýne nie. So. Gelukkig lyk dit nie of ons spoedig mekaar gaan oornooi vir teetjies of enigiets anders nie. Hy het after all nie ’n clue wie ek is nie. Ook maar goed so. Hy sal weldra uitvind wanneer ek hom aanvat oor sy kat.

En tog. Iets het vanaand gebeur. Iets het verskuif. Ek was lanklaas in die minste gepla oor die feit dat ek my rug op kuns gedraai het. Omdat ek my vermoë om kreatief te dink doodgesmoor het ná wat gebeur het. Tot netnou. Toe dit my opnuut getref het hoe skandalig dit is vir iemand soos ek om met so ’n powere ontwerp tevrede te gewees het. En dit vir so ’n man? Nee. Nie net tevrede nie. Who are you kidding, Lilian? Jy het jou nie daaroor geskaam nie. Jy was opgewonde. Jy het jou doringdraad-prentjie onder Dricus se neus gaan rondswaai.

Ek word van voor af skaam en besluit dat dit nie my job is om Dricus in te lig dat die man wat die dag in sy studio was een en dieselfde persoon as my kunstenaar-buurman is nie. Hy moet dit maar eendag self uitfigure.

Ek lê lank so. Draai later die warm kraan weer oop met my toon en sien hoe my skeenbeen al klaar blou verkleur. Effense swelsel ook. En ek dink. Nooit ’n goeie ding vir my om te doen nie, om te veel te dink. Want dink kom vir my dikwels ná doen. En as ek eers begin dink oor wát ek gedoen het, is ek gewoonlik spyt. Oor wat ek gedoen het én oor die feit dat ek daaroor dink.

Dis ’n goeie ding dat ’n mens nie jou toekoms kan sien nie, of hoe? lê ek en dink. Kyk, aan die verlede kan jy niks verander nie, maar sê nou jy kon ’n voorskou kry van jou toekoms. Die goed wat nog met jou gáán gebeur. Soos ’n lokfilm vir ’n blockbuster movie. Ja, ek weet dat hulle al die beste tonele vir jou wys om jou lus te maak, maar wat as jy in jou geestesoog ’n ongeredigeerde voorskou van jou lewe kon sien? Hè? Daar sou beslis ’n hele paar tonele in myne wees waar ek “Cut!” sou skree.

Een fout na die ander … ’n Mens kan actually moeg raak daarvan. Hang af hoe ver terug jy wil rewind …

Ek dink definitief groot stukke van die footage van my volwasse lewe, sedert ek vol hoop en idees omtrent myself uit die kunsskool getrippel het, sal op die virtuele cutting floor bly lê, as ek ’n sê in die saak kon hê.

Soos die aand van my laaste uitstalling. Toe ek feitlik die plek afgebrand het.

Of die oggend toe ek op Morning Live voor die hele nasie skandes gemaak het?

Om van die koerantopskrifte ná elk van my misstappe nie eens te praat nie.

Soos die oggend toe ek met Eric langs my in die bed wakker geword het in daai steriele huis in Constantia, en finaal geweet het hier moes ek nooit gewees het nie. Soos die dag toe ek geweet het iemand soos ek moes nooit die werk by daai flippen posh galery aanvaar het nie. Omdat dit uiteindelik tot my deurgedring het dat die motivering vir my aanstelling met Kurt Markgraaff se waardering van my meer persoonlike bates te make gehad het, en nie, soos ek geglo het, met dié van my kuns nie.

Daar is nog heelwat.

Of ek Vishoek toe sou gekom het as ek in die toekoms kon sien? Miskien nie. Ek het dit immers glad nie beplan nie. Aan die begin het die plek geruik en gevoel soos ’n vreemde land waarheen ek gedeporteer is, maar dit raak beter. Hoe weet mens?

Maar dis blykbaar nog nie verby nie. Ek sal geld betaal om die horlosie terug te draai na waar ek nou die aand my sketsblok en potlode gaan haal het om doringdraad te ontwerp. En vra vir ’n reshoot waarin ek met iets ordentliks opkom. Ja, right, Lilian. Dit gaan nou nie gebeur nie, reg?

Ek tap nog warm water in. Laat sak my kop agteroor tot net my neus se punt uitsteek.

Dis toe dat die idee my tref. Kyk, my beste idees het nog altyd gekom terwyl ek bad. Ek het nog altyd gedink dis dalk die hitte. Maar miskien is dit hierdie keer omdat ek my toekoms vandag vol in die gesig gestaar het daar by oom Heydenrych se plek. En wat ek gesien het, was hel. Eensame, harige hel. En hier kom sweef ’n idee sowaar verby die hospitaalgroen art deco-teëls in die stomerige badkamer.

Skilderye. Van die ou mense.

Maar nie asvaal en beteuterd soos ek hulle vandag gesien het nie. Néé. In helder kleure. Soos die blou van oom Heydenrych se oë toe hy my vandag so ondeund aangekyk het. So iets. En tannie Olga, in daardie pers rok wat sy dra op die een foto wat ek gesien het. Iets wat die mens wat hulle was, op doek kan vaslê. Dik kwashale. Gloeiende kleure. In al hulle glorieryke, beplooide ouderdom.

Ek vlie net daar uit die bad. Struikel byna met my lam been oor die nattigheid in my haas om by die handdoek uit te kom. Ek moet daardie foto van tannie Olga gaan soek. En dalk is daar nog ’n gestrekte canvas oor agter die ou hangkas waar ek ’n paar ingedruk het. Ek het mos nie almal weggesmyt nie, het ek?

Op soek na Tretchikoff

Подняться наверх