Читать книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald - Страница 6

Оглавление

“Meneer die Voorsitter. En toe tref dit my. Tussen die oë! Daardie selfde aand nog het die antwoord na my toe gekom. Of nou nie juis ’n antwoord nie. Eerder net onthou. Was ek in my skik! As daar nou een ding is wat ek hét, dan is dit ’n geheue soos ’n olifant. Al moet ek dit self sê, Meneer die Voorsitter. En die vermoë om probleme op te los. Dít was nog al die jare my behoud. Ek glo dit sal vandag ook my behoud wees. En dit was daardie dag my behoud. Dit het ek geweet.

“Ek sou my storie moes ken. Ek sou moes navorsing doen. Oplees. Oor Skipskop alles uitvind wat ek kon. Vasstel waarom die plek oor die afgelope dekades vir oud-Skipskoppers ’n byna mistieke kwaliteit aangeneem het. Ek sou die geskiedenis moes naspeur en opteken. Ongekarteerde gebied, so het ek aanvanklik gedink. Maar toe nie! Iemand het klaar die optekenwerk gedoen. Ek moes dit net gaan opdiep. Maar dit sou ek eers later uitvind.

“’n Plan, Meneer die Voorsitter. Dit is wat ek nodig gehad het. ’n Haas om van iewers uit ’n hoed te pluk.

“Die boekie hier neffens my. Hierdie een. Ken u dit, Meneer? ’n Vrou het dit eendag hier kom afgee. Dis ’n boek oor Skipskop. Die vrou wou weet of ek, wat juffrou Visagie is, nie ’n paar van die boekies hier op die museumtoonbank wou uitstal en te koop aanbied nie. Die museum sou selfs ’n persentasie van die opbrengs kon kry, het sy gesê.

“Maar ek ken my customers. Ek sal nie nee sê vir ’n moontlike inkomste nie, Meneer, maar ek het mos geweet hoe stil dit hier was. En die besoekers wat wel gekom het, hulle sou nie geld op boeke uitgegee het nie. Maar ek wou die vrou nie in die gesig vat nie. Los een van die boekies hier, het ek gesê, dan kyk ons hoe dit gaan. Ferm. Sodat sy dit nie sou waag of oorweeg om teë te praat of ’n ekstra boekie in te glip nie. U weet mos nou hoe voel ek oor ’n ding wat lê en stof vergaar. Ek hou van ’n geordende lewe. Of, as ek terugkyk op die gebeure van die afgelope ruk – die rede waarom ons vandag hier sit – moet ek seker liewer sê ‘ek hét van ’n geordende lewe gehou’.

“Een ding wat ek oor die jare van geordend leef geleer het, Meneer die Voorsitter, is dat ’n mens beheer moet neem. Beheer oor die groot dinge, maar ook beheer oor die klein goedjies. Soos watter en hoeveel boeke op ’n toonbank uitgestal word. Staan op jou beginsels en staan op jou regte. En die belangrikste: Bly by jou feite!

“Meneer die Voorsitter, van die punt af. Het u al ooit in ’n skakelhuis gewoon? Soos die ene waarin ek bly? Daar is maar ’n dun muur tussen jou en jou bure. Nou verstaan ek die ou dame wat voor my in my kant van die huis gewoon het, was stil en hardhorend. Ek is ook stil, maar ek is beslis nie hardhorend nie.

“Meneer, wat ek jou nou hier vertel moet asseblief maar tussen ons bly. Ek weet u moet hierna ’n verslag met aanbevelings aan die raad voorlê, en dat dit oop sal wees vir besigtiging deur die publiek. Hier in die museum sal hulle kan kom kyk. Daarom vra ek u om u pen asseblief eers neer te sit. Wat ek u nou vertel, vertel ek aan u mens tot mens; nie as juffrou Berdina Visagie wat by die voorsitter van die Museumraad om haar loopbaan pleit nie.

“Meneer, hoe verstaan u die verskil tussen luister en hoor? Soos ek dit verstaan is luister doelbewus. Hoor, daarenteen, is onwillekeurig. Nou, in so ’n skakelhuisie hóór ’n mens baie dinge sonder dat jy daarvoor luister. Onwillekeurig.

