Читать книгу Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck - Страница 10

Mustang Sarie se Groot Trek

Оглавление

My lyf en my gees pas nie bymekaar nie.

Dit is wat Pa van my gesê het. Die man wat soms die emosionele koëffisiënt van roereier gehad het. Veral as dit by homself of sy eie kinders gekom het. Tog was Pa dié slag reg soos hy dikwels wel sy teiken getref het. Pa was ’n uitmuntende skut. ’n Wafferse cock-and-fire.

“Weet jy waarvandaan kom die gat hier in jou muur?” beduie ek vir die vrou met die soel gelaatstrekke van iemand wat dalk Indiaanbloed het. Met haar onopgesmukte poniestert is sy die nuwe eienaar van die bekende, maar verbasend oninteressante, Little Alien Inn Motel.

Rachel, Population 54. Dit staan op ’n bord voor jy na die piepklein amper-dorpie op Nevada se Extraterrestrial Highway indraai. Dis waar ek twee nagte wil slaap sodat ek kan uitry na Area 51. Dis die streng bewaakte Amerikaanse woestyngebied waar ’n UFO glo nié in 1947 neergeplons en verskeie getinfoeliede buiteruimse oorle’s nooit tussen die wrakstukke gevind is nie.

“Nah?” kyk Belle op van die nat lap waarmee sy ’n kol op haar boesem probeer uitkry. Op haar T-hemp is haar naam en die gesig van ’n alien.

Dit was mý pa wat ’n gat deur kolonel Wendelle Stevens se spyskaart geskiet het. Op ’n dare. Voor jou tyd. In the eighties, sê ek.

“Man! Are you serious? I’ve been meaning to fix it, but now I think I’ll just keep it for the story? Where you guys from?”

“South Africa. And afterwards they still ordered from that same menu – hole and all.”

Ek en Belle is ewe ingenome. Ek’s verbaas dat dié gat in al die jare nog nooit toegepleister is nie. Byna het ek die insident nie eens onthou nie. Pa en trawante het ’n vreemde voorliefde gehad om gate deur spyskaarte te skiet. Verkieslik nog in iemand se hand.

“They probably had one too many Beam-me-up-Scotties? Some pretty crazy folk come out here sometimes, you get my drift?” Sy loer vlugtig na die deur voor sy agter die toonbank induik. Die volgende oomblik plonk Belle ’n dienaar voor my neer.

“I’m impressed, whoa!” fluit ek. ’n Kortloophaelgeweer?

“Sometimes a gal’s gotta do what a gal’s gotta do.”

Ek lig my koppie. Nes jy daar sê!

Ná dekades is ek terug in Amerika. Hier om Pa se laaste goed te kom uitsorteer en my kleinsus te oorreed om saam terug Suid-Afrika toe te kom. Al is dit net vir ’n rukkie. Daar is sake wat ek nie sonder haar kan afhandel nie. Sy wag vir my in Arizona.

Daar was ’n tyd toe besorgde familielede, sielkundiges en gesondheidskonsultante of giminstrukteurs my nog gevra het hoe ek so dik geword het. Byna altyd met ’n bekommerde uitdrukking. Wie weet? Het ’n belustige oom my gevinger, of is ek in die bosse buite Pretoria langs ’n besige snelweg deur ’n voornemende verkragter ingesleep? Iemand wie se bewussyn vol haat vir my DNS is. Hoe kon ek myself net “laat gaan het” sodat ek uiteindelik meer as die swaarste rugbyvoorspeler weeg? Mens word tog nie net een oggend wakker en dan is jy so groot soos drie mense in een nie?

So sê almal.

As woorde soos sambokhoue op ’n lyf gewys het, sou dit lyk of ek lank op ’n rooster gelê het. Dit is hoekom dit makliker is om aan my lewe as een lang strokiesprent te dink.

Dis die eerste stuk wat ek dié keer op Amerikaanse grond skryf in die pienk notaboekie wat ek jare tevore by ’n marksmous iewers in Suid-Amerika gekoop het. Ek, wat die geklets oor ’n radio onuithoudbaar vind en nooit eens ’n televisie besit het nie, het ’n versameling musiek vir my rit aanmekaargesit. Dié reis het ’n klankbaan nodig. “Mustang Sally” speel kliphard.

Vandag is ek sý.

Parow haal mens soms op die onwaarskynlikste plekke in.

Dit is my tweede aantekening. Veral oorsee herinner my grappies my daaraan dat ek van ’n nasie kom wat eens bekend was vir hul hartlikheid en kapasiteit vir kuier en lág.

“Ons sal weer opstaan,” sê ek hardop.

Vir ’n oomblik oorweeg ek om iets te skryf oor seks in die koshuis van een van die vernaamste meisieskole in die Paarl. Nee, dis nie die regte tyd vir my amperse kopulasie met ’n leerkrag op ’n koshuisbedjie waarvan die matras soos ’n toebroodjie om ons gevou het nie. Ook nie vir die impak daarvan op my knit-one-slip-one-skoolloopbaan nie. Meneer het ’n tatoeëermerk op sy skouer gehad lank voor lyf-ink gewild geraak het.

Destyds was ek nog onnosel en diep, diep goedgelowig.

My pienk notaboekie is altyd by my. Soms gaan maande verby wat ek nie daarin blaai nie en dan op ’n goeie dag lees ek dit deur. Sekere dele laat my hart vinniger klop.

Soos daai een skemeraand in 2016 by Lekkersing.

