Читать книгу Die skaalmodel - Anneli Groenewald - Страница 5

Оглавление

“Ja, Meneer die Voorsitter, terwyl ek aan die joernalis ’n inventaris van dokumente en voorwerpe belowe het, het ek reeds geweet my lysie sou karig wees. Die prente? Tussen die ou, oortollige foto’s en portrette op die solder was daar die potloodskets van die ou man, dit het ek onthou. En ook die portret van sy vrou. Dit is die prente waarvan ek gepraat het. U moet onthou: Ek het toe nog nie die verhaal geken nie.

“Maar ná die oproep daardie dag – selfs nog voordat ek die e-pos ontvang het, dié een wat ek aan u oorhandig het – het ek gaan seker maak dat die veiligheidshek op knip was. Ja, dink maar ek is paranoïes, Meneer. Ek maak altyd seker alles is gesluit voordat ek iewers in die museum gaan werskaf. Liewer bang Berdina as dooie Berdina, reken ek altyd. Ek lees my koerante, ek wéét wat aangaan. En ek was immers lank vroualleen op hierdie kolossale erf.

“Nou ja. Toe is ek met die trap op solder toe. My stofallergie ten spyt. Ja, Meneer die Voorsitter. Dit is waarom dinge hier altyd so geblink het. Ek is allergies vir stof. Ek poets nog voordat dit vuil word. Maar op die solder kom ’n mens mos nou nie so gereeld nie. Daar het ek net elke paar maande gaan skoonmaak. Met besem en mop en toewyding. Ná so ’n skoonmaaksessie sou u daar bo van die vloer af kon geëet het.

“U wil weet waarom die haas, die dringendheid?

“U sien, die vrou van die koerant het daarop gesinspeel dat sy dalk besoek wou kom aflê. Mits daar genoeg inligting was wat die moeite en onkoste sou regverdig. Kan u u dit voorstel, soos ek my dit destyds voorgestel het, Meneer die Voorsitter? Ons ou museumpie, hier op Bredasdorp, is skielik die hoofbron van inligting vir ’n reeks artikels in een van die land se grootste koerante! Dalk nog met foto’s en illustrasies daarby. Dit is waaraan ek gedink het. Dit kon ’n gulde geleentheid skep om die museum van finansiële ondergang te red, het ek gedink. Veral indien die reeks artikels tot groter belangstelling in die dorp en sy geskiedenis lei. Dít was my aanvanklike motivering, Meneer. Oorlewing. Nie beskadiging van eiendom, soos wat daar in die brief staan nie. Wat sou u gedoen het, as u in my skoene was? Dalk dieselfde wit leuentjie vertel het? Nee, u hoef my nie te antwoord nie, Meneer die Voorsitter. Dit is immers ék wat onder verdenking staan, ék wat hier ondervra word. Nie u nie.

“Ek verstaan, Meneer. U wil hê my verhaal moet tot ’n punt kom. Ek moet begin antwoord op die klagtes. Nog net ’n klein bietjie geduld, asseblief. Ek is amper daar.

“Nou, hier bokant ons op die solder, Meneer, daar staan ’n ry bokse. Al teen die muur af, en ’n klomp prente en foto’s in rame, teen mekaar gestapel in die hoek. Dit is die argief waarna ek oor die telefoon verwys het. Die bokse, het ek geweet, sou niks oplewer nie. Hulle is almal gemerk. Fauna en flora. Ontstaan van Bredasdorp. Bredasdorp Landbouskou. Skeepsnotules. Blignault-geskrifte. En Ander. Dit weet ek, want toe ek jare gelede hier instap, was dit die eerste ding wat ek gedoen het.

“In my eerste jaar hier het ek seker gemaak ek kry elke ding in die museum onder oë. Ek het ’n inventaris opgestel van elke voorwerp wat deel uitmaak van ’n uitstalling. Bo in elke boks het ek ’n lys van sy inhoud geplaas. Elke lys het ek met my eie hand uitgeskryf. In my kantoor geliasseer was ’n afskrif van elke inventaris. Ek was nog altyd ’n voorstander daarvan om ’n ding behoorlik te doen, of glad nie, Meneer die Voorsitter. Intussen het ek ook ’n elektroniese lys gemaak, maar dit is nie nou ter sake nie.

