Читать книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald - Страница 7

Оглавление

“Ek het u belowe dat daar ’n wending in my vertelling sal kom, Meneer die Voorsitter. Die skets van die agtergrond, die aanbied van notules – dit sterk my saak. Maar dit is nie waarom ons vandag hier is nie. U soek die storie agter die skinder. Ek dink ons is nou daar. By die klagte van wanbesteding van fondse. En die een van ‘volgehoue assosiasie met bedenklike karakters,’ soos die klaer dit stel. Wat is daardie ander sinnetjie nou weer? Hier in die brief? O ja. ’n Geheul met die gepeupel en verhoudings wat bevraagteken moet word. En ook hier, in die klaagliedere: Dit was vir almal op die dorp uit die staanspoor duidelik dat dié verhoudings op ’n ramp sou uitloop – soos dit toe inderdaad gebeur het!

“Ai, Meneer die Voorsitter. Ja, dit hét ’n ramp afgegee. ’n Tragedie. Ek sou wat wou gee om die wysers te kon terugdraai om dit te vermy. Maar ek kón dit nie vermy het nie. En met ‘bedenklike karakters’ het dit niks te make gehad nie. Dit was nie aan my optrede of aan my besluite te wyte dat dinge geëindig het soos wat hulle het nie. Sofia het ’n wil van haar eie gehad. Niks wat ek sou kon gesê of gedoen het, sou haar van haar plan laat afsien het nie. Ja, dit wás dalk my skuld dat dit hiér geëindig het. Hier in die museum. Ek verstaan uit die brief daar is mense wat dit onaanvaarbaar vind. Dat hulle kwaad is. Ontsteld. Ek het begrip vir hierdie emosies. Ek sou moontlik dieselfde gevoel het. As ek op ’n afstand gestaan het.

“Maar kom ons praat eers oor die ‘volgehoue assosiasie’ met die ‘bedenklike karakters’. Ek moet erken, ek was aanvanklik werklik in die war oor wie dan nou só bedenklik kon gewees het. Erwin van die ysterwarewinkel? Meneer die Voorsitter, Erwin is ’n gawe, liéwe seun! Hy was wel medepligtig aan die omdolwe van die tuin, maar hy het ’n punt beetgehad, het ek gedink. Ek kom nou-nou daarby.

“Bedenklik? Die besemsmous dalk? My verskaffer van die kooigoed waarmee ek die reuksintuie wou prikkel. Hy dalk, ja. Op die oog af. Ek moet erken, ek het hom ’n ruk lank self gewantrou. En hy was tog so lief daarvoor om by my Uno’tjie rond te hang, laatmiddae, wanneer dit toesluittyd was. Wanneer die museum se veiligheidshek agter my toeklik, dan het hy maar altoos daar gestaan met sy arm vol rietbesems. Maar voordat hy iets kon uitkry, het ek hom keer op keer in sy spore gestop.

“‘Ek soek nie besems nie, Jan. Ek het jou dit al gesê.’ Ek het hom dit duidelik laat verstaan, hom dit dalk selfs toegesnou. As ek eerlik moet wees, noudat ons al die kaarte hier op die tafel pak. Elke middag het ek die smous afgejak terwyl ek my handsak stywer onder my elmboog vasknyp. Hoekom ek dit gedoen het, weet ek nie. As ek nou daaraan terugdink . . . Ja, ek kry skaam, Meneer die Voorsitter. Skaam dat ek my sak so onder my arm vasgeklem het. En skaam oor die afjakkery, natuurlik. Ek wil my nie verontskuldig nie, Meneer die Voorsitter, maar dit ís Suid-Afrika, en ek wás vroualleen.

“Hy kon my so die vieste in maak! Dié Jan. Besemsmous. In die wegloop het hy altyd iets gemompel. Van nuwe besems wat skoon vee en stof wat gelig moet word. Oor spinnekoppe en spinnerakke, en waar ’n mens die gediertes oral moet verwag. Spinnekoppe op rakke. ‘Hulle gaat vir jou nog toespin,’ het ek hom een middag hoor sê.

“Die vermetelheid!

