Читать книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald - Страница 4

Оглавление

“Meneer die Voorsitter. Dankie vir die geleentheid om my kant van die saak te mag stel. Die omstandighede is moeilik. Miskien nie vir u nie, maar beslis vir my.

“Ja, Meneer die Voorsitter, ek hét die brief gelees. Ek is bewus van die klagtes teen my en ek besef dis nou tyd om bestek op te neem en ’n oordeel te vel. Ek wil baie dinge sê. Maar laat ek die beskuldigings sistematies deurwerk. Ek wil nie emosioneel raak nie. Ek sal begin by die eerste klagte, met spesifieke verwysing na die opmerking oor die tuin wat vir besoekers oopstaan en as openbare besit beskou word . . .

“Of nee. Wag. Laat ek dit eerder chronologies benader. Meneer. Die besoekers. Of sal ek liewer sê: die gebrék aan besoekers. Dít is waar alles begin het.

“Meneer die Voorsitter, kom ek vertel u hoe my dae hier in die museum verloop. Of meer akkuraat: hoe my dae verloop hét. As agtergrond tot die groter verhaal. Ter inleiding. Ek het, soos u kan sien, ’n lêer saamgebring met die nodige dokumente om my kant van die saak te steun. Ek sê nou ‘lêer’, maar dit is veel lywiger as ’n lêer. Dalk moet ek eerder van ’n wakis vol bewyse praat.

“Meneer die Voorsitter. Hierdie dokument, die een getiteld Finansies. Laat ek dit hier op die tafel vir u neersit. Ek sal telkens daarnatoe terugverwys. Die eerste bladsy is ’n opsomming. Kyk. Hier kan u self sien wat ek reeds ’n geruime tyd besef het. Ek vermoed u moet dit ook al begin dink het? Dat hierdie museum in die beseringstyd van sy bestaan is. Niks oorleef deesdae meer as dit nie geld maak nie. Dit is hoe dit in vandag se samelewing gaan: Maak geld, of maak toe.

“Kyk, hier op die eerste bladsy. Wat sien u, Meneer die Voorsitter? As ons vandag eerlik is met mekaar, moet u erken: Dit gaan nou al etlike jare só. Broekskeur. Nie dat die museum hier op Bredasdorp ’n uitsondering is nie. Nee. So gaan dit seker maar by die meeste plattelandse museums wat op donasies en toegangsgeld moet staatmaak om te oorleef. En by die Skeepswrakmuseum is besoekers skaars.

“Daar is weliswaar die laerskool se jaarlikse uitstappie, maar soos u self weet, Meneer: Die toegangsgeld wat die skool betaal, is gewoonlik minimaal. Die skoolhoof kom reeds aan die begin van elke jaar met u, die Museumraad, oor die bedrag ooreen. Dit word gesien as ’n skenking, ’n gebaar van waardering van die skool se kant. Maar, Meneer die Voorsitter, mag ek u vra: Weet die Museumraad dat die kinders jaar ná jaar ’n spoor van verwoesting hier agterlaat? Ek wil amper vir u sê dis die skenking nie werd nie. Hier binne moet ek net keer. Die spul vingertjies wil elke knoppie druk. Die klein besoekers hardloop rond en stamp aan mekaar. Een jaar moes ek glad die onderwyser vra om een van die klein rampokkers uit die gebou te verwyder. U sal dit nie glo nie, Meneer die Voorsitter: Hy, die bose besoekertjie, het met gebalde vuiste teen een van ons glasvertoonkaste gestaan en hamer!

“En dan, Meneer die Voorsitter, asof dit nie genoeg is nie, vaar die spul terroriste, wanneer hulle hier binne klaar is, die tuin in. Die einste tuin waar ék kwansuis verwoesting gesaai het. Daarby kom ek nog. Netnou, wanneer ek een vir een op die klagtes reageer. Nou skets ek eers die agtergrond. Die scenario, die verhoog waarop alles afgespeel het. Meneer die Voorsitter, daar onder die groot melkhoutboom, daar gaan sit die kinders ná elke besoek met hulle kospakkies. Meneer! En alles word net daar neergegooi. Álles!

“Jaar vir jaar is dit maar altoos ek, ék wat juffrou Visagie is, wat agterna moet opruim.

