Читать книгу Sindikaat - Annerle Barnard - Страница 13
8
ОглавлениеGrens tussen Zimbabwe en Zambië,
einde November
“Amper daar.” Bossie se stem is net-net hoorbaar.
Paul maak sy oë toe. Dan weer oop. Hy is te bang om te kyk. As hy sy oë toehou, kan hy hom verbeel dat dit net ’n nagmerrie is. In 3D en Technicolour. HD. Met klank. In stereo. Surround sound.
Sy pa sal die horriepiep kry as hy uitvind. Sy pa se hele lewe is swart en wit, reg en verkeerd. Hy verdedig nou wel kriminele in die hof, maar hy is baie seker sy pa sou agteroor geflip-flap het as hy moes geweet het Bossie smokkel wapens oor die grens.
Asof die Vic Falls-insident nie reeds genoeg was nie!
Nie dat hy omgee wat sy pa dink nie, maar hy het nie lus om met sy gat in die tronk te sit nie.
Bossie krap in die Land Rover se sypaneel rond, haal iets uit, druk sy hand in sy broeksak. Dan stap hy en ’n doeanebeampte om die Landie. Paul probeer hulle in die spieël dophou, maar hulle is buite sig.
Dit voel soos ’n ewigheid voordat hulle weer te voorskyn kom. Die amptenaar praat baie, lyk of hy vrae vra. Bossie beduie. Dan glimlag die man. Die Landie se deur gaan oop.
Bossie val op die sitplek neer, blaas asem uit. “Oukei, tjomme. Palms geghries. Ons waai.”
“Hoeveel wou hy hê?” vra Adriaan.
“Maaske baie,” antwoord Bossie rustig, ex-recce style – en trek weg. Paul het eintlik gedink alle recces en polisiemanne vloek vreeslik. Klaarblyklik nie Bossie nie. Wel, hy’t hom nog nooit regtig hoor vloek nie. Wie sal weet?
Eintlik is Bossie cool. Gewoonlik. Dis nou wanneer hy nié ekstreme dinge aanvang nie, maar tot dusver oorleef hulle en dis seker al wat in hierdie stadium tel. Paul hoop dít was die stilte én die storm – en dat dit nou klaar is. Finito. Die kalm water van die begin van hulle vakansie het net ’n bietjie te skielik na sy sin begin golwe gooi. Is hy regtig lus vir soveel drama?
Dis een ding om skool te bunk, te kyk of hy Bossie kan ontduik. Dis heeltemal ’n ander kwessie om moord te pleeg.
Sy pa betaal Bossie om hom op te pas – en dít net omdat hy wat Paul is vroeër die jaar op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was, ontvoer is deur ’n gewetenlose sindikaat, vir wie een onwettige bron van inkomste nie genoeg is nie. Praat van gierig! Party mense verkeer blykbaar in ’n ander dimensie van siek. ’n Dimensie ver buite die gewone sluwes en psychos.
Toe Angel Aghostinho, die Portugese baasbrein van Port Nolloth, die Valke landuit ontglip en sy ewe mal Griekse swaer, Mikki Dimitriou, Paul voor ooggetuies met die dood dreig en kort daarna ontsnap, het sy pa Bossie in diens geneem. Oor die hóé en wáár praat niemand nie. Sy pa het nou wel vreemde kontakte, maar Paul het nie geweet hy het kontakte in die recce-wêreld nie, want dis waaruit Bossie kom.
’n Recce. Afgelei van reconnaissance, blykbaar. ’n Baasverspieder.
Sy pa verdedig transitorowers en allerhande sulke uitvaagsels in die hof, en dan is enigiets seker moontlik, ook kontakte in die recce-wêreld. Dalk moet hy bly wees sy pa het net ’n recce gehuur – en nie een van sy psycho-kliënte nie.
“Everyone has the right to representation,” sê sy pa altyd wanneer Paul wil weet hoekom hy nie eerder ’n ordentlike werk doen nie: een waaroor skoolmaats – soos daai Hawkins – hom nie sal kan spot nie. “Ask that Hawkins boy if he wants my number. One day he might need it.”
Hawkins was buite homself van woede toe hy hom eendag met sy pa se boodskap gooi. Hy kon nie vinnig genoeg ’n teenaanval uitdink nie.
Mens word nie ’n recce omdat jy ’n kinderkransdans doen nie. Bossie het bloed aan sy hande. Dit weet Paul. Hy hou van sy hande skoon. Nie noodwendig silwerwit nie, maar darem wragtig ook nie posbusrooi nie.