“Ek sal byvoorbeeld in my sitkamer sit en my buurman – u ken hom, die horlosiemaker – se gesprekke van die dag woord vir woord hoor.

“Al elf jaar lank, sedert ek hier op Bredasdorp aangekom het, volg ek – en ek moet weer die woord ‘onwillekeurig’ byvoeg – my buurman se weë. Saans, wanneer dit donker word en almal hulle voordeure en vensters digtrek om met hul binnekamerdinge te begin, sit ek daar in my sitkamertjie en hoor ek onwillekeurig die gesprekke tussen my buurman en sy vriende aan.

“Sy boesemvriend, soos u seker weet, is die begrafnisondernemer. Saans is dié gewoonlik maar daar langsaan. Kan u u verbeel hoe ek op die eerste aand ná my intrek rustig agteroor gaan sit het met ’n blokkiesraaisel? Vir ontspanning, sodat ek kon slaap. Ek sukkel tog altyd so, die eerste paar aande in ’n vreemde omgewing. Ek verbeel my aan die onderkant van die raaisel was daar ’n woord wat ek maar net nie kon uitpluis nie. Wat die leidraad was, kan ek nou nie meer onthou nie. Ek onthou net ek het nog so na die leë blokkies gesit en staar toe ek skielik, hier reg langs my, in die vertrek aan die ander kant van die muur, voetstappe hoor. Die gekraak van ’n stoel toe iemand gaan sit. Nog ’n paar voetstappe.

“‘Is sy toe in?’ het ’n stem langs my gevra. Ek het dié stem gou leer ken as die ondernemer s’n.

“‘Lyk so, daar hang gordyne voor die vensters,’ het ’n ander stem, my buurman s’n, geantwoord. ‘En daar staan ’n wit Uno langs die huis.’

“Ek het my wange voel brand. Dit was toe mos vir my duidelik daar word oor mý gepraat. Ek kon seker ’n lawaai gemaak het sodat hulle kon hoor daar is iemand aan die ander kant wat hoor. ’n Stoel geskuif het of so. Ag, maar wat sou dit tog gehelp het. Ek is ’n stil mens. Ek kon tog nie vir die res van my jaar hier – u sal onthou ek sou eers net vir ’n jaar by die museum kom aflos het – in my huis raas sodat ander mense moet stilbly nie. Dit sou nie deug nie. Op die lange duur sou dit net ’n onvolhoubare lawaaimakery afgegee het.

“So, toe bly ek maar so sit met my blokkiesraaisel.

“Die begrafnisondernemer en die horlosiemaker se gesprekke het gewissel van bestekopnames oor die dag se klante tot watter nuwe horlosieonderdele aangekoop moes word.

“Ek het oor die weke en maande, later die jare heen, so gewoond geraak aan die stemme aan die ander kant van die muur – hulle het later soos familie gevoel. Deel van my lewe. Wanneer ek saans die twee so hoor gesels het, het ek ’n gevoel van geborgenheid ervaar. Huislikheid. ’n Gevoel van . . . Kom ons noem dit maar ‘harmonie’.

“Die gesels het altyd by alledaagse dinge begin. Wie in die loop van die dag horlosiebatterye kom vervang het. Wie hulle horlosies se bandjies laat regmaak het. Oom So-en-so wat al weer kom vra het of hulle nie tog asseblief sy bril se armpie kan vasdraai nie. Die skroefie bly uitglip, en sonder die bril kan hy nie sien om dit self vas te draai nie.

“‘Ek bly vir hom sê hy moet ’n nuwe bril kry,’ sê die horlosiemaker, elke keer wanneer hy die storie vertel. Hy is lief daarvoor om stories weer en weer te vertel, asof hy só dubbel seker wil maak dit het wél gebeur. ‘Want,’ sê hy dan vir die begrafnisondernemer, ‘ek dink ook nie hy sal mét die bril die skroefie kan indraai nie. Maar nee! Hy sê hy het nie meer genoeg tyd oor op hierdie aarde om ’n nuwe bril die moeite en die geld werd te maak nie.’

