Читать книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald - Страница 3

Оглавление

“Juffrou Visagie. Die tyd stap aan.

“Vir die rekord stel ek dit: Ons is vandag hier om ’n stel klagtes wat teen u, Berdina Visagie, ingedien is, intern aan te hoor. Sou ons bevind dat enige van hierdie klagtes gegrond is, kan ons u summier van u pligte as museumargivaris onthef. Ons sou ook, afhangende van die klagte en van wat ons hier bevind, kon besluit om ’n siviele eis teen u in te stel. Ons sou u selfs krimineel kon laat vervolg. Want, soos u weet, juffrou Visagie, ’n paar van die klagtes is redelik ernstig. Wanbesteding van die museum se fondse, onder meer. Dan ook, en dit beskou ons uiteraard in ’n baie ernstige lig, die beskadiging van eiendom in die museum se besit.

“Juffrou Visagie. Ek stel voor ons begin. Ek sal die klagbrief voorlees en u dan geleentheid gee om u saak te stel. Die identiteit van die skrywer van die brief is aan ons bekend, maar ek glo u sal dit begryp dat ons verkies om die persoon se identiteit te beskerm. Ons is immers nie hier om die briefskrywer nie, maar om u.

“U is tans op verpligte verlof terwyl die ondersoek na u optrede afgehandel word. Sou ons bevind dat die klagtes ongegrond is, dat u oordeel in elke opsig suiwer en u bedoelings opreg was, dan sal ons u vaardighede en kennis natuurlik tot elke prys wil behou. Dan sal ons die klagtes skrap en u naam sal skoon wees.

“Maar, juffrou Visagie, ek moet vir u sê – as vriend en kollega móét ek vir jou sê – in hierdie stadium lyk u saak beroerd.

“Nou ja. Laat ons begin. Ek sal dan nou voortgaan en die brief aan u voorlees:

“Geagte Meneer die Voorsitter van die Museumraad van die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp . . . Dit is met ’n swaar gemoed dat ek vandag aan u skryf. Berdina Visagie, of dan júffrou Berdina Visagie, soos sy verkies om bekend te staan, is ’n gesiene burger van die dorp. Ek wens dit was nie vir my nodig om hierdie brief aan u te rig nie, maar dinge het hand uitgeruk.

“Juffrou Visagie. Kan ek u vra? U het ’n afskrif van die brief ontvang. Ek neem aan u het dit gelees en dat u met die inhoud vertroud is. Miskien is dit nie nodig om die hele brief voor te lees nie? Ek sou dit so verkies. Die skrywe is op plekke geniepsig en persoonlik. Ek stel voor ek lig die klagtes liewer een vir een uit en gee u kans om op elkeen afsonderlik te reageer.

“As dit dan in orde is so? Dankie, juffrou Visagie. Laat ons begin met die eerste klagte.

“Juffrou Visagie, u is die argivaris van ’n besonderse museum. Die skatte uit die geskiedenis wat in hierdie gebou bewaar word, is uniek. Baie is enig in hulle soort. Daar bestaan nêrens in die wêreld soortgelykes nie.

“Nou, juffrou Visagie. Ek was destyds persoonlik betrokke by u aanstelling. Ons het geglo dat u die museum se belange op die hart sou dra. Dat u ’n behoefte het om die geskiedenis vir die nageslag te bewaar.

“Goed. Die eerste klagte dan. U, juffrou Visagie, het volgens die klaer – en hier buite is die tekens daarvan duidelik sigbaar – u het die gevestigde tuin in sy geheel vernietig. Grasperk, krismisrose, ranonkels . . . Weg! Al wat van die oorspronklike tuin nog oor is, is die melkhoutboom. Volgens die skrywer sal dit jare, en honderde, indien nie duisende rande nie, kos om die tuin te hervestig.

“Moet ek vir u lees? Dit is wat die klaer skryf:

“Een van die dorp se pragtuine het sy oornag verander om te lyk soos voor die skepping. En dít ’n tuin wat as openbare besit beskou word, wat oopstaan vir besoekers. ’n Spieël van die dorp. Ek is seker sy het ’n plan gehad, maar in hierdie stadium lyk dit nie asof daar veel van gekom het nie. ’n Bossietjie hier en ’n plantjie daar. Al wat ék sien, is agteruitgang en verwoesting.

“Jy wil iets sê, juffrou Visagie? Gaan gerus voort.”

Die skaalmodel

Подняться наверх