Читать книгу Sindikaat - Annerle Barnard - Страница 12

7

Оглавление

Grenspos tussen Zimbabwe en Zambië,

einde November

Flippit, hy wens die doeanepersoontjie wil sy gat roer en klaarkry met hulle paspoorte. Hoe langer hulle hier by die grenspos rondhang, hoe groter is die risiko dat iemand Donker en Konkel gaan sien white water rafting doen.

Paul bestudeer die toonbank. Hy sit sy gewig op die een been, dan die ander. Regs, dan links. Hy kyk na sy horlosie.

Bossie stamp teen sy skouer. En Paul kry ’n vuil kyk. “Ontspan,” brom Bossie.

’n Onaardse geluid by die ingang! Iets val. Bossie kyk op, sy oë rek, sy kop ruk. Hy tree terug, gryp Paul aan die arm, pluk.

Karlien skree. Haar gille loei deur die gebou.

Paul wat verstar het, verloor sy balans. Struikel. Val. Land hard op sy sitvlak.

’n Groot, donker gedaante hang oor hom.

Hy keer met sy hande, skuif agteruit op sy boude, skarrel terug op sy voete, voel na die mes in sy sak.

Te laat. Die gedaante is bo-op hom, bo-oor hom, bo-op die toonbank waar die doeanebeampte ook nou grootoog agteruit struikel.

Die gedaante kyk rond, gaan verder. Hy spring op die vensterbank, dan op die blindings se reling. “Wa-hu!” blaf die bobbejaan en bespied die plek vanuit die hoogte, wys tande. Dis ’n helse mannetjie met ellelange tande.

Die doeanepersoneel skarrel om agter die toonbank uit te kom.

“Bloody stupid overseas visitors,” skel die een amptenaar. “They feed the baboons and then we sit with the problem.”

Paul gee ’n tree terug.

“Those canine teeth are longer than a lion’s,” sê Bossie vir die sokkerbal-amptenaar – sokkerbalkop, sokkerbalpens – wat hulle gehelp het. “We’d rather not stay.”

“You’re done.” Die man is self teen ’n verstommende spoed op pad na die uitgang toe.

“Friggin’ hell, ek dog –”

Maar toe sien Adriaan Bossie se gesig.

“Vir wat pluk jy my so?” blaf Paul vir Bossie. Uitasem. “Ek het my gat los geskrik.” Dit voel of hy die Comrades gedoen het.

“Want daai ding was amper op jou. Het jy sy tande gesien?”

Sindikaat

Подняться наверх