“Dan antwoord die begrafnisondernemer altoos met groot deernis.

“U sal verstaan waarom ek vra dat dié deel van die gesprek tussen ons bly.

“Nou, die aand ná die oproep . . . Ek het oudergewoonte gehoor hoe my buurman sy dag se gebeure verbaal notuleer. Daarna het hy, seker vir die honderdste maal, uitgewei oor sy groot obsessie: die chronometer, wat – en hier haal ek hom aan – ‘seker een van die grootste omwentelinge in die moderne seevaart’ teweeg gebring het. Volgens die horlosiemaker is die chronometer een van die ‘kernapparate’ wat uiteindelik direk, maar ook indirek, globalisering soos ons dit vandag ken, in die hand gewerk het. Kan u nou meer, Meneer die Voorsitter. ’n Paar wysertjies wat heen en weer tik. En siedaar! Globalisering. So het die buurman dit daardie aand weer oor sy geliefde chronometer gehad, en daar – soos uit die niet! – onthou ek die dag toe die vrou met die arm vol boeke hier staan. By die deur. Met die een of ander storie oor skipbreukelinge. ’n Jehova-getuie, het ek eers gedink. Maar toe nie, Meneer die Voorsitter. Toe nie!

“Hier is die boekie, as u daarna wil kyk. Die volgende oggend, die oggend ná die horlosiemaker se chronometer-relaas, het ek dit dadelik uit die boks met die plakker Nutteloos gaan haal. U sien, danksy my deeglike liassering en die stelsels wat ek hier in plek gestel het, hoef ek nooit na ’n ding te soek nie. Ek het met die boekie by my lessenaar gaan sit, daardeur geblaai.

“Daarna het ek natuurlik met die skrywer kontak gemaak. Vandag is daar op enige gegewe oomblik etlike van die boekies hier in die museum beskikbaar. Ek wil my verstout om te sê dis te danke aan my toewyding aan die onderwerp oor die laaste paar jaar dat daar vandag so ’n lewendige belangstelling in dié boekie is. Hierdie eksemplaar is egter my persoonlike eiendom. So, as u nie omgee nie, wys ek dit net vir u.

“Daar is foto’s in. ’n Magdom foto’s. En sketse. Van Skipskop is daar ook ’n handgetekende kaart, kompleet met ’n lysie wat aandui wie waar gewoon het. Dit was ’n ware vonds vir my navorsing! Goud het ek raak geboor toe ek maar gehoop het op ’n ou skulpie of twee.

“Dit was op daardie oomblik, toe ek daar in my kantoor deur die boekie sit en blaai, dat ek gedink het: Miskien kon ek tóg ’n uitstalling bou. En dán nooi ek die joernalis om die museum te besoek! Die ruimte hier in die voorportaal was, soos u weet, destyds onderbenut.

“As ek die uitstalling in die instapportaal installeer, het ek gedink, sou dit die eerste ding wees wat besoekers by hulle aankoms sien. Dit sou die trots van die museum kon word. Die kroonjuwele! En dan vloei dit sommer natuurlik oor in die skeepswrakafdeling. Die brekende golwe en die meeu se gekrys hoor ’n mens buitendien tot in die voorportaal. Die ideale klankbaan vir ’n Skipskop-uitstalling!

“Ek het ’n nuwe dokument op my rekenaar oopgemaak.

“Miskien kon ek selfs van iewers af ’n CD van daardie David Kramer-liedjie bestel, het ek gedink. Dan kon ek die Geluide van die see, soos wat die vorige museumkurator op die kasset geskryf het, soms daarmee afwissel.

“Kan u u my opgewondenheid indink? Daardie dag toe ek eensklaps meer het om te doen as net afstof en uitvee en wag op besoekers wat nooit opdaag nie. Ek het ’n projek gehad!

“Ek het begin tik. Ter voorbereiding op vandag se vergadering het ek die dokument wat ek daardie dag opgestel het, uitgedruk. Hier is dit, Meneer. Sal ek vir u voorlees?