“En ek ruim op. Ek vryf die vertoonkaste totdat hulle weer blink, daar waar die vetterige handjies gevat het. Nou moet ek byvoeg: Ek is bly die kinders kry darem die blootstelling. Dat hulle soms, al is dit maar een maal ’n jaar, kan sien die wêreld is nie net sewe jaar oud nie.

“Máár, Meneer die Voorsitter, geen besigheid kan bestaan as daar nie geld deur die boeke kom nie. U weet wat in hierdie dokument met die opskrif Finansies staan. Maar kyk gerus weer. Hierso. Links is die uitgawes neergeskryf, en regs die inkomste. Elke keer as daar ’n uitgawe aangegaan word, of ’n inkomste gegenereer word, bring ek dit in die boeke aan. ‘Jy het die kop en die dissipline van ’n boekhoudster, Berdina,’ het my pa altyd gesê. Dit is waaraan ek dink wanneer ek die museum se boeke moet laat klop. Of ’n strokie liasseer. My boekhouding is onberispelik. Al moet ek dit nou self sê, Meneer die Voorsitter. Elke uitgawe is hier aangeteken, en elke inkomste.

“U kan duidelik sien wat aangaan. Die uitgawes is wel nie veel nie, maar die inkomste is nog heelwat minder. Dáár lê die knoop.

“Terloops, Meneer die Voorsitter. U sal sien ek het die state aangeheg vir die volle elf jaar wat ek nou aan die museum verbonde is. Strokies inkluis. Ek verstaan die tydperk onder bespreking behels veral die afgelope twee jaar. Ons sal daarby kom. Hier, by die state van die afgelope vier-en-twintig maande het ek ’n ekstra stel aantekeninge bygeskryf. Ter verklaring en verheldering van elke inskrywing.

“Maar eers verder oor die voete. Toeriste wat die dorp besoek, beskou Bredasdorp dikwels bloot as die laaste halte voordat hulle by die see aankom. Waenhuiskrans, Struisbaai, L’Agulhas. Party mense ry selfs hier om na De Hoop, na die natuurreservaat toe, of na Infanta. Maar sal iemand ’n banknoot uithaal en deur die dorp se verlede kom stap? Nog nooit as te nimmer! Om die waarheid te sê, en ek het begrip daarvoor, teen die tyd dat hulle Bredasdorp bereik, stop baie toeriste nie eens vir ’n verversing nie. Dan is dit net voet in die hoek see toe. Die laaste skof van twintig minute ná tien tot veertien uur, selfs agtien ure op die pad uit die noorde. Wie sal dan nou hier wil kom stilhou?

“Maar die dorpenaars, die skrywer van u brief inkluis . . . Ek weet regtig nie hoe hulle dink nie, Meneer. Ja, u wil nie die skrywer se naam noem nie, maar ek het ’n sterk vermoede wie dit kan wees. Dit maak nie saak nie. Ons fokus vandag op die inhoud van die brief, nie op sy oorsprong nie.

“Ek was aan die praat oor die dorpenaars. Ek reken die meeste van die dorpsmense stel eenvoudig nie belang nie. En ek vermoed diegene wat wél belangstel, is te suinig om toegangsgeld te betaal. Hier is ’n vrou – ek sal nie name noem nie – wat so een keer per jaar besoek aflê. Elke keer skimp sy vir afslag. Omdat sy kwansuis ’n ‘inwoner’ is. Asof dit haar ’n gratis pas gee!

“Jaar vir jaar kry ek die gevoel die vrou reken ek wat juffrou Visagie is, het op die dorp se geskiedenis nie dieselfde reg as sy nie. Dat ek bloot ’n inkommer is. ’n Vreemdeling. Dat die verlede waarmee ek my daagliks bemoei, nie aan my ook behoort nie. U weet, Meneer die Voorsitter, my voorgeslagte was ook van hier. Maar dit tersyde. Hoe moet die mense dan nou ook weet my voorsate het hier gewoon? Ek, wat hier aangekom het met andermansvan. Kind- en kraailoos.

“Belangriker: Elf jaar, élf jaar al, hou ek in hierdie museum die dorp se verlede in stand. Meer nog: Ek probeer die bestaande versamelings uitbou en uitbrei, en daarmee saam die geskiedenis wat onthou word. ’n Mens sou tog reken dit behoort my ook deelagtig te maak; dat ek daardeur ook deel mag voel van die dorp en sy verlede? Maar nou ja.