Ander skryfwerk word in ’n trommel op my ma-hulle se solder gestoor. Klaswerkboeke, met die gekrabbel van ’n leeftyd, die ene sielswroeging oor wat op aarde mens doen terwyl jy op Aarde wag om deel van die lewe te word.

Die blote feit dat ek die boekie by my het, oortuig my dat ek werklik bestaan. Ek kan dit oopmaak en plekke onthou waar ek was en mense wat my pad gekruis het. Boonop is dit met die helder kleure van die mense van die Andes oorgetrek, nes my gehawende poncho met die pienk, turkoois en oranje strepe. Die kledingstuk met sy stukke gesmelte materiaal van toe ek te naby aan ’n vuurtjie gesit en bibber het, met onuitwisbare kolle van opgekrul slaap op die vloer van ’n openbare toilet in een of ander bedenklike land.

In Suid-Amerika het ek my notaboekie en ’n verlepte eksemplaar van Tintin in ’n waterdigte zipsak oral met my saamgedra.

Op ’n manier anker skryf my. Asof ek nie net aan haarslierte tussen kranse en ’n hemelse poort sweef nie, soos my suster graag sê. Die notaboekie laat my voel soos ’n mistieke reisiger wat eendag ’n skrywer gaan word. Van daardie items wat jy besit omdat dit jou aan die persoon herinner wat jy regtig graag wil wees.

Ek sukkel wel om op die klein bladsytjies te skryf. Niks van my is meer klein nie. Nie my handskrif en ook nie die rondomskrik van my lyf nie. Inderwaarheid is die notaboekie die grootmensweergawe van ’n geheime lys vloekwoorde wat ek as kind versamel het. Voorlopig teken ek dus met gewyde erns net bogenoemde lewensfeite in my bont boekie aan. In elk geval is hier nog net ’n paar skoon bladsytjies. En hoe kleiner ek probeer skryf, hoe morsiger my aantekeninge. Dit irriteer my, want enige wanorde stem my onrustig.

Buite leun ek teen die enjinkap van ’n 1975-Ford Highboy, ’n bielie van ’n trokbakkie wat ek in Las Vegas gehuur het. ’n Spontane tweede keuse, want die Mustang was toe net te ekstreem: ’n blinkswart spoegperd met rooi-oranje vlamme oor sy snoet. Ja, soms het mens iets met houding nodig, maar die hoë bakkie is ook g’n pushover nie. Dis belangrik om die regte voertuig vir elke reis te hê. Sal ek dít nou nie weet nie.

Wide Bertha is donkerblou met ’n silwer streep oor haar ruim heupe. Ek sal moet leer hoe om haar te parkeer, want sy pas ook nie oral in nie. By Area 51 het ek gas gegee net voor ek by die hekke gekom het sodat ek haar tamaai voorwiele met ’n stertswaai skuins kon pluk.

Vir effek.

Partykeert moet jy net op verbode terrein afjaag en stof opskop. Die ingang na Area 51 is immers onder streng bewaking. En dis die hele punt. Ek kan tog nie met ’n gepoer-poer stelling inneem nie.

In Bertha gaan ek aansienlik stadiger ry, maar dis nie ’n reis wat afgejaag kan word nie. Van Las Vegas tot in Sedona is net onder sewehonderd kilometer, maar ek gee nie om as Bertha my vertraag nie. Ek wil ry asof ek saam met Pa by ou plekke aandoen. Ons sal kyk, eet, drink en herinneringe deel.

Met die gerem het my notaboekie op die vloer beland. Dit het by ’n gesprek oopgeval waarvan ek net die laaste woorde neergeskryf het, maar elke keer dat ek dit weer lees, laat dit my voel asof dit pas gefluister is.

Ek was in die klipkoppies van Lekkersing om opnames te maak van die eiesoortige Afrikaans van die kontrei. Met my driepoot as kierie het ek teen ’n massiewe, geronde klipplaat opgeklouter. Toe ek tot stilstand kon kom sonder om my balans te verloor en tot onder in die dorp terug te rol, het ek my skoene uitgetrek. Ek gedra my dikwels soos iemand wat fiks en maer is. Slender Wonder.

Hoe lank ek daar gesit het, kan ek nie meer onthou nie, maar ek was kapoet van die inspanning en skrikkerig vir die afgaanslag, stellig op my sitvlak.

Net voor die skadu’s heel lank rek, gewaar ek onder in die veld ’n beweging. ’n Veewagter met sy klein kudde. Hulle loop in die rigting van die krale aan die buitekant van die dorp.

Met hierdie man wil ek gesels! ’n Laaste toevoeging tot my storie oor Lekkersing. Al is die lig reeds te swak vir foto’s, kan ek reël om hom die volgende oggend gou af te neem.

Die man het wit tekkies aan. In die naderende skemer help dit my om hom nie uit die oog te verloor nie. Kort-kort raak die twee bewegende wit kolle weg en kom ’n rukkie later weer te voorskyn.

Die veewagter gaan staan toe ek my arms soos reënveërs swaai. Hy fluit en sy skape rem ook en klomp saam.

Ek’s so uitasem, ek kry skaars geglimlag.

Die man het ’n skerp neus, blink, donker oë en ’n vel met ’n hier-en-daar-baard. Hy is langer as wat hy van ver af gelyk het en staan my rustig en inwag.

“Naand, Meneer! Askuus dat ek so vir jou waai en skree, maar jy stap so vinnig, ek was bang ek haal jou nie betyds in nie.”

Die uitdrukking in die man se oë laat my woorde na my toe terugkaats. Stil geskok staar ek hom openlik aan, maar kan hom nie peil nie.