“Projek: Skipskop-uitstalling (2012)

“BESKIKBAAR:

“Skets van stigter

“Portret van stigter se vrou

“Boek met inligting

“Ek het teruggeskuif in my stoel. Vir meer sou ek buite die grense van die museum se mure moes gaan soek. Veral as ek ’n uitstalling wou aanpak. Ek sou van iewers vandaan stukke geskik vir uitstalling moes bekom. Miskien, het ek gedink, sou iemand aan die museum ’n meubelstuk of twee kon leen. ’n Ou tafel of ’n stoel. Dalk ’n paar skulpe wat nog van Skipskop af kom. Enigiets wat tot ’n uitstalling sou kon bydra. As dit op ’n uitstalling sou neerkom.

“In daardie stadium het ek uiteraard nog nie mooi geweet hoe en wát nie. Hoe weet ’n mens waarna jy soek as jy nie weet wat jy daarmee wil maak nie? Hoe weet ’n mens wat jy wil maak as jy nie weet wat jy tot jou beskikking het nie? ’n Kernprobleem sou wees om mense te vind wat meubels of aandenkings hét, én wat bereid sou wees om dit aan die museum te leen. Mense is mos maar heilig op hulle goed, Meneer die Voorsitter.

“Ek het my opsies oorweeg. Ek kon fotostate uit boeke maak. Veral dié boek met die foto’s en sketse sou handig te pas kom, het ek gedink. Maar besoekers wil nie lees in ’n museum nie. Hulle wil kyk. Hulle wil op ’n visuele vlak sién hoe die verlede gelyk het. Ek hoef dit sekerlik nie vir Meneer te sê nie, maar vandag se mense is lui verbruikers van inligting.

“Miskien kon ek ’n advertensie in die plaaslike koerantjie plaas, het ek gedink. Daarin kon ek vra vir skenkings, of selfs tydelike lenings. Adverteer vir items vir ’n Skipskop-uitstalling.

“Ek het ’n nuwe lysie begin. Bo-aan het ek getik: Skipskop – plan tot uitvoering. En daaronder: Advertensie in Suidernuus om te vra vir skenkings of lenings.

“Maar ek is ’n vrou wat nugter is oor my probleme, Meneer die Voorsitter. Ek het besef ek sou nie net op ’n advertensie kon staatmaak nie. Daar is immers altyd die moontlikheid dat niemand op jou advertensie reageer nie.

“Verdere opsies moes bedink word. Ek moes elke moontlikheid ondersoek. Maniere bedink waarop ek die verlede betekenisvol sou kon uitbeeld sonder dat besoekers te veel hoef te lees of te dink. Dit moet vir besoekers maklik wees om ’n uitstalling te verstaan. Om ’n insiggewende museumuitstalling aanmekaar te sit en aan te bied, is ’n kuns, Meneer die Voorsitter. Dit is nou maar een ding wat nie twee is nie! Om aan mense so ’n geïnterpreteerde weergawe van die verlede te bied – klaar verteer. Dit sit nie in enigeen se broek nie!

“So. Gestel ek kry inderdaad geen antwoord op my advertensie nie, het ek gedink. Hoe beeld ek dán ’n dorp uit wat nie meer bestaan nie? Sonder inligting. Sonder voorwerpe wat die dorp en sy geskiedenis illustreer? En dít boonop sonder enige begroting!

“Ek het probeer dink aan museumuitstallings waardeur ek self in die verlede aangegryp is. Tentoonstellings wat my op my reise deur Suid-Afrika, en ook deur die wêreld, aangegryp het. Ja, Meneer die Voorsitter. Daar wás ’n tyd toe ek myself ’n wêreldreisiger kon noem. En as ’n vrou wat haar beroep ernstig opneem, loop ek nooit by ’n museum verby nie. Nie toe nie, en nie nou nie. Trouens, ek sal afdraai, letterlik uit my pad gaan, as ek weet daar is ’n museum om te besoek. Of ’n kerk. Baie kerke, veral in Europa, hoef vir museums g’n tree terug te staan nie. Soos die St. Paulus-katedraal in Londen, of die Sacré-Coeur in Parys. Maar nie net die beroemdes nie, hoor. Ek onthou byvoorbeeld nog net so goed, in ’n agterstraat van ’n woonbuurt in Buenos Aires, in Argentinië, die klein huismuseum ter ere van Carlos Gardel, vader van die tango.