Hy wonder of sy pa weet waarvoor hulle hul ingelaat het, maar sy pa praat nie en Bossie sal ’n stil speletjie teen ’n spook wen. Lag-lag.
“Bossie?” vra Paul onseker.
“Kom ons kom net oor die grens. Ons kan vanaand gesels, oukei, Paul?” Bossie se oë is weer agter sy donkerbril versteek. Hy druk Paul se skouer.
“Oukei,” sug Paul. Dit klink darem of Bossie so effens omgee. Die arme man het seker nog nooit in sy lewe so baie gepraat soos hierdie November nie.
“So gaan julle ons nou vertel wat gebeur het?” wil Adriaan weet. “Terwyl ons soos twee kinders gestuur is om te gaan koeldrank drink.”
“Nee.” Paul wil regtig nie daaraan dink nie. Daar is dinge wat selfs vir die menslike verstand te veel is, wat liewer begrawe moet word waar die geheue nie kan bykom nie. Toe hulle netnou oor die brug is, waar die toeriste bungee – mét ’n tou – moes hy herhaaldelik sluk om nie naar te word nie.
“Het iets dan gebeur?” vra Bossie.
“Natuurlik het iets gebeur,” brom Adriaan. “Jy stuur ons om te gaan koeldrank soek nét toe daai twee Chinese opdaag. Ek het hulle gesien. Waar’s hulle nou?”
“Weet nie,” antwoord Bossie. “Hulle kyk seker nog na die water.”
“Bossie, come on. Do you think I’m stupid? Where are they?”
“Ek kan jou aflaai om hulle te gaan soek as jy wil, maar ek wag nie,” antwoord Bossie. “Ons wil gaan vlieghengel.”
Adriaan grawe net in die koelhouer, ruk ’n pak wine gums onder ander kos uit en pluk die pakkie oop. Met mening.
“Zambië, hier kom ons! Yeah!” sê Paul kamma vrolik en kyk na die bome wat verbyskuif.
Karlien kyk op, maar reageer steeds nie.
Adriaan lyk soos ’n renoster. Een met tandpyn. Hy prop nog vier wine gums in en skud net sy kop. Sy kieste bol. “Really? You’re seriously underestimating my intelligence, Bossie,” mompel hy by die wine gums verby. Dit lyk of hy enige sekonde ’n aar gaan pop.
“Nes jy wil,” antwoord Bossie. Min gespin.
“Hou op kerm en gee daardie wine gums hier.” Paul het suiker nodig om die lamgeit uit sy bene te verdryf. Hy’s nie gebou vir sulke recce-sports nie.
Adriaan gooi die pak lekkers vir Paul. Befoeterd se moses. ’n Paar val uit en land op Paul se skoot. Paul tel hulle op en druk almal in sy mond. Bossie kyk so skuinsweg na hom. Iets laat hom dink dat Bossie geamuseerd is.
Paul hou die pak vir Bossie wat net kop skud – en gee dit dan weer vir Adriaan aan. Adriaan hou die pak vir Karlien, maar sy skud ook net haar kop.
Dit gaan ’n flippen miserabele trip wees en hy het só uitgesien daarna totdat sy pa aangebied het dat Adriaan en Karlien saam kan kom …
Regtig? Hoe opwindend!
Ten minste is dit nie net hy en Karlien nie. Of hy en Adriaan nie. Dank die hemele vir Bossie.
Vir Adriaan het hy amper minder tyd as vir Karlien. Vieslike verraaier wat sy kans waargeneem het met Karlien.
Hy kyk om. Adriaan het klaarblyklik nog ’n hand vol wine gums in sy mond gedruk. Sy kake maal. Woede? Of frustrasie? Proe die rugsteker ooit wat hy kou, of kou hy net omdat hy Bossie nie met ’n vuis kan pot nie?
Hy ken nie nog ’n mens wat kan eet soos Adriaan nie. Flippen ruspe. Een met ’n vreeslike soettand.
Donker en Konkel! Móés hulle nou ook kom skoor soek het? Asof hy nie reeds genoeg nagmerries het nie. Dis ’n friggin’ mislike selfmoord-sending, en met Adriaan en Karlien in die voertuig, is alles opgefoes. Heeltemal totaal en al opgeneuk.
Hy moet net keer of hy kou sy polse van frustrasie af.