Sy vingers is lank en sterk, het ek opgemerk toe ons gegroet en ek my bekendgestel het. Hy ruik na stof en veld en vuurtjie. “Stap saam, Willemien?” begin die wit tekkies weer ’n paadjie deur die bosklossies baan.

’n Salige, onverklaarbare bedeesdheid oorval my. Ek voel so vredig, ek wil niks sê nie. Ek dink niks. Ek vra niks.

Stilte.

Ek moet keer om my hand kinderlik in syne te sit.

Daar is iets baie eienaardigs omtrent dié mens. Ek bly kyk na sy gesig. Dis oneindig gerusstellend. Soos wanneer jy skielik onthou om tot in jou longkaste behoorlik asem te haal nadat jy lankal suurstofnood gehad het.

Ek’s nie onbekend met veewagters nie, maar hierdie man is anders. Hy’t niks van my nodig nie.

Is dit een van húlle?

Nouliks glo ek wat ek ervaar. Ons loop asof ons nog altyd saamstap. Ek is bewus daarvan dat hy nie sy naam gesê het toe ons gegroet het nie. As joernalis weet ek dat ek geen aanhalings van iemand mag publiseer van wie ek nie die volle naam weet nie.

Tog swyg ek.

Ongekende tevredenheid snoer my lippe. Môre sal ek in die daglig al sy besonderhede afskryf soos dit hoort.

Voorlopig net veldstilte om ons. Bossies wat kraak en klippertjies wat ondervoet skuif. Die eerste aandvoëltjies fluit na die maan se pan. Motte styg met vet lyfies op soos vlieënde wattepluisies sodat die vlermuise net kan skep.

Die man se geaardheid oorrompel en verwar my. Ná byna twee dekades se ervaring van vreemdelinge vir onderhoude trompop loop, kan ek die mense wat nie verwond is nie op my een hand tel.

Eintlik is hy my eerste een. Iemand wat nie vra dat ek my woorde versigtig kies, of my aksent aanpas nie. Of die talle fyn dingetjies doen wat ’n mens aanleer om vertroue in te boesem. My witgeit val van my af omdat ’n heel mens nie kleur het nie en noudat ek in die teenwoordigheid van een is, het sy kleurloosheid myne oorbodig laat voel.

’n Skaapwagter.

Nadat ons die troppie in die kraal toegemaak het, beduie hy ons moet hier naby sit.

“Willemien het ’n vraag?” In die sterk skemer kan ek sy gesig nie uitmaak nie, maar sy sagte stem en aura stel my gerus.

Ek het. Nie my onderhoudvrae nie, en ook nie vrae vir ’n veewagter in die Richtersveld nie. Dié lê soos veedrolletjies opgedroog in die sand om my.

“My vraag is eintlik ’n vraag aan die Here.”

Die skape blêr en ’n gatswaaiende hond kom by die veewagter se voete lê.

“Is daar nog?” vra ek asof ek die sub-A’tjie is wat vir die juffrou nog koeldrankdoppie-tellers vra om op die klaskamer se speelmat uit te pak.

“Nóg?” kan ek hom amper hoor ’n glimlaggie trek.

Ek voel nie soos gewoonlik skaam, belaglik of ontbloot nie. Ook nie vet en drillerig, of soos ’n aanstootlike aanbieding van gebrekkige vroulikheid nie. Woordeloos laat hy my voel of ek mág vra.

“Ek wil graag weet of daar nog heel mans op die planeet is?”

Hy vryf met sy een tekkie se toon oor die wolpensie van die hond, wat nou pote omhoog lê. “Ja, liewe Willemien. Daar ís.”

Wat soek ek? Vergifnis en om te vergewe. Vrede. Dat ek en Pa weer oukei met mekaar sal wees. Dat my suster begrip sal hê hoekom ek my lyf so afgeskeep en my greep op myself heeltemal verloor het. Dit moet reg wees sodat ek uiteindelik na my eie lyf en lewe kan terugkeer.

Want sien, hier op Aarde het jou gees ’n lyf nodig om jou grenslose potensiaal vir liefde te kan leer uitleef.

Liefde is nie vir lafaards nie. Jy moet vrywillig kies om oor die krans van vrees te neuk.

Arms oop, gillend.

Eers dan is jy reg vir dié ontmoeting. Ware herkenning blyk op ’n frekwensie te wees waar min mense vreesloos genoeg is om na te mik. Raar, dog nie onmoontlik nie.

Wat sou Ma sê as sy hoor waaraan ek nou dink?

“Liefde is iets wat ’n ma vir haar kinders voel. Of wat tussen jou en jou diere is. Die res is ’n versinsel. Jy mors jou tyd om dit na te jaag.”

Desondanks het ek lankal geleer om my instinkte te vertrou: die woordelose wete wat jou na jou bestemming lei. Sommige mense glo in soul mates, maar die hemelsegte is fyner geweef as passie op menslike vlak wat onder ons dikwels as liefde paradeer.

“Ja, Willemien,” het die veewagter met die wit tekkies gesê, “daar is.”

Van toe af glo ek soos ’n kind wat die prentjies van haar toekomstige lewe solank in doppies uitpak.

My reis is ’n afskeidsrit. Nie net van Pa nie, maar van my ou lewe. Eintlik is dit lankal verby, maar ék het nog nie die sprong gemaak nie. Ek huiwer nog asemsnakkend op die platform, asof ek gaan bungee jump. Pisbang om te spring, dog weet ek dit is nou of nooit.