“Baie museums in Suid-Afrika het natuurlik ook aangrypende uitstallings. Daar is die grotes, Meneer die Voorsitter. Die Apartheidsmuseum, die Voortrekkermonument, die Joodse Museum in Kaapstad, die Kasteel. Maar daar is ook die kleineres. Dink maar aan die Uilhuis op Nieu-Bethesda.

“Party uitstallings vergeet ’n mens gou. Ander vergeet jy nooit nie.

“Soos die Pangaman in Pretoria. Ek het die Pangaman-uitstalling as kind tydens ’n skooluitstappie gesien. Al die pad van Bloemfontein af het ons gery in die skoolbus. Watter museum was dit tog? Die Polisiemuseum, dink ek. Die Pangaman was treffend omdat hy by ons soveel vrees ingeboesem het. Die vrou daar in haar motor, haar gesig vertrek in ’n geluidlose gil. En skuins voor haar, met sy gesig na die motor gedraai sodat besoekers slegs sy rug kon sien, die groot man in die blou oorpak. Sy hand omhoog met ’n panga daarin. Nou nog, Meneer die Voorsitter, ná al die jare, as ek in die donker alleen iewers moet heen in my Uno’tjie, dan dink ek aan hom.

“Maar natuurlik sou die doel van my uitstalling nie wees om vrees in te boesem nie!

“En uiteraard was ek ook gekniehalter deur ’n gebrek aan veral finansiële ondersteuning. Marmer en sandsteen het ek byvoorbeeld nie gehad om die verlede meter vir meter op te laat uitbeitel, soos by die Voortrekkermonument nie. Of blink glas en donker houtvloere, of glanspapier om muurpanele op te laat druk, soos in die Hector Pieterson-museum nie. Daardie soort geld was my nie beskore nie.

“Wat ek wel tot my beskikking gehad het, was maande se opgespaarde kleinkasgeld. Nou word ek onder meer daarvan aangekla dat ek die museum se fondse wanbestee het, maar waarlik, Meneer die Voorsitter, oor die jare heen het ek vir die Museumraad baie geld gespaar. In daardie stadium het ek met van die geld in die kleinkas alleenlik ’n bietjie koffiegoed aangekoop. Dan en wan skryfbehoeftes, of miskien ’n klein hoeveelheid papier om op te druk. Maar so ’n pak papier het die museum ook goed ’n jaar gehou!

“Ek was nog nooit ’n spandabelrige vrou nie, Meneer die Voorsitter. Ek is dit steeds nie. Ek draai my sente, én my bladsye, om. Soos u kan sien. Selfs die dokumente wat ek vandag hier aan u voorlê, het ek gedruk op papier wat reeds voorheen gebruik was. Ek druk op die een kant, en wanneer die inligting nie meer van toepassing is nie, draai ek die bladsy om en druk op die ander kant. Ek spaar altyd. Waar ek ook al kan. Om die waarheid te sê, Meneer die Voorsitter, ek dink nie die Museumraad het die vaagste benul hoeveel my fyn finansiële beplanning en streng hand op die beursie u al gehelp spaar het nie.

“Ieder geval. Dit gaan nie hier oor die geld wat ek gespaar het nie, maar oor geld wat ek nié gespaar het nie.

“Ek het besef ek sou klein moes dink. Ek moes iets kleins dog indrukwekkends optower. Iets soos die skaaluitbeelding, dalk, van die geveg tussen die Skotte en die Engelse in daardie oorlogsmuseum in die noorde van Skotland. Waar ’n mens die landskap mooi kan sien, en presies kan sien waar die verskillende troepe gestaan het. Mense hou van skaalmodelle.

“En daar het ek my antwoord gehad! ’n Skáálmodel! Dís wat ek moes bou. ’n Skaalmodel van Skipskop!