“Daarna het ek probeer om nie te luister nie. Net so gou ek kon in my Uno geklim, die deur gesluit en weggery, sodat ek van Jan en sy besems kon vergeet. Hy het my laat gril. Altyd dieselfde swart pak, dieselfde hoed. Waar sou hy gebad het, sy klere gewas het? Partykeer was sy vrou by hom. Altyd so ’n paar treë agter hom. Skel-skel het sy agter hom aangeloop. Dronk. Aan Lot se vrou het sy my laat dink. Onthou u haar, Meneer die Voorsitter? Sy is ’n paar jaar gelede oorlede. Gesondheidsprobleme. Ek weet nie wat nie, maar ek vermoed dit was aan die drank te wyte. Of is dit my vooroordele wat nou deurskemer? Ieder geval. Meestal was dit net Jan en sy besems.

“My afjakkery het eindelik vrugte afgewerp, want later het hy nie meer nader gestaan nie. Net smiddae, so drie-uur se kant, nog hier oorkant die straat kom afpak. Onder die boom daar op die grasperk langs die biblioteek het hy dan vir die museum gesit en kyk. Op sy hurke het hy gesit met die spul besems wat in ’n bondel teen sy skouer rus. Soos ’n tjello, kompleet met sy vingertoppe wat oor die houtsnare streel.

“En weet u wat besef ek toe, Meneer die Voorsitter? Toe Jan smiddae nie meer by my Uno wag nie. Toe kom ek agter sy gemompel daar by my motor was baie dae die enigste gesprek wat ek met iemand gehad het. Op dae wanneer niemand die museum besoek het nie. En soos u weet, Meneer die Voorsitter, meestal was hier geen besoekers nie.

“Ja, die horlosiemaker en die begrafnisondernemer se gesprekke het steeds voortgegaan. Maar hulle het nie met mý gepraat nie. Hulle ken my nie. Hulle kommunikeer met mekaar, nooit met mý nie. Daar was nooit enige interaksie tussen ons nie. Mettertyd het hulle gepraat vir my byna geword soos ’n draadloos op die agtergrond. En so het dit gebly, Meneer die Voorsitter. My lewe. Totdat Sofia, die pottebakker, haar intrek hier op Bredasdorp geneem het.

“Miskien was dit ek. Ek weet nie. Maar die dorpenaars het my pal soos ’n buitestander laat voel. Dat hulle nooit die gemak van hulle vriendekringe sou opoffer om ’n inkommer soos ek te leer ken nie. En as daar nou een ding is wat u nié van my kan sê nie, Meneer, is dit dat ek van die opdringerige soort is. Want dit is ek nié.

“Ek hét my trots. Selfs al sou dit beteken dat die spinnekoppe my nog saam met die meubels hier toespin, soos Jan daardie dag voorspel het. Dat ek hier, saam met die geskiedenis, in die vergetelheid verdwyn. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, Meneer die Voorsitter. Ek verkwalik niemand nie. ’n Wrokkige mens was ek nog nooit nie. Buitendien, ek het gehou van my lewe só, sonder mense. My lewe was netjies, georden. En soos ek reeds gesê het: Ek hou van orde.

“Maar terug by die lysie bedenklike karakters. Nou, Meneer die Voorsitter, nou kom ons by die naam wat reeds ’n paar keer opgeduik het. Dié van Sofia, die pottebakker.

“Ek vermoed, Meneer die Voorsitter, dat agter al die klagtes teen my daar maar een klippie in die skoen lê. En dit is my vriendskap met Sofia. Dat Sofia die ‘bedenklike karakter’ is na wie telkens verwys word.

“Daarom, omdat dit is wat ek uit die brief aflei – dat die ongelukkigheid eintlik oor Sofia gaan – voel ek my verplig om u van haar te vertel. En van ons vriendskap. Veral omdat ek uit die brief ook aflei daar was allerhande gerugte wat die ronde gedoen het. Gerugte dat ek en Sofia . . . Wel, dat ons bepaalde ‘neigings’ sou gehad het. Vir mekaar glo. U weet? Ek is seker u verstaan wat ek bedoel. Die gerugte sou sekerlik ook u ore bereik het?

“Wel, laat ek dit dan nou self onomwonde vir u sê: Die stories oor die neigings is alles leuens. Van so iets was daar nooit enige sprake nie. Maar waarom sal u my nou glo? Ek, teen wie al hierdie klagtes ingebring is? Dus, laat ek u liewer van Sofia vertel. Van die begin af. Chronologies. Ek vra mooi, Meneer die Voorsitter, luister asseblief na die volle verhaal. Al verstaan u nie nou reeds hoe alles inmekaarpas nie. Soos ek gesê het: Ek sterk my verweer.”

Die skaalmodel

Подняться наверх