Pa se begrafnis was chaoties. Wie sou die oranje snor kon voorspel het? Of die sang-item? Daar was nie tyd vir tot siens sê nie.

My gedagtes ry skoppelmaai. Tussen toe en nou. Tye wat ek onthou, nie soseer oor wat gebeur het nie, maar oor hoeveel ek toe geweeg het.

Kolonel Wendelle Stevens het my en Pa destyds na Area 51 gebring. Ek en Pa was dik van die lag. Pa kon mens selfs in die slegste tye laat lag. Sy positiwiteit het soos ’n kragbaan van hom uitgestraal. Niks kon dit afskakel nie. Dié krag kon ’n hele huis of kantoor vol mense, asof gehipnotiseerd, gemotiveerd laat bly – al was daar nie eens geld om melk vir koffie te koop nie.

Tog het dit my soms tot in die murg uitgeput.

Deur die jare kon net sekere mense dit langer as ’n rukkie naby Pa verduur voor sy vulkaniese energie hulle uitgebrand het. Voor Fabulous Fabula in sy lewe ingeheupswaai het, het niemand die moeite gedoen om die sekretaressies se name te memoriseer tensy hulle al ’n paar weke uitgehou het nie. Die meeste het binne dae al hul handsakke gegryp en gevlug.

Sy vreemde energie en die oortuiging dat wat hy op daardie spesifieke dag geglo het, die reine waarheid is, het mense oorrompel. Só kon Pa die polisie of verkeersbeamptes oorreed om ons soms ’n dorp in te begelei. En voordat tegnologie dit onmoontlik gemaak het, kon hy met die koppe van besprekingsagente smokkel. Dit het dikwels gelei tot opgradering na eersteklassitplekke, al was ons vliegtuigkaartjies gekoop met ’n kredietkaart waarop daar geen sent was nie. Gereeld moes ons net keer dat Pa nie die hele restaurant oorneem, maak nie saak in watter land of taal nie. Hy sou die kelners, die bestuurder, die sjef en die eienaar rondkommandeer, en boonop interaksie met elke tafel hê. As Pa lus was vir sing, hét hy gesing.

“’n Kombinasie van die onversadigbare behoefte na erkenning en lewenslus wat oral net kontakte wou opbou en partytjie hou,” het ek vir my suster verduidelik hóé die pa was by wie ek grootgeword het. “Soms kon dit die plek in een geselligheid omskep, maar hoe ouer ek geword het, hoe meer dikwels was dit net so over the top dat ek die tafeldoek oor my kop wou trek.”

Meestal het ek nie die stamina vir Pa gehad nie.

Min mense het. En tog was daar diegene wat om hom rondgehang het asof hulle juis sý energie nodig gehad het om weer in die kryt te klim. In retrospek was dit dikwels Pa se hart vir diere wat my sag gemaak het, al was ek soms hoe die joos in vir hom. Een keer by ’n braai het ’n skerpioen op die vuurhout probeer uitklouter en al wou almal hê die ding moes doodbrand, het Pa geweier. Hy kon die fisieke lyding van diere of gestremde mense nie verdra nie.

Pa het ook ’n aanvoeling vir perde gehad. Nie een keer nie, maar talle male was ons iewers waar die perde hom nie geken het nie, maar hulle sou hom vir aandag uitsonder. Al sit hy in ’n kar, sou die perde regoor hom teen die draad bly kap-kap met die pote, ore gespits.

In my middeldertigs het Pa egter sy mees snyende oordeel oor my gefel, wat nietemin so waar was dat ek amper verlig was. Asof ek lank reeds voor ’n vuurpeloton staan en wag het terwyl Pa aanlê.

“Kyk hoe lyk jy. Jou dele pas glad nie bymekaar nie. Jy is nie veronderstel om só te lyk nie! Hoe jy klink en hoe jy dink en die lewe wat vir jou ooplê, pas nie by jou lyf nie.”

Pa was reg.

Vóór daai konfrontasie was ek miskien gewond, maar daarna was die koeël deur die hart. Én die galblaas.

Dis steeds moeilik om daaraan terug te dink. Net twee dae tevore het ek by Pa se plek in Bloubergrant opgedaag nadat ek hoe lank nie eens geweet het waar hy hom bevind nie.

“Ek’s bly om te sien jy het jou stryd teen anoreksie gewen.” Pa se oë het my met ongekende sarkasme gemeet.

Die goudgrawer, self lankal verby haar beste jare, op wie se heup Pa se hand vir ’n oomblik gerus het, het ’n onsekere laggie gegee. Hy het die vrou in die rigting van die kroeg op die breë stoep gedruk. “Loop wag daar vir my.”

Ver onder ons het die samelewing verdeel in diegene wat iets doen, en die ander wat in hul karre sit en wegneemetes verorber terwyl hulle die eerste groep dophou. Hulle kom om te kyk en te eet, maar klim lankal nie meer uit hul voertuie nie. Die karsitters word die toeskouers van die kite surfers wat soos marionette hoog bo die water uittol, terwyl die drawwers en stappers met honde verbykom.

Selfs die kinders van eersgenoemde groep het in die karre bly sit, elkeen met ’n roomys wat hulle by McDonald’s se deurryplek in Table View gekoop het.

“Nou was ons lekker by die see,” sal die ma sê nadat haar kroos oor die laaste slaptjip gekerm en baklei het, en haar man ’n wind opgebreek en die enjin aangeskakel het.