“In die Fauna en flora-boks, het ek geweet, is ’n versameling sketse van al die verskillende soorte fynbos wat in die streek voorkom. Volledig met die Latynse naam onderaan elke skets, en onder die Latyn, in dieselfde handskrif, tussen aanhalingstekens, die naam van die plant soos dit in die volksmond bekend staan. Onder ’n skets sal daar byvoorbeeld staan Leucospermum cordifolium, met onderaan, in drukskrif, ‘Speldekussing’. Of Syncarpha vestita, met ‘Sewejaartjie’ daaronder.

“In die Ontstaan van Bredasdorp-boks is ’n klomp vergeelde wit-en-swart foto’s weggepak, elkeen in ’n smal swart raampie met ’n beskrywing agterop. Onder andere ’n portret van ’n man, in sy laat veertigerjare, as ek moet skat, met netjiese kort hare en ’n effense snor. Gesuit en gestrikdas. Agterop staan: Michiel van Breda, dorpstigter. Ook burgemeester van Kaapstad en pionier van die Overbergse merinoteelbedryf.

“Nog ’n portret wat my altyd opval, is die een van ’n man geklee in ’n toga wat tot op sy skoene hang. Hy staan voor die deur van wat vandag hierdie einste Skeepswrakmuseum is. Dit was, maar ek hoef dit natuurlik nie vir u te sê nie, die eerste kerk hier op die dorp. Agterop dié portret is daar ’n kort kerkgeskiedenis, ’n lys met die name van die dorp se eerste dominees en die jare waarin elkeen in diens van die kerk was.

“So kan ek aangaan, Meneer die Voorsitter. Die Bredasdorp Landbouskou-boks bevat notules van vergaderings wat die dorp se skoukomitee in die beginjare van die landbouskou gehou het. Nog daar op die ou skouterrein, in die landbousaal wat intussen platgestoot is om vir die winkelkompleks plek te maak. U sal seker beter weet as ek, maar as ek reg onthou het die saal gestaan presies daar waar die Spur vandag is? Die twee smal saaltjies, waarin onderskeidelik wolprodukte en kunsvlyt uitgestal is, is nou ’n parkeerterrein. En die oogarts en Checkers doen sake byna reg daar waar die ring was waar die ruiters hulle perde geskou het. Die pawiljoene het deels parkeerarea, deels Wimpy geword. En daar waar die skouvee in stalle gehou is, staan vandag luukse wooneenhede. Gebou in dieselfde styl as die winkelkompleks. Grys en toringrig.

“Ek weet uitbreiding is goed, Meneer, maar as ek vandag my sê mag sê: Ek was lank bitter oor daardie sentrum. Ek gee nie om as dinge verander nie, maar ek hou nie daarvan dat ou geboue platgestoot word nie. Die landbousaal is tot op die grond afgebreek, kompleet met al die herinneringe saam. Dink aan al die troues en onthale wat daar gehou is, al die matriekdanse. Later, nog in die dae toe ek pas hier aangekom het, is dit as lokaal vir die matrieks se eindeksamen gebruik, want dit was stil, weg van die geraas van die hoërskool se klokke en pouses daar bo teen die berg.

“Maar laat ek terugkom by die bokse: In daardie einste fotoboks is ook ’n klomp skoukoninginne – voormalige wenners van die landbouskou se skoonheidskompetisie – voordat die Meganisasie-week in September so groot geraak het. 1982 se meisie poseer in ’n ligblou bikini. Sy vly haar aan teen ’n 1976-Ford Cortina, die hare gedoen in vet krulle, die ooglede swaar onder blougroen grimering. Dieselfde skakering as die bikini.

“Waar ek daar op die solder in die dakvenstertjie se lig tussen die ou skoolverslae en dorpsfoto’s rondgeblaai het, het ek die grootsheid van die geleentheid op hande besef.

“Maar ek het ook geweet dat daar by my, in hierdie museum, behalwe die skets van die ou man met die visserspet en die portret van sy vrou, in daardie stadium niks was wat ek die koerant kon bied nie.

“Wat sou u gedoen het, Meneer die Voorsitter? As u daardie dag in my skoene was? Ek het nie ’n benul gehad wat my te doen staan nie. Maar een ding het, soos ek reeds genoem het, vir my soos ’n paal bo water gestaan: Dit was my kans om die Skeepswrakmuseum – en deur die museum ook die dorp – onder die hele Suid-Afrika se aandag te bring. As ek dáárin kon slaag, kon ek die museum van finansiële ondergang red. Dít was my doel!”

Die skaalmodel

Подняться наверх