Читать книгу Sindikaat - Annerle Barnard - Страница 9
4
ОглавлениеNet voor die grens tussen Zimbabwe en Zambië,
einde November
Paul verwonder hom aan die groen. Hoeveel skakerings is hier? Vrekken baie, waarskynlik! Want almal van hulle is – op een plek – hier verwoud.
Bossie trek die Landie in die parkeerarea in.
“Wat nou?” vra Adriaan. “Ek dog jy sê ons stop nie vir die gewone toeriste-stories nie.”
“Is so,” sê Bossie. “Maar daar is net een Vic Falls. Was julle al hier?”
“Nog nie,” erken Paul. Sy pa het al op die Zambezi gevlieghengel, en hy weet die Zambezi is die vierde grootste rivier in die wêreld. Tweeduisend sewehonderd kilometer lank. So iets. Sy pa is mos iemand wat die natuur uitcheck. Rotsformasies bestudeer en al daai. Whatever! Sy pa maak amper kompulsief ’n hele studie van ’n plek voor hy daarheen gaan. Plaas hy net ’n toergids huur. Veel minder werk.
Paul is kort op Adriaan se hakke by die Victoria Falls National Park se kaartjiekantoor uit en loop amper teen sy rug vas, want Adriaan het in die middel van die paadjie gaan staan om druppels van sy bril af te vee.
Paul keer sy rug op Adriaan. Hulle staan immers aan die voet van een van die wêreld se bekendste watervalle. The smoke that thunders. Mosi-oa-Tunya is glo die inheemse Tsonga-naam.
Die ander moet hulle gatte nou roer. Hy kan nie wag om te gaan kyk hoe die waterval lyk wat een punt sewe kilometer breed is en honderd meter ver in die dieptes aftuimel.
Gelukkig het Bossie vooraf gesê hulle moet reënjasse bring, anders sou hulle jasse moes gehuur het. Hy het regtig nie lus om ’n reënjas te dra wat oompie Skilfer aangehad het nie. Vanoggend se motreën wil-wil meer byt kry en hier by Vic is daar in elk geval ’n voortdurende misreën, vergesel deur die donker, gewelddadige dreuning.
“Kom, tjomme,” sê Bossie uiteindelik, kaartjies in die hand en skuur by hom en Adriaan verby.
Paul vee die waterdruppels uit sy hare uit, van sy gesig af. Hulle moet by daai kantoor eerder swembroeke uitverhuur, in plaas van reënjasse. As dit aan die begin van die reënseisoen só lyk, wil hy nie weet hoe dit teen die einde van die seisoen gaan lyk nie.
Bossie vee waterdruppels uit sy bokbaardjie en gitswart wenkbroue. Hy drentel verder, stamp skielik teen Paul se skouer so in die loop. Paul kyk op, want niks omtrent Bossie is toevallig nie. Lomp is hy beslis nie.
“Sesuur. Probleem,” sê Bossie sag. “Hou jou pose.” Hy lig sy wenkbroue.
Paul knik om te wys hy verstaan, drentel nog ’n paar treë deur die reënwoud. Hy brand om om te kyk na wat ook al agter hulle is. Hy staar na die reënboog in die donderende mis, sy asem in ’n resies teen sy hart gewikkel. Dit ís asem-flippen-rowend mooi, maar wie gee om wanneer daar moeilikheid in aantog is? Hy moet weet.
Nóú.
Hy gaan staan by ’n groot boom, strek sy nek na links, na regs, draai sy lyf, strek kamstig. In die paadjie agter hulle is twee ouens wat lyk na Chinese, of Taiwanese, of Japanners. Oosterlinge, in elk geval. Die Kung Fu-tipe. As Bossie reg is oor die “probleem”, is hulle Chinese. Nie gawe, opgeruimde, vredeliewende Chinese nie, maar die moerige, bedonnerde tipe. Triad.
Albei dra swart. Nie swart en nog iets nie, net swart.