“Ek het aanvanklik gereken die geld in die kleinkas sou genoeg wees. Seesand kon ek sommer van Waenhuiskrans af aanry. Fynbostakkies en blare, dié kon ek hier bokant die dorp teen Heuningberg gaan pluk. Met bloemiste-oase sou ek heuweltjies kon prakseer waarin ek die plante kon druk, het ek gedink. Met die huisies sou ek ook ’n plan kon maak.

“Ek tik toe verder. En weer eens, Meneer die Voorsitter, ek het die dokument bewaar. Ek het dit uitgedruk. Hier is dit. Ek lees dit vir u voor:

“Skaalmodel van Skipskop

“BENODIGDHEDE:

“Sand

“Fynbos

“Oase

“Wag, dink ek toe. ‘Begin by die begin, juffrou Visagie,’ het ek vir myself gesê. Deeglik en sistematies. Dis hoe ek altyd werk, Meneer die Voorsitter.

“Ek moes begin met ’n lys van wat alles gebou en uitgebeeld moes word. Met so ’n lys byderhand sou ek die benodigdhede beter kon vasstel. Soos ’n bom het dit gewerk.

“Ek het weer begin tik. Nog ’n lys:

“Skaalmodel van Skipskop

“WAT UITGEBEELD MOET WORD:

“Huise

“Duine

“See

“Fynbos

“Begraafplaas

“Bote

“Mense

“Strate

“Ek het probeer dink wat ’n mens alles op so ’n vissersdorpie sou aantref.

“Visse, het ek bygeskryf.

“Visvanggereedskap

“Voor my geestesoog het ek my die voltooide skaalmodel probeer voorstel. Die huisies. Die duine. Die vissermanne by hulle bootjies. ’n Dwergwêreld. Miniatuurgrafsteentjies en bietoubossies. Seemeeue so groot soos ’n koppiespeld se kop. ’n Vrou van so vyf sentimeter hoog wat met vet armpies voor ’n agterdeur staan en brood knie.

“Ek kon my opgewondenheid nouliks beteuel.

“Ek het die lys weer van bo af deurgewerk. Huise. Watter soort huise moes ek bou? Daarvoor het ek weer deur die boekie geblaai – die een waarvan ek sopas gepraat het. Ek het die kaart daarin bestudeer en aantekeninge gemaak.

“Daar was – ek lees vir u voor:

“1. ’n Skooltjie met ’n sinkdak

“2. ’n Kerkie met ’n rietdak

“3. Buitetoilette met sinkdakke

“4. Ou rietdakhuisies

“5. Nuwer huise met asbesdakke

“6. Rondawels

“Toe tik ek by:

“7. Woonwaens

“Dit was immers ’n vakansiedorp. So, daar moet tog ook mense gewees het wat met hulle woonwaens daar was, het ek gedink. En:

“8. Tente

“Toe sit my verbeelding op loop, Meneer die Voorsitter. Ek is terug na my oorspronklike lysie.

“Motors, het ek hier getik. Donkiekarre. Perde. Honde.

“Soos wat ek die een ding neergeskryf het, het dit my aan ’n volgende ding laat dink. Soos domino’s het hulle begin val, Meneer die Voorsitter. Die woonwaens het my laat dink aan die motors waarmee die mense gery het. Die motors het my laat dink aan die donkiekarretjies. Toe onthou ek van al die ander diere! Perde en honde. Katte miskien. En toe dink ek aan die soogdiere, wat my weer van die voëls laat onthou het.

“Seemeeue, het ek hier getik. En Tobies.

“Toe ek begin, kon ek net dink aan die sand en die fynbos wat ek sou nodig hê, en hier het ek nou hierdie allemintige lys gehad! Uiteraard, Meneer die Voorsitter, sou die skaalmodel veel groter word as wat ek my dit daardie dag voorgestel het. So gaan dit mos maar. As ’n mens eers met ’n ding begin het, kom jy gou agter jy kort nog dit of dat.

“Telefoondrade. Padtekens. ’n Petrolpomp.