“Ek het my nooit juis veel aan die dorpsmense gesteur nie. Ek weet wat ek weet.

“Ek besef ook ek moenie te krities staan teenoor die mense se oënskynlike gebrek aan belangstelling in hul eie geskiedenis nie. Wie speel dan nou ook herhaaldelik toeris in jou eie dorp of omgewing?

“So, ja, Meneer die Voorsitter. Ek bekommer my ’n geruime tyd al oor die voortbestaan van die museum. Dit is ’n kwessie van oorlewing. Vir die museum én vir my. Ek moet die werklikheid in die gesig kyk, want die werklikheid besorg my my brood en botter. Of weerhou dit.

“Meneer die Voorsitter, daar het dae verbygegaan, dáé, dat die museum nie ’n enkele besoeker ontvang het nie. Uiteraard is inkomste uit toegangsgeld in die inkomstekolom van die inkomstestaat, hier, in die finansieslêer, skraal. En ek kan vir u sê, Meneer, die syfers op papier praat hard. Maar nie so hard soos dagin en daguit se stilte nie. Om te wag – dit rek die ure uit. Om te wag, as jy weet hoe nodig dit is dat die deurklokkie moet lui, dat mense moet inkom en geld moet neersit; dit maak ’n mens desperaat, Meneer.

“Donasies? Ag! Daaroor praat ek nie eens nie. Dié is selfs nog minder. Jare gelede, soos u self weet, het die oumense nog soms in hulle testamente ’n sommetjie geld aan die museum bemaak. Veral toe die Museumraad nog bestaan het uit verteenwoordigers van families wat al geslagte lank in die distrik woonagtig was. Mense wat die dorp se geskiedenis, en die geskiedenis van die dorp se mense, geken het. Tot drie, selfs vier geslagte terug. Raadslede vir wie die museum saak gemaak het.

“Nou, ek sê nie vandag se Museumraad gee nie om nie, Meneer, of dat u die geskiedenis nie ken nie. Inteendeel. Ek sê maar net dat die museum die laaste ding is waaraan mense dink wanneer hulle vandag hul testamente opstel.

“En, met respek, hoeveel van vandag se museumraadslede is nog Bredasdorpers wie se families al geslagte in die distrik aankom? Erken dit maar, Meneer die Voorsitter: Deesdae bestaan die raad grotendeels uit Gautengers, mense wat hierheen gekom het om aan die misdaad in die noorde te ontsnap en wat nou ywerig tot die dorp wil bydra. Ek kla nie. Ek wys ook nie vinger nie, Meneer. Ek wys bloot uit. ’n Raad is ’n raad. En dit is beter as geen raad nie. Ek merk maar net op.

“Nietemin. Laat ek aangaan.

“Daar is wel nog die één instansie wat elke jaar, hier teen Kersfees se kant, geld gee. Dié instansie doen dit anoniem, soos u goed weet. Die skenking word jaarliks in ’n volgestopte koevert aan my oorhandig. En ek gaan betaal dit dan by die bank in met die verwysing Donasie. Ek weet en u weet van watter instansie ek praat. En mag ek vra dat u bevestig dat die Raad my aangesê het om sake so te behartig, dat ek deur die Raad aangesê is om die skenking anoniem te hanteer? ‘Ons wil nie by politiek betrokke raak nie,’ is aan my gesê. En: ‘Geld is geld.’

“Dankie, Meneer die Voorsitter. Dan gaan ek voort. Hoewel ons dankbaar is vir die donasie, is dit nie naastenby genoeg om die voortbestaan van die museum te verseker nie.

“As ek nou terugdink en eerlik moet wees. Ek reken die geld en die besoekers het so saam-saam opgedroog. Dink ’n bietjie daaroor, Meneer. Hoe minder die geld geraak het, hoe minder kon ek doen om meer besoekers te lok. Verstaan my mooi, Meneer die Voorsitter. Ek soek nie verskonings nie, en ek kla nie. My tyd hier is, wás – afhangende van wat vandag gebeur – goed. Maar wie wil nou oor en oor na dieselfde verlede kom kyk? Dit boonop ’n verlede wat reeds dekades lank op dieselfde manier uitgebeeld word? Maar hoe vernuwe ’n mens ’n uitstalling sonder geld?