Agter die twee Kung Fu-tjomme kom ’n paar mense met kinders aan. Hulle Engels klink erg Brits, superbeskaafd. Hulle neem stelling in voor ’n groot boom en neem foto’s. Iemand lag en dan lag die hele groep. Tipiese toeriste.
Die twee ruiters van die nag praat geen woord nie. Hulle het nie ’n kamera en kyk ook nie eintlik na die donderende rook nie. Dit pla hom dat hulle nie gesels nie. Nie dat taal hom sou gehelp het om nasionaliteit te bepaal nie. Die Asiatiese tale klink almal ewe staccato en befoeterd. Paul se een pel Chen het die vriendelikste gevreetjie en hy glimlag altyd dat jy sy kleintongetjie sien. Hy is die gaafste Taiwanees op aarde en sal nie ’n vlieg kwaad aandoen nie. Chen is konsidererend en goed gemanierd: ’n ware Saints gentleman. Maar wanneer hy Taiwanees praat en jy sy gesig nie sien nie, klink hy soos ’n masjiengeweer. Dodelik.
Miskien klink sý Afrikaans vir Chen net so staccato en dodelik?
Paul strek sy nek weer en drentel verder, tot langs Bossie. Hy draai saam met Bossie by ’n uitkykpunt af. Hy kyk na die val, maar die mooi is weg. Sy hart hamer in sy keel.
“Kosjer?” Hy probeer voorkom dat hy hiperventileer. Donkerwerk en Konkelwerk sal hom beslis nie bo hierdie helse lawaai hoor praat nie. Dis nou ás hulle Afrikaans sou verstaan.
“Twyfel. Ek hou hulle al geruime tyd dop. Hulle ry ’n Toyota Fortuner.”
“So, dís hoekom jy Falls toe wou kom?”
“Ja.”
“Hoe maak ons?”
“Neem foto’s van die ander twee, Paul. Laat dit klink of julle pret het. Luidrugtig, jy weet.”
Paul haal die kamera uit die waterdigte sak. Bossie voer iets in die mou. As hy net geweet het wat!
“Karlien! Adriaan! Bossie soek julle vieslike gevrete op ’n foto. Kom hier!” skree hy bo die geraas van die water uit. Vir ’n oomblik wonder hy of hulle hom hoor, maar dan draai Adriaan om. Sy wenkbroue lig bokant sy nat bril.
Karlien draai nie eens om nie, gooi hom net ’n middelvinger agter haar rug.
“Karlien!” Bossie se stem is ’n bliksemstraal wat plek soek om te slaan.
Karlien draai om, hand op die heup. Haar kake kou steeds, Karlien-styl. Hoeveel boksies kougom sou sy ingepak het?
“Ja, Bossie?” Sy fladder haar wimpers.
Paul grinnik in sy binneste.
“Dit was ’n opdrag.” Bossie praat hard.
“Ooooo, Bossie! Hoekoooom?” Die laaste deel van die “hoekom” is uitgerek, soos ’n kleuter wat alles “hoekom?”
“Roer jou.”
Karlien kom aspris traag nader. Trapsuutjie-styl.
Bossie se gesig raak al donkerder.
Paul wil hulle skud. Is die twee blind? Sien hulle nie die twee Kung Fu’s nie? Flippen idiote!
“Oukei, staan daar. Rug na die waterval,” gee Paul instruksies.
Bossie het verdwyn. Hy’s nou buite Paul se gesigsveld, agter iewers.
Paul lig die kamera. Karlien gooi groot, asof sy op die loopplank is. Sy tuit haar lippe en het reeds haar reënjas se knope los, stoot hom oop. Sy poseer hand op die heup, een been voor die ander. Straaltjies water loop in haar nek af. Vrek, maar sy ís mooi. Haar kortbroek is korter as sy baard – en hy hét vanoggend geskeer – haar hemp is laag oopgeknoop en wys ’n olyfgroen toppie, en haar leerstewels lyk na iets uit Cosmopolitan se modeseksie.
Adriaan is ’n strykplank sonder glimlag. Sy kop roer nie, maar Paul sien hoe sy oë na links draai. Na waar die twee Kung Fu’s min of meer moet wees.