“Ek het Google op my rekenaar oopgemaak, Meneer die Voorsitter. En hier moet ek nou vir u sê: Die Bredasdorpers weet nie wat hulle al die jare aan my gehad het nie. Hier het ek gesit, dagin en daguit, en – verskoon tog dat ek dit sê – niemand het omgegee waarmee ek my besig hou nie. Maar hier was ek, en ek het inisiatief geneem. Ek het ’n plán gemaak. Ek het kreatiewe oplossings gesoek. En ek wéét van Google. Ek gebruik immers al jare die soekenjin. Hoeveel ander museumkurators op die platteland kan dít sê? Al waarmee hulle hulle besighou is boeke en stof. Daaraan heg ek natuurlik ook waarde. Aan boeke. Soos aan die Bybel. Maar nie aan stof nie. Ewenwel, Meneer die Voorsitter, ek wat Juffrou Visagie is, het ook met die tyd tred gehou. En met tegnologie.

“Building scale models of towns, het ek in die soekraampie getik.

“Visse, en bote, en hengelaars op die kaai, het ek gedink terwyl ek vir die rekenaar gewag het. Klein roeibootjies. Roeispane. Veiligheidsboeie. Ek moes tog onthou om dit ook by my lysie te voeg, het ek gedink. Lampe.

“Ek het op een van die skakels geklik. En daar, voor my op die skerm, het ’n reeks foto’s verskyn van dorpe en stede wat op klein skaal gebou is. New York, Chicago, Londen. Tot in die fynste besonderhede, met straatlampe, teerpaaie, stopstrate, dubbelverdiepinghuise. Selfs die Empire State Building! Ek het my verkyk. ’n Man met ’n aktetas, gevries by ’n ingang. Sy hand reeds teen die deur. Die venstertjies. Piepklein baksteentjies. Stegies. Big Ben. My gunsteling was die webblad van ’n man wat ’n skaalmodel van sy tuisdorp gebou het. Dit is nie ’n identiese replika nie, skryf hy op sy blad, maar dit vang sy herinneringe vas.

“Dit was veral die notas onderaan waarin ek belanggestel het.

“Die eerste stap is om op die skaal te besluit, het daar gestaan. Alles moet dan in verhouding tot die skaal gebou word.

“‘Dit is die stappe wat belangrik is,’ het ek vir myself gesê. ‘Beplanning. Dit is noodsaaklik. Ek moet beplán.’

“Dit was min of meer tóé dat ek besluit het: Ek sou ’n skaalmodel bou wat blywend sou wees. Ja, eers het ek daaraan gedink om die duine met bloemiste-oase te vorm, van verskillende fynbosplante fyn takkies te pluk en hulle in die oase in te druk. Maar toe besef ek die takkies sou mettertyd doodgaan. En hulle sou boonop nie op skaal gewees het nie. Nadat ek gesien het hoe so ’n skaalmodel kán lyk . . . Ek sou my sokkies moes optrek. Wat ek oorspronklik in gedagte gehad het, sou na niks meer as ’n ambisieuse skooltaak gelyk het nie. Nee. Ek sou ’n ander plan moes bedink. Die skaalmodel wat ek hier by die museum wou bou, het ek op daardie oomblik geweet, moet kan voortbestaan, selfs lank nadat ek nie meer hier is nie – soos wat moontlik nou kan gebeur, weliswaar veel gouer as wat ek my dit destyds sou kon indink.

“Miskien wás daar ’n tikkie ydelheid by, Meneer die Voorsitter. Maar ek het skielik die behoefte gehad om vir iets onthou te word. Ek is, wás, immers sonder kind of kraai. Wanneer mense soos ek sterf, sonder kind of kraai soos wat ek toe nog was, dan is ons storie fluit-fluit uit. Dan is daar niemand meer wat ons onthou of ons verhaal oorvertel nie. Niemand wat ’n graf gaan opsoek nie. Jou naam word niksseggend. Sonder inhoud of betekenis. Ek wou ook vir iets onthou word, Meneer die Voorsitter. Deur iemand.”

Die skaalmodel

Подняться наверх