Niks van die vrolike aktiwiteite onder by die see of die mooiheid van Robbeneiland wat soos ’n prop op die horison dobber, het tot by Pa se plek deurgedring nie. Op die dakverdieping het ’n skerp windjie gewaai en kon ek die hoendervleis op die kaal skouers van Pa se metgesel sien. Sy het ’n cocktail-rokkie aangehad wat gelyk het of dit eens haar dogter se tuisgemaakte matriekafskeidpoging kon gewees het.

Die penthouse het twee verdiepings gehad en Pa het hom teen die onderste reling van die trap gestut. Ek het nie net woede in sy oë gesien nie. Daar was veel meer.

Veragting? Walging?

Deur Pa geweeg en te swaar gevind, is ek net so woedend, maar op my lippe was ’n dringende pleidooi. As my bewende bene my die trap kon afdra, sou ek my arms om hom wou slaan om te smeek dat ons net vir één keer in ons lewens regtig met mekaar moet práát.

’n Laaste kans vir ons albei? Sou ons mekaar ooit weer sien? ’n Pa en kind het aan toue hoog teen ’n krans gehang, en die pa moes tussen homself en die kind kies. Wie gaan hy lossny sodat die ander een kan oorleef?

“Adriaanus, gaan pak my dogter se goed,” het Pa bo-oor my gekners, sy oë grys soos staalwol. “Vat haar waarheen sy ook al wil. Maar,” terug na my, “jý slaap nie ’n nag langer onder my dak nie. Kyk hoe lyk jy! Wanneer gaan jy iets aan jouself doen? Wil jy jou hele lewe opmors net omdat jy nie selfbeheersing het nie? Ek skaam my.”

Pa praat, stadig, nadenkend. Steeds met die emosionele afstand van iemand agter tralies. “Jy is ’n verleentheid vir jouself én vir my.”

Ek beduie met my ken na die naamlose vrou: “En Pa praat met my oor ék ’n verleentheid is? Is dít al wat Pa deesdae kan bekostig?”

As ek hoegenaamd nader was, sou Pa my sekerlik ’n floater gegee het, ’n klap so hard dat jy eers ’n rukkie lank in die lug bly hang voor jy terug in jou skoene val. Gelukkig kon Pa nie teen die trap op nie.

Met my aankoms het ek al sy skok gesien.

Was dit oor hoe vet ek is? En hier staan ek, ’n onbekende obese vrou wat antwoorde van hom wil hê. Sy spieël. Die een waarin hy nie wil kyk nie. En sekerlik die een wat hy stukkend wou bliksem.

Nie een jaar in my hele lewe kan ek onthou wat sonder ’n hofsaak verloop het nie. Howe was Pa se arena. Hy moes veg om homself en ander mense uit die tronk te hou, maar op die dag wat hy my laat uitgooi het, was dit asof Pa besef het dat hy self die gevaarlikste aanklaer in sy huis toegelaat het.

Vir mý. Sy dogter.

In die gedaante van wat hy byna meer as enigiets anders gevrees het – ’n lyf sonder perke. ’n Moerse ontnugtering om my as volwassene te sien nadat ons lewens so ver uitmekaargedryf het.

“Wie is jy om hier op te daag en eise aan my te kom stel? Wat laat jou dink ek’s jóú enige verduideliking verskuldig?”

“Pa, ek het nie gekom om te baklei nie. Ek wil net beter verstaan.”

Eintlik wil ek gesels. Klarigheid kry oor sake wat ek as kind nooit bevraagteken het nie. Hoe praat mens in vrede met ’n man vir wie jou logge liggaam vyandskap spel omdat dit hom aan die tekortkominge van sy eie gebroke lyf herinner?

Ék word uitgegooi, maar die vrou verby haar rakleeftyd kan bly?

Arme Adriaanus maak nie met my oogkontak nie. Hy volg my net teen die trap op om my te help pak en my goed af te dra.

“My oudste dogter het ’n ernstige eetsteurnis. Al jare. Met wat sy my al aan geld vir rehabs gekos het, kon ek my eie Sun City gebou het. As dit gewerk het, sou ek nie gekla het nie. Maar jy moes haar ma, my eerste vrou, gesien het,” hoor ek Pa vir die DIY-brunet verduidelik toe ek en Adriaanus later die trappe afkom. “Sy was een wat die koppe laat draai het.”

As Mister Thompson daar was, sou hy Pa dalk gekeer het. Hy kon hom altyd tot bedaring bring: “Just breathe, me friend. Yer gotta breathe.” Maar partykeer was daar geen salf aan Pa te smeer nie. Dan het die beleefde Mister Thompson net vir my gesê: “My dear, my dear. Kom ek en jy gaan drink ’n lekker koppietjie tee. Jou pa word getreiter deur dinge waarvan jy nie weet nie.”

As jong man het Pa nog kans gesien vir boks, maar uiteindelik het sy lyf hom verloën. Hy moes ’n ander uitlaatklep kry waardeur hy homself kon bewys en van sy verterende woede ontslae raak. Vir my het dit later gelyk asof Pa se hofsake ’n onbewuste manifestasie van ’n soort cage fighting was. Lank voor Pa ooit tronk toe gestuur is, het hy al soos ’n dier in ’n vangnet gespartel.

Nadat hy as driejarige kind vermoedelik polio opgedoen het, het sý gestremde lyf nie by sy gees gepas nie. Hofsake, waarin hy sy verstand teen ander moes weeg, het ’n lewenswyse geword. Al het hy dit geháát. In sy kop het hy geveg sodat regverdigheid uiteindelik in sy lewe kon seëvier. Baie lank het ek soos ander geglo Pa jaag geld na, maar eintlik was hy verslaaf aan adrenalien. En afleiding.