Dan is die Britte by hulle. “Amazing!” sê ’n manstem. “Absolutely awesome!”
Sou dit die waterval, of Karlien se booty, wees wat die Brit so begeester? Die Chinese moes effe teruggesak het, want Paul sien hulle nie toe hy die Britte groet nie. Hy wil ook nie te opsigtelik rondkyk nie.
“Wag, die lig is nie reg nie.” Paul beduie met die hand vir Karlien en Adriaan om te skuif. Hy probeer kyk waar Donker en Konkel is. Niks. Hy wens hy kan heeltemal omdraai en kyk wat aangaan, maar hy weet Bossie dek die agterhoede en hy moenie onnodig aandag trek nie.
Adriaan se oë soek.
“Oukei, Butterface!” Paul lig die kamera. “Pak jou tande uit, Butterface.” Adriaan glimlag, maar dis ’n aangeplakte glimlag wat nie by sy oë uitkom nie. “Buttercup! Honey-honey, sweet bunny,” tart Paul. Die “honey-honey” klink bekend.
Paul frons. O ja, dis wat die blonde bimbo haar mal Griek in daai huis van onheil genoem het. Skielik voel hy erg naar. Hy is al naar sedert Bossie sy wapensmokkelplanne geopenbaar het, maar nou het hy ’n totaal nuwe dimensie van naar betree.
Adriaan frons, sy mondhoeke trek af. “Neem net die bloody foto en kry klaar, Paul!” snou hy.
“Oeeee, Butterface. Geduld.” Hy wens hy kon Adriaan met die kamera gegooi het, maar as hy moet tyd koop vir waarmee Bossie ook al besig is, dan verduur hy maar die fotonemery. Fake it until you make it. Al irriteer Bossie hom soms grensloos, weet hy hy het hom nodig.
Agter Paul lag ’n paar van die Britte. Hulle verstaan dalk nie die “geduld” nie, maar wel die spot in sy stem.
Paul probeer onthou om asem te haal, om diep en stadig asem te haal. As sy hart enigsins vinniger klop, gaan dit deur die klankgrens breek. Dit verg alles in hom om die kamera nie neer te smyt en ’n toon te klap nie.
“What a magnificent sight!” sê die skraal Brit met ’n sopnat fedora vir Paul. “Would you mind taking a photo of us?”
“Any time.” Paul bêre sy pa se kamera en neem die kamera by die Brit. Die ou is duidelik deur die waterval geïnspireer, nie net deur Karlien nie. Hy probeer oor die man se skouer kyk terwyl die Brit die kamera se werking verduidelik, maar sien nie vir Donker en Konkel nie.
Die twee Chinese en Bossie het spoorloos verdwyn.
“Oukei, peeps. Smile!” Paul lig die kamera, probeer hom stilhou. Sy hande bewe. Die Britte glimlag breed. Hy neem twee foto’s.
“Thanks, hey,” sê die Brit met die nat fedora. Die ander bedank hom ook. Paul gee die Brit se kamera vir hom terug. Die groep stap skertsend verder.
Adriaan kom nader: “Waar’s Bossie?”
“Weet nie.”
’n Ou man en sy vrou stap stadig by hulle verby. Die man het ’n snaakse stappie, sien Paul. Dit lyk soos iemand wat sy lyf gebruik asof hy roei. Sy bolyf kantel heen en weer om sy bene voort te stu.
“Hierso.” Bossie is agter hulle.
“Kosjer?” wil Paul weet.
“Nee.”
“Sure?” vra Adriaan.
“Baie,” antwoord Bossie. “Die klomp Britte het hulle bevark. Gelukkig. Die kortetjie het reeds ’n mes in die hand gehad.”
“Where are they?” Adriaan se oë is groot agter sy brilraam, sy sproete ekstra opvallend teen die bleekheid van sy vel.
“Hulle het verby die uitkykpunt gestap, net ’n entjie in die paadjie af. Hulle draal daar rond, wag.”
