Читать книгу Sindikaat - Annerle Barnard - Страница 15

10

Оглавление

Zambië,

einde November

“Hoor julle?”

Paul se bene begin darem nou minder lam voel. Hy wikkel sy voete.

Hy kyk na Bossie.

Dit help eintlik nie hy’s moerig vir Bossie nie. Bossie doen seker maar wat hy moet doen om hóm aan die lewe te hou – en hy gaan tog nie bos, bloot net omdat hy na sy recce-dae verlang nie. Daai twee Kung Fu’s het in elk geval g’n goeie bedoelings gehad nie. Good riddance, oortuig hy homself.

“Hoor ons wat?” wil Adriaan weet.

“Hier is amper geen voëlgeluide nie,” antwoord Bossie.

Adriaan steek sy kop by die venster uit om beter te luister: “Ja, wragtig. Hoekom? Wat het van die voëls geword?” Adriaan se Afrikaans is nie aksentloos nie – en op hierdie oomblik ook nie baie vriendelik nie – maar hy is en bly nuuskierig.

“Weet nie,” antwoord Bossie. “Afgesien van die boerbokke is hier ook nie eintlik ander diere naby die villages nie. Geen honde of katte nie. Niks.”

“Weird. So stil.” Adriaan hou sy kop weer by die venster uit om te luister. Hy trek sy kop terug, vryf die reëndruppels in sy roesbruin hare en vee die vog aan sy bril met sy T-hemp af.

“In Zim het ons darem ’n paar bobbejane gesien,” mompel Bossie hoofsaaklik teenoor homself. “Wat máák ons met die natuur?”

“Om nie van nétnou se bobbejaan te praat nie.” Paul grinnik. Hy het hom in ’n ander bloedgroep in geskrik. Van O+ na A-. Hy het sy hele DNS definitief in mutasie gestoot toe daai vervlakste bobbejaan oor hom seil.

Bossie swaai uit om ’n slaggat te mis. Met die reëndruppels op die voorruit en poele water oral, is dit nogal ’n storie om die slaggate betyds raak te sien. Dis ’n miserabele stukkie pad wat hulle ry.

Skielik verminder Bossie spoed. “Ek hou nie hiervan nie.”

Paul laat sak die pak CD’s. Hy sukkel om een te kry wat hulle nie reeds drieduisend keer geluister het nie. Hy kyk op.

“Vir wat staan hulle in die middel van die bloody pad?” vra Adriaan met sy kop tussen die twee voorste sitplekke deur. Engelse rrr.

“Weet nie, maar ek ruik onraad. Hierdie bakkie, met die Limpopo-nommerplate en dieselfde Eggogrotte-plakker, was by die grenspos net agter ons in die ry. Nou’t hulle skielik Zambiese nommerplate. Hulle het vergeet om die plakker te verwyder.”

Bossie ry stadiger. “Is julle twee tjomme reg? Net ingeval?”

“Yep.” Paul druk die veiligheidsknip van die Luger af.

“Mmm,” bevestig Adriaan ook.

Paul hou die loop na onder, die metaal koud in sy hande. Nét nadat hulle deur die grenspos is, het Bossie afgetrek en elkeen ’n pistool in die hand gedruk. Vir almal behalwe Karlien.

Sy het nie belanggestel nie, maar dis nie asof Karlien in enigiets belangstel nie. Dis waarskynlik net ’n kernoorlog, of ’n groot vet rot wat haar ’n wenkbrou sal laat lig.

Bossie het gereken die wapens is net vir ingeval. Paul hoop die “ingeval” is nié vandag nie. Die twee ouens van netnou was al erg genoeg, selfs al was dit selfverdediging. Hy jag gereeld. Bok skiet is een ding. ’n Mens? Miskien as hulle in gevaar is? Hy dink so, maar hy wil nie. Dis reeds erg genoeg dat hy Bossie moes help om vir Donker en Konkel die Zambezi up close and personal te wys.

“Ons skiet net as dit regtig nodig is, ouens. En dan skiet ons om dood te skiet. Onthou.”

“En die lyke? Ek wil nie tronk toe gaan nie, Bossie,” sê Paul sag.

“Niemand sal tronk toe gaan nie, Paul. Ontspan.”

Agter hom hoor hy Adriaan rondskuif. Adriaan het die Sig Sauer gekies. Gelukkig is Adriaan ook ’n jagter. ’n Paloeka wat agter jou sit met ’n gelaaide pistool is gevaarliker as ’n trigger-happy psycho met ’n pistool reg voor jou.

Adriaan is nou wel ’n regte dipshit, maar hy skiet ten minste nie skwêf nie.

Wanneer sou Bossie die Heckler & Koch VP9 opgetel het? Paul sien net die punt van die loop by sy regterknie verbysteek. Blykbaar het hy ’n voorliefde vir Duitse skietgoed. Óf sy kontakte verkies Duitse wapens. En Russies. Agter in die Landie is ’n AK. Wie weet wat nog …?

“Good afternoon,” skree Bossie by die Landie se regtervenster uit. “Are you okay?” Harde ‘rrr’. Bossie se Engels is nie te vrot nie, maar sy aksent verklap hom.

Voor in die nat grondpad staan ’n wit Toyota-dubbelkajuitbakkie met ’n plakker van die Eggogrotte. Zambiese registrasie.

Bietjie vreemd, soos Bossie gesê het.

Die grondpad is smal en deels onder water – en die Toyota-bakkie is effens dwars gedraai, wat dit moeilik maak vir die Landie om padlangs verby te ry. Die man wat by die agterwiel doenig is, kyk op. Hy’t spierwit hare en ’n ligte vel. Die ander een is ’n skraal man, wat veel meer na ’n Suid-Afrikaner as na ’n Zambiër lyk, maar dalk verbeel hy hom bloot net omdat Bossie gesê het dat die Toyota voor die grens beslis ’n Limpopo-nommerplaat gehad het.

Die skraal man kom nader gestap.

Uit die hoek van sy oog sien Paul hoe die Heckler se loop effens lig.

“Howzit? Flat tyre. We’re okay. Will you be able to pass?” Die man beduie na die liniaalbreedte stukkie grondpad waarop die Landie veronderstel is om verby te ry.

“Yes, thanks,” antwoord Bossie, maar laat sak nie die Heckler se loop nie.

Die skrale stap weer terug na die bakkie toe en wys hulle kan maar verbykom.

“Iets is nie pluis nie.” Bossie sit die Landie in eerste.

Paul kyk in die syspieël na die wit Toyota-dubbelkajuit wat op die grondpad agterbly. Eers toe hulle die bakkie nie meer kan sien nie, blaas hy sy asem stadig uit en laat die Luger se loop sak.

Sindikaat

Подняться наверх