“Noudat Pa elders is, wonder ek of hy nie dalk soos ek was, maar dit net op ’n heel ander manier hanteer het nie. Hierdie konstante gevoel dat alles om jou op hierdie planeet net oëverblindery is? En deur heeltyd drama te skep het hy seker gemaak daar was nooit enige tyd om stil te raak en die waarheid te ondersoek nie.”

Ek praat reeds hardop met my suster al is ek nog nie by haar nie. ’n Gesprek het in my begin wat ek nie afgeskakel gaan kry nie.

Gevaar en uitdaging. Dit was hoe Pa homself probeer oortuig het die lewe is eg. Oor en oor het hy situasies geskep waarin sy lewe en besittings, asook sy huwelike en sy verhoudinge met die mense naaste aan hom op die spel was. As die bedreiging nie intens genoeg en die prys op die spel nie giganties was nie, kon hy sy fix nie kry nie.

Pa was ’n junkie.

Iemand wat kinderlik gelukkig geraak het wanneer ’n helikopter met ’n soeklig verbykom, al was dit duidelik ’n seereddingspoging. “Trek toe die gordyne, Adriaanus!” sou Pa skree en voor vensters koes asof ’n skerpskutter in die verbyvlug na hom skiet. “Bliksems!” loer hy dan agter ’n gangmuur uit soos ’n kind wat wegkruipertjie speel, die ene sports en grappe.

’n Gewone dag was vir hom ’n stadige dood. Onuithoudbaar vervelig. Rekeninge betaal of ’n loodgieter bel oor ’n verstopte drein was nie Pa se forte nie.

Hy was die enkele Indiaan- of cowboyheld wat gereeld hakke inlê en vanaf ’n uitkykpunt op ’n spul papbroeke skiet. In die howe het Pa van sy mees meelewende rolle vertolk teen sommige van die onnoselste én slimste regslui. Sommige eerbaar, maar baie ook korrup tot in hul agterste stopsel.

Vandag is Pa verstrooide as en moet ek sin maak van als. Mister Thompson is om gesondheidsredes terug na sy huisie op een van die Falkland-eilande se rotsagtige baaie. Ek en hy het nog tot laat die aand voor sy vertrek saam by Ons Huisie-restaurant gekuier. Dit het by my opgekom dat ek hom seker nooit weer sou sien nie. Nog ’n karakter uit ’n deel van my lewe wat verby is.

Ek wil soveel voorvalle uit die verlede hardop vir myself of dalk my suster vertel sodat daardie gebeure hul mag oor ons kan verloor.

Sou my suster dit ooit als wou hoor?

Ek wil uit my ou self klim in iets nuuts in. My lyf is lankal verby veertig en die inleiding tot my grootmenslewe kan nou maar afgesluit word. Ander mense van my ouderdom post al foto’s van hul kinders met boepmagies op Facebook, of rou oor die heengaan van ’n tweede eggenoot, net om later te ontdek al sy polisse is aan sy eie kinders bemaak. Sy erf net die skuld en die grassnyer.

Wat die ou Suid-Afrikaanse opvoedingstelsel se kadette en LO-klasse aan my selfbeeld gedoen het, strek oor dekades. Ek het nie eens besef ek het iewers in ’n binnekamer van my eie lewe gaan wegkruip terwyl almal gematrikuleer en aanbeweeg het nie. Een oogknip poseer ek nog vir ’n laerskoolklasfoto – waar ons almal ons bene en hande op presies dieselfde manier vou – en die volgende oomblik sit ek tjoepstil alleen op my stoeltjie.

Verstar bly ek, draadjies op my marmottande, in die kameralens inkyk.

Waar is almal dan heen?

Skielik verlate.

Alleen ouderdomloos in ’n wêreld vol volwassenes wat volstaan dat dit wat in hul ID-dokumente weergegee word, as die korrekte omskrywing van hulself aanvaarbaar is. Sê wie?

“Daar is ’n vryheid in my wat onbeperk is. Dit sal never as te nooit op enige blad of kaart vasgevang kan word nie,” vertel ek my onsigbare suster met ’n handgebaar wat ek dadelik as Pa s’n herken.

Tog lewe ander makliker as ek. Asof almal iets snap wat ek mis. Mense wat ek in die geheim met verwarring dophou. Aardbewoners wat met volle vertroue inkopies aanpak sonder vrees dat verkeerde koskeuses ons hele Melkweg van ekwilibrium kan afpluk.

Knip-knip en ek land terug op my voete hier langs Wide Bertha op Roete 52, waar ek besluit om by die mensdom te probeer aansluit. Met die hulp van vriende. Rango en Tintin: sprokieskarakters wat my realiteit kleurvoller en sagter maak. Hulle praat met my in bubbles bo die kop.

Rango is ’n verkleurmannetjie in ’n animasierolprent wie se een oog spring en weer krimp wanneer hy galbitter kaktusbier in ’n cowboykroeg vir knaagdiere aangebied word. My oog spring ook as ek die mensdom aanskou of verby my borste op die skaal probeer kyk hoeveel ek nóú weeg.

Net Pa en Tintin was immer optimisties. Soms wou ek hulle albei skuins met ’n plank timmer. My suster en ek het gereeld gegrinnik oor hoe ons pa al sy briewe of e-posse afgesluit het: Positief, Pa.