“Kom ons ry,” sê Paul.
“Gaan nie help nie,” antwoord Bossie. “Ek sal graag wil weet hoe de joos hulle ons spoor gekry het? Hulle tjomme weet ook al teen dié tyd waar ons is.”
“Wat nou?” Adriaan se adamsappel wip op en af.
“Vat Karlien en gaan drink ’n koeldrank by daai koffiewinkel.” Bossie druk geld in Adriaan se hand. “Shearwater Rainforest Café, of wat ook al die plek se naam is.”
“En Paul?” wil Adriaan weet.
“Hy bly.”
“No way! Hoekom mag net hý deel in die aksie?” Adriaan se adamsappel is nou eers aktief.
“Want hulle soek hóm eerste. Jy’s bysaak. Dit gaan oor veiligheid.”
Paul skud sy kop. Adriaan het pas gelyk asof hy enige oomblik gaan kots, nou wil hy bly vir die aksie? Hoe werk die ou se kop? Of wil hy net vir Karlien probeer beindruk?
Adriaan stoot sy nat bril hoër teen sy neus op. “Maar Bossie— “
“Dis ’n instruksie,” sê Bossie.
“Kom, Karlien,” sê Adriaan. “Ons is nie welkom nie.” Hy draai summier om, ruk sy nek amper af in die proses en wink vir Karlien.
Paul kyk hoe Adriaan en Karlien stilswyend terugstap. Dis asof hy alles ekstra helder waarneem. Adriaan is knorrig verby. Karlien se stappie is afsydig én tartend. Seker wat hulle multitasking noem?
“En nou?” Paul is benoud.
“Ons sort hulle hier uit, óf hulle sort ons uit. In dié stadium is daar net die twee alternatiewe.”
“Jy bedoel daar kan nog ’n paar Kung Fu’s opdaag?”
“Net so. Jy oukei.” Bossie se oë kyk diep.
“Ja. Dink so.” Sy asem jaag. Vinniger, vinniger. Sy hart is ’n kortkop agter.
“Ek weet jy’s onder druk, Paul, maar nóú het ek jou nodig.” Bossie staar stip na hom. “Jy hiperventileer, jou hande is skurf gewas. Drink jy nog jou pille?”
“Ja.” Hy kyk af.
“Jy kan vir jouself lieg, Paul. Nie vir my nie.” Bossie se stem is sag, net-net hoorbaar bo die waterval.
Paul kyk op. Bossie se oë gooi dolke deur hom.
“Sit jou hande op jou kop.”
“Hoekom?”
“Paul, ons tyd is min.”
Paul lig sy hande en vleg hulle inmekaar bo-op sy kop. Sy pet is nat. Straaltjies water loop teen sy gewrigte af.
“Haal diep asem. Deur jou neus. Vyf tellings. Blaas uit deur jou mond. Agt tellings. Ontspan jou maagspiere. Weer.” Bossie se oë kyk tot in sy gebeente. Hy laat hom dit ’n paar keer doen. “Beter?”
Paul knik.
“Terug in die kar wil ek sien hoe jy ’n pil sluk. Nie net Rescue nie. Homopatiese middele is goed, maar jy’t méér nodig. Daai ander. Serdep?”
Paul knik net.
“Oukei, Paul.” Bossie se stem is dringend, amper by sy oor. Maar dis skaars hoorbaar bo die waterval wat donderend na benede stort. “Moenie stres nie. Jy sal oukei wees. Stap met die paadjie langs, kyk kamstig na die waterval, maar kyk wyd. Ek wag totdat die twee te voorskyn kom, dan is dit my probleem.”
“Seker?”
“Ja. Hulle sal net aanval wanneer daar geen ander mense naby is nie.”
“Ek flippen hoop so.” Paul draai om, kyk na die paadjie wat kronkelend voor hom uitstrek. Die groen van netnou is skielik ’n groot swart gat wat hom kan insluk.
“Hei, Paul!” roep Bossie skielik.
Paul draai terug. “Ja?”
“Nie te naby aan die afgrond nie.”