“Elf jaar gelede was daar in my uitgawekolom onder meer ’n inskrywing Opknapping en uitbreiding. Die laaste klompie jare is daar onder uitgawes net my salaris, en dan die skraapseltjie geld vir die kleinkas, waaruit ek alles moet doen. Alles.

“U vra wat het dit alles te make met die klagtes wat in die brief aangevoer word? Meneer die Voorsitter, as u net ’n rukkie geduldig kan wees. Asseblief. Gee my kans om my kant van die saak te stel. Die agtergrond is belangrik as u my latere besluite en optrede wil verstaan.

“Party dae, wanneer dit so stil geraak het hier, het ek deur die museum gestap om aan die gevoel van desperaatheid te probeer ontkom. Deur elke vertrek stap ek, en dan probeer ek die uitstallings besigtig asof vir die eerste keer. Dis natuurlik haas onmoontlik. Hierdie ruimte het oor die jare vir my só bekend geraak . . . Dit voel soos huis. Of, laat ek liewer sê: Dit hét soos huis gevoel. Ek moet seker daaraan gewoond begin raak om in die verlede tyd te praat.

“Soms gaan ek daar langs die ou koolstofie in die kombuisuitstalling sit. Op die riempiestoeltjie. Agter die toutjie met die nota wat sê: Moet asseblief aan niks raak nie. Please do not touch. Dankie. Thank you. Dan probeer ek my voorstel watter geure daar 150 jaar gelede in so ’n kombuis sou gehang het. Wat sou daar op die stoof geprut het? Wie sou almal agter die vuurherd gestaan en werskaf het, en watter kruie en speserye sou hulle tot hul beskikking gehad het? Soggens ná melktyd sou hulle melk gekarring het vir botter, reken ek. En die kombuis sou nog na varsgebakte brood geruik het. Verbeelspeletjies, Meneer die Voorsitter. Met die hoop om op ’n gedagte te kom, op soek na inspirasie, ’n idee waarmee ek, met my klein begroting, tog nog iets hier kon vernuwe.

“Ander dae staan ek daar teen die boeg van die boot in die skeepswrakafdeling en luister na die klankbaan van die museum. Dít, die klankbaan, skakel ek aan wanneer ek hier instap. Die heel eerste ding wat ek doen, dis nou nadat ek die alarm afgesit het, is om die speelknoppie te gaan druk. Sommer nog so handsak onder die arm. Dan spoel die klanke deur die luidspreker en deur die hele museum. U weet van watter opname ek praat, Meneer die Voorsitter. Die branders wat teen die strand breek, en die seemeeu wat tussendeur roep. Oor en oor laat ek dit speel. ’n Deuntjie kan ’n mens dit nie noem nie. Die branders wat elke keer op presies dieselfde oomblik breek, die meeu wat in dieselfde stilte skrou. Ook saans, voor ek huis toe gaan, is dit die laaste ding wat ek doen. Handsak onder die arm druk ek die stopknoppie. Dan verstil die lewe hier in die museum totdat ek die volgende oggend terugkeer.

“Nou moet ek darem byvoeg: In die ganse land is daar op die platteland nie nóg ’n museum met sulke vernuwende idees nie, daarvan is ek oortuig. As ek reg verstaan het, is daardie seegeluide-bandjie al van die 1970’s of 1980’s af hier in gebruik. So innoverend! Agtergrondmusiek tot die lewe self, dink ek altyd. Nes die verwagting wat deesdae se films by mense wek. Ook vir die werklikheid van hulle bestaan soek hulle ’n klankbaan. Ek sien mos hoe die hoërskoolkinders smiddae hier verbystap. Op pad huis toe. Of terug skool toe vir atletiekoefening. Of rugby. Altyd met die oorfone in hulle ore. Hoofkarakters in hulle eie onderskeie verhale. Die klere sorgvuldig gekies om by elke spesifieke rol te pas.

“Nou, mý verhaal het so stil-stil hier in die Skeepswrakmuseum afgespeel. Met uitsondering van die laaste jaar of wat – die tydperk vandag hier onder bespreking – was die res van my tyd hier omtrent elke dag dieselfde. Dagin, daguit. Jaarin, jaaruit.

“Met die opdroog van die lewe hierbinne het ek al geworstel lank voordat die navraag van die koerant gekom het – daarby, by die oproep van die koerant, kom ek spoedig, Meneer die Voorsitter. Maar eers: Hoe kon ek die wrakuitstalling verbeter? Dit het ek baiemaal daar teen die boeg gestaan en wonder. Terwyl ek na die beelde van toentertyd se duikers in hulle loodsware duikpakke kyk, het ek my die koue, stil onderwaters probeer verbeel. Die breekware wat hulle op die bodem van die see gaan haal het. Koperware. Vrag uit vergane skepe. Koppies en messegoed. ’n Stukkende pop. Wit en blou skerwe porselein. Die lyste vragitems wat ná skipbreuke op veilings verkoop is, het ek bestudeer. Kiste vol tee, gars, koffie, whiskey. Wol. Hoe drinkbaar nog sou u reken, Meneer die Voorsitter, is tee nadat dit in die see geval het? Stel u voor! ’n Overbergse Tea Party op Waenhuiskrans.

“Kan u u dit indink? Die dek van die Arniston. Vol gewonde soldate, al wiegend op pad huis toe van Ceylon af. Sonder chronometer aan boord neuk hulle noord – onwetend land toe. Verbeel u u is self soldaat op daardie skip, onder in die klam pakruim, wanneer die kaptein – só seker van sy koers – teen die rif vasvaar.

“Dink aan die Birkenhead. Hoor u die dowwe stamp van die romp teen daardie voorheen ongekarteerde rots? Of sou dit ’n harde knal gewees het? Die chaos in die stuurkajuit. Die kaptein wat roep: Vroue en kinders word eerste gered! Die doodse stilte van die soldate wat asof versteen bly staan en so, op aandag, na die seebodem wegsink.

“Al die skepe wat hier aan die Suid-Kaapse kus op die rotse geloop het.

“Meneer die Voorsitter, sou u Amsterdam eendag besoek, moet u daar tog iets gaan besigtig. Ek praat nou nie van Amsterdam hier, in Mpumalanga, nie. Nee. Amsterdam in Nederland. Daar moet u tog gaan kyk na die VOC-skip wat as museum gerestoureer is. Dít is nou ’n goeie idee vir ’n museum, het ek gedink. ’n Houtskip, gerestoureer tot sy eertydse glorie. ’n Museumskip, drywend op die water. Daar waar dit hoort. ’n Mens klim met ’n trapleertjie op na die dek en verken van daar af al die verskillende vlakke en kajuite. Die bodek, die uitkykpunt, die kaptein se kajuit, die stuurkajuit, die hangmatte van goiing onder in die buik, waar die matrose geslaap het.

“Het ons maar die fondse gehad om op Waenshuiskrans of L’Agulhas só ’n museum te bou, Meneer die Voorsitter! Kan u u die aardigheid voorstel?

“Noudat ek daaraan terugdink. Was daar in die buik van daardie VOC-skip nie ook geluide uit ’n bandspeler hoorbaar nie? ’n Onheilspellende gesnork wat opklink uit die hangmatte? Of dink ek nou aan die tronkmuseum in Skotland? Daar is ook sulke goiingmatte waarin slagoffers van die geskiedenis slapend op hul sy lê – van die besoeker af weggedraai. Al snorkend. Koue rillings het die hompe mens my gegee toe ek daar deurstap. So werklik! Maar waar het die bandjie gespeel? Dit kan ek nou nét nie meer plaas nie! Ek vervies my so wanneer herinneringe deurmekaarloop. Maar ek is seker dit gebeur met u ook maar, Meneer. Die tyd spaar niemand nie.

“Nietemin. Ek reken steeds die Skeepswrakmuseum is op die Suid-Afrikaanse platteland die enigste museum met ’n klankbaan.

“Ja. Byt asseblief vas, Meneer die Voorsitter. Ek is amper by die draai in my storie. Ek vertel u net eers van my eerste nege jaar hier op Bredasdorp. Elke dag was maar dieselfde. So, dié deel van die storie is kort.

“Meneer die Voorsitter, net gou terug by die boeg. Dikwels, wanneer ek so gestaan en wonder en droom het daar by die skip, het ek gewens daar was ook ’n manier om die reuk van die see na te maak. Sodat besoekers hulle sou kon verbeel hulle rúik die branders, al die pad van Waenhuiskrans af.

“Nou ja, juis so was ek weer eendag daar by die wrakuitstalling doenig, toe ek deur die newels van my verbeelding en bokant die branders se gedruis en die meeu se gekrys die telefoon hoor lui.

“En destyds, dis nou voor die afgelope ruk se omwentelinge, het die telefoon hier nooit gelui nie. Nóóit.

“Toe die skril geluid dus so skielik bo die seegeruis opklink, het ek my gedagtes net daar laat val en dadelik gehardloop. ’n Bietjie stadiger daar om die draai waar die skeepslatrine staan, want daar is ’n plank in die houtvloer wat kraak. As ’n mens op hom trap, wiegel die latrine op sy plek, groot en stewig soos hy daar staan, en ek vat liewer nie kanse nie.

“Ja, lag maar, Meneer die Voorsitter. Ek kry vir myself ook lag, maar daar is altyd ’n stemmetjie wat waarsku die kontrepsie kan, teen elke natuurwet in en stewig soos hy daar is, dalk tóg eendag kantel en tiep. Bo-op ’n mens. En so stil soos wat dit destyds hier was . . . Wie sou my tog nou ook vermis het en kom kyk het waar ek was? Ek sou al gangreen gehad het en niemand sou nog onraad gemerk het nie.

“Ek is by die telefoon, Meneer die Voorsitter.

“Bredasdorp Skeepswrakmuseum. Goeiedag.

“Ek sorg altyd dat ek formeel antwoord. Julle kan van my baie dinge sê, Meneer – soos die skrywer van die brief inderdaad ook doen – maar een ding kan julle nié sê nie, en dit is dat ek nie te alle tye professioneel teenoor die publiek optree nie. Of dan nou opgetree hét nie.

“En toe is dit die joernalis.

“En dit is waar dit alles begin het. Die draai in die storie. U weet nou waar ek was, wat my bekommernisse was. Maar wag. Laat ek die e-pos uithaal wat sy ná die oproep gestuur het. Sien u, Meneer die Voorsitter? Elke ding is netjies op sy plek geliasseer.”

Aan: Bredasdorp Skeepswrakmuseum

Van: Bea Weideman

Gestuur: 14 Januarie 2012

Onderwerp: Skipskop

Hallo juffrou Visagie

Baie dankie vir jou tyd vanoggend.

Soos ek oor die telefoon gesê het: Ek is ’n joernalis wat oor grondsake skryf by Die Dagblad.

Ons wil graag ’n reeks artikels plaas oor Skipskop en die onteiening destyds. Dis nou byna dertig jaar gelede. Ek en die artikelredakteur gesels nog oor die temas wat ons wil dek. Ek hoop dit sal duideliker word namate my navorsing vorder.

Ek sien daarna uit om te hoor van enige inligting oor die onderwerp wat julle daar in die museum het.

Vriendelike groete

Bea Weideman

Spesialisverslaggewer: Grondsake

Die Dagblad

“’n Navraag, Meneer die Voorsitter! ’n Régte navraag oor die museum se versamelings. Dít is hoekom ek hierdie werk doen, het ek gedink. Om inligting oor die verlede te bewaar en aan mense inligting oor die verlede te verskaf. Om die geskiedenis uit te beeld, hier in die vertrekke van die museum, sodat mense ná ’n besoek kan wegstap en kan voel: ‘Ek was dáár. Ek wéét nou hoe dit was.’

“En daar gebeur dit. Iemand het inligting nodig. En dis nie sommer net nog ’n skoolkind wat inligting soek oor Michiel van Breda, die dorpsvader, of wat wil weet wanneer die eerste merino’s in die streek geteel is nie. Nee. Dis ’n joernalis. Iemand by ’n koerant. ’n Plek waar eerste aantekeninge oor gebeure gemaak word, waar geskiedskrywing begin!

“Dit was ’n ámptelike navraag. En, Meneer die Voorsitter, moet tog nie dink ek is ydel nie, maar wanneer ’n museumargivaris op ’n koerant se navraag antwoord . . . Dit skep onmiddellik die moontlikheid dat ook die argivaris se naam in die annale van die geskiedenis verewig kan word. Al is dit dan nou ook by wyse van ’n enkele aanhaling.

“Die enigste probleem was dat Skipskop in daardie stadium nie van enige van die museum se versamelings deel uitgemaak het nie. En weet u wat het ek gedink? Op daardie oomblik, met die foon nog in my hand en die vrou doer wat wag op ’n antwoord? Hier word die museum vandag met die broek op die knieë gevang. Dis wat ek gedink het. Skipskop en die gebeure wat hulle daar afgespeel het. Dit is ’n integrale deel van die dorp se geskiedenis, het die vrou aan die ander kant van die lyn gesê. En selfs al het ek my ’n bietjie vir haar vervies, was sy reg. Ek was nou nie dertig jaar gelede hier nie, maar u sal sekerlik onthou hoeveel mense die dorp binnegekom het. Ingenieurs. Geleerde mense. Mense wat groot salarisse verdien het, wat geld hierheen gebring het. Soos ek verstaan, het van die klasse hier onder by die laerskool so te sê oornag uit hulle nate gebars. Die plaaslike koerant, die Suidernuus, het in 1991 oor die sub A-klas van daardie jaar berig. ’n Groep van 86 kinders, die meeste sub A’tjies in die skool se geskiedenis. In nog ’n koerantuitknipsel uit daardie tyd word die nuwe inwoners as ’n ‘reuse- ekonomiese inspuiting’ vir die dorp en omgewing bestempel. Maar dit was natuurlik nie al kant van die verhaal nie.

“Ieder geval. Terug by my storie. By die ander kant kom ons weldra.

“Die Dagblad het inligting gesoek en ek het geweet ons het dit nie. Maar ek is nie ’n vrou wat sommerso bes gee nie. Aikona, Meneer. So maklik laat ek my nie van stryk bring nie. Al het ek op daardie oomblik my wange voel brand soos iemand wat uitgevang is sy jok, het ek my pose gehou.

“Aan die joernalis het ek gesê dat hier weliswaar geen versameling was nie, maar wel ‘beperkte bronne en inligting in ons argief’. Ja, Meneer die Voorsitter, ek hét ’n wit leuentjie vertel. Dalk wil u dit ook sommer by die klagstaat voeg. Miskien is dit daardie leuentjie wat my tot hier gepootjie het. Op papier kan dit seker beteken die hele projek wat daarna gevolg het, was op ’n leuen gebou. Dat ek dit nooit moes aangepak het nie.

“Die museum beskik ongelukkig nie oor die nodige fondse om items vir uitstallings aan te koop nie, het ek verduidelik. Sou die museum egter van lede van die publiek skenkings ontvang . . . ou meubelstukke, foto’s, en dies meer, enige vorm van aandenking, dán! Dan kan ons van ’n versameling begin praat. Dán eers kan ’n mens ’n uitstalling bou.

“‘Kry jou storie agtermekaar, Berdina,’ het ek vir myself gesê. ‘Dink flink. Jy kan mos!’

“Meneer die Voorsitter, enigeen wat op daardie oomblik hier sou instap, sou die spreekwoordelike rook by my ore gesien uittrek het. ’n Geleentheid om die museum in die koerant te sien. Dit kón ek nie laat verbygaan nie! Ek is seker u stem met my saam, Meneer. Publisiteit. Publisiteit in ’n koerant wat op meer plekke as net in die Overberg gelees word. Dit is wat die Skeepswrakmuseum nodig het! Dat invloedryke mense van die museum te hore kom. Van die museum én van sy lot. Invloedryke mense met ’n stem. Met geld. Mense met diep sakke wat saak maak. Húlle kan ’n verskil maak.

“So. Ek sou moes gaan krap, het ek geweet. Ek sou die plek behoorlik moes omdolwe, so veel as moontlik inligting bymekaarkry en dit dan aan die joernalis van Die Dagblad voorlê, of aanbied, of vertel. Hoe die geleentheid hom ook al aan my sou voordoen.

“Maar eers moes ek probeer tyd wen, want in daardie stadium het ek nog net van die twee prente op die solder geweet. En hulle was beswaarlik iets om oor huis toe te skryf, nevermind koerante toe. Meneer weet mos watter prente ek bedoel? Die twee wat ek intussen daarbinne opgehang het. Ek veronderstel ons sal netnou soontoe stap. Ieder geval. Ek het geweet ek moes hulle gaan haal en ondertoe bring.”

Die skaalmodel

Подняться наверх