Ek het eens baie gereis, maar deesdae meestal in my kop. Daardie landskap waarvoor daar geen AA-kaarte is nie, en waarvan die GPS onvoorspelbaar is. Ek weet hoekom ek ’n skrywer wil wees. Omdat woorde netjies en beheerbaar is, anders as mens se lyf.

Of kos.

Woorde kan gerangskik word op maniere wat sin gee aan die sinnelose. In stringe geryg, beskik woorde oor die potensiaal om bane te skep wat, indien nét reg saamgevleg, die koördinate na jou oorspronklike ontwerp aandui. Musiek kan dit ook doen, vinniger as skryf, maar jy het minder beheer, want musiek kan jou laagste besoedelde self ook op ’n dwaalspoor neem.

Ek is versigtig waarna ek luister, want mens moet jou paaie fyn kies.

“Kan jy nie maar soos almal in die tegnologiese wêreld ’n GPS en ’n slimfoon kry nie, asseblief?” brom my suster gereeld. Sy ervaar die frustrasie van ’n jonger sib omdat sy haarself nie ’n dag sonder moderne tegnologie kan voorstel nie. Ek verkies outydse kaarte, woordeboeke en my eie verstand bo ’n slimfoon, maar dit beteken wel dat ek al ’n paar maal om Johannesburg was voor ek die regte afdraai kon vind.

“Maar nee, met jóú praat God mos self.”

Soms is my suster ’n doos. Tog kry ’n eiesoortige dooslikheid my partykeer ook beet. Nogtans kom ek wel uit waar ek wil wees.

Soos voor dié hek in Nevada. Mustang Sarie langs Wide Bertha. Vir my leerskool op Aarde het ek hierdie keer die gedaante van ’n Namibiese Afrikaner gekies. Nie sommer enige nasie is vir my sojourn geskik nie. Kompleet of ek pas van ’n hoër dimensie my vlakste manifestasie van self in liniêre tyd betree.

Niks meer as ’n dagbesoeker aan Planeet Kindertuin nie.

Wide Bertha is so groot en bonkig dat sy my fyntjies en slank agter die stuur laat voel. Asof my lyf uiteindelik soos ’n droë, ryp peul na weerskante toe gaan oopbars sodat die ware ek ligvoets kan uitklim. Op pad het ek na Eric Burdon en The Animals se song oor hergeboorte, “Inside looking out”, met my arm op die oop ruit gery en luister: “We’ll be together, girl, you wait and see. No more walls keep your love from me!”

Stellig herleef ek nou my tienerfase, want skielik is ek lus vir musiek. Dit laat weer ’n fonteintjie iewers in my wese opwel. Al was hy ’n kort mannetjie het die jong Burdon ’n gevaarlike uitdrukking gehad wat my oor kole vuur na hom toe sou laat wawiel het.

“As ek dan tyd op hierdie planeet gaan verwyl, wil ek dit in oorvloed doen. Perkeloos wild.”

Ek hoor die woorde in Pa se stem, al het hy dit nooit gesê nie. In my kop is Pa moontlik besig om iemand anders te word as wat hy regtig was. Dis ook hoekom ek hier is. Om sy sake te kom afsluit. Pa se lewe het oor kontinente gestrek en daarom moet ek wyd reis om alles af te handel sodat ons in vrede kan groet.

Agter in my pienk notaboekie is vrae aan God. Kwelpunte vir bespreking en openbaring.

Sal hy my herken en ek hóm wanneer ons mekaar van Pniël tot Pniël betrag? Nie Pa of Burdon nie. Daai één. Die een wat ek weet ek bestem is om mee te versmelt.

Hoe lyk die plek waar jy skielik wakker word en hier staan die één voor jou? Iemand wat al ’n leeftyd wag dat julle paaie op die regte oomblik, op die regte dag en plek kruis.

Ek maak my notaboekie toe en stap weer om die kar. In die skemer staan die silhoeët van die langarm-kaktus teen die koppies afgeteken. Daar is meer as een kennisgewing aan weerskante van die pad wat jou waarsku om niks te verfilm nie. Sommige plakkate is oud, ander nuut en bo-oor die oueres gespykerskiet. Nietemin neem ek ’n selfie met ’n pen in die mond en Wide Bertha op die agtergrond. Boaan een van die ouer verbleikte borde staan daar Nellis Bombing and Gunnery Range.

Wat die Amerikaners nie besef nie, is dat as ’n Suid-Afrikaner hier kom rondhang, dit van pure perkeloosheid is. Kennisgewingborde en hekke skrik ons nie af nie. Wat nog te sê vir ’n Afrikaner wat gebore is met die genetiese oortuiging dat niemand ons ooit weer sal inperk nie.

Natuurlik weet ek sensors in die koppies het kilometers ver al my voertuig se nommerplate gelees. Teen dié tyd kyk Interpol seker na foto’s van my waar ek hier op die enjinkap in my notaboekie krabbel.

Ek hou nogal daarvan om op vreemde plekke te skryf. Die energie verskil van plek tot plek en dit, glo ek, affekteer hoe jy op daardie oomblik dink. Area 51 is eintlik niks meer as ’n padblokkade tussen kaktusse en propaganda nie. Tussen bespiegelinge en die werklikheid. Dis hoekom dit my aan Pa se lewe laat dink. Ja, maar ook aan my eie. Ek skryf verder.

Soms dink ek die antwoord oor wat met my gebeur het, is eenvoudig. Vrees is ’n bliksem sonder ’n lyf en daarom soek hy joune. Soos daai Sichuan-opera-toorkunstenaars wat mens in China kry na wie ek en Pa een keer deur sakelui genooi is. Die kunstenaar op die verhoog ruk net sy kop en voor jou oë gluur die volgende vreesaanjaende demoon jou aan. Hulle ruil gesigmaskers teen ’n spoed wat die gehoor laat skrik. Dit het selfs vir Pa die horriejieps gegee.

Wanneer laas het ek my eie gesig en my eie lyf te sien gekry?

By party van ons gebeur dit net stadig. Oor jare heen.

Eers as jy terugkyk na ou foto’s sien jy hoe daardie gedrog jou bekruip en stilletjies oorgeneem het. Vrees giet hom bo-oor jou soos ’n horror-fliek se kostuum tot jy later oortuig is dít wat jy sien, ís jy.

Wat het régtig gebeur? En het dit hoegenaamd enige betekenis of invloed op wie ek my voordoen om te wees? Of hoeveel ek weeg?

Seriaasly, ek het nou lank genoeg swaar gedra en geaanstap, Rooies.

’n Stofwindjie roer my hare. In die droë lug maak my lippe slote en is my oë krapperig. Pa was bang vir oogdruppels, onthou ek, terwyl ek na myne soek.

Geen teken van enige bewaarders in die sekuriteitshokkie nie, al hou hulle my dop. Ek verbeel my ek hoor ’n sensor piep. Ek is versigtig vir, én verveeld met, die melodramatiese Amerikaanse veiligheidsmagte omdat ek hulle al genoeg in aksie beleef het. Snellerbehepte amptenare wat hulle gedra asof hulle ’n oudisie vir ’n rolprent met ’n swak draaiboek doen.

Ek is amper lús vir skoorsoek. Kom deursoek en ondervra my gerus. Ja, ek het ook iets om te sê.

Ek wil oor my pa praat.

Hy het altyd gesê Afrikaners is die omkeerders. Hulle keer ander tale om, vat woorde wat lekker sê en jaag dan te perd weg om iets nuuts daarmee te gaan bou. Hulle keer ook stereotipiese idees om oor hoe mens op Afrika se vasteland moet oorleef. Dit mag dalk lyk of ’n Boer op vlug slaan, maar as hy sy perd daar omdraai, is jou kak gebak. As ’n groep rock spiders die koppies in verdwyn, moet jy weet as hulle weer te voorskyn kom, gaan jy dit nie te verwagte wees nie.

“Jy mors nie met ’n Boer nie,” praat Pa se stem in my kop. So ’n man was oom Siener van Rensburg. Die soort wat net een stel spore trap. Al het almal geweet hy het nooit ’n wapen opgeneem nie, is hy nietemin vir sy aandeel in die Rebellie van 1914 opgesluit. Pa het self gaan kyk wat Siener daar op sy tronkmuur in Boksburg uitgekrap het. Hy het dikwels hardop daaroor gewonder.

Saad. Wie s’n het ek? Dit is waaroor ék wonder. As ek my DNS sou kon oopvou soos ’n kaart, wat sou ek leer?

Ons is die nasate van mense wat enorme vrese moes oorkom en met oop oë geliefdes gegroet het, wetend dat hulle mekaar waarskynlik nooit weer sou sien nie. Nie almal was met hul vertrek uit Europa avontuurlustige kanniedoders nie, maar baie van hulle het dit wel geword. Uit hierdie besluit is ’n nuwe bloedlyn hier geplant.

In registers is van ons oumagrootjies dikwels naamloos. Jy sal haar graf in ’n Boerebegraafplaas ontdek, langs dié van haar wit man en kinders. Of binne die kringmure waar die eerste vrou uit Europa oorspronklik begrawe is. Dié het dikwels gesterf by die geboorte van hul eerste of tweede kind, as sy nie al op die lang tog hierheen beswyk het nie. Soms wys die register net die woord “slavin” met veerpen geskryf, al was van ons oumagrootjies nie slawe nie. Baie van hulle was boorlinge van die mengelmoes wat in die kolonie in die omarming van Tafelberg, Leeukop en Duiwenkoppen gewoon het. En ás daar ’n naam of tweede huwelik was, is dit meestal sonder van.

Net “Siena”. Sy wat gesien het.

Ek het al onder die slaweklok in Kaapstad se Kompanjiestuin gaan sit en my gees laat ween. Oor die mensdom in slawerny. Oor die knegskap in my eie kop en lyf waar ek, opgevou in ’n laai in myself, in hongerte na bevryding smag.

My stille honger. ’n Leegte waarvan ek die dieptes nie kan peil nie.

Hoe kon my voorsate om ’n nuwe lewe en identiteit én taal baklei het, terwyl ek op die beste van dae nie die moed het om Fruit & Veg aan te durf nie? Dikwels sal ek eerder honger ly as om myself aanmekaar te sit sodat ek in my kar kan klim om ’n kosinstansie te besoek. Ek het ’n heilige weerstand en vrees vir inkopies, waar jy met rye en rye keuses getreiter word en by elke item van voor af moet verklaar wie jy is en waarin jy glo. Hoekom verklap my lyf al my geheime ongeloof in die lewe en die waarde van my eie bestaan asof dit ’n opdrag is om te stol? My wroeginge laat die lewe van die Hollanders wat koolkoppe en tamaties daar onder Tafelberg kom plant het, eenvoudig klink.

Binne-in my lyf het ek aan die slaap geraak. So het ek diep en lank genoeg weggesink in ’n vrees waarin ek my stelselmatig gepantser het. En dit is die belaglike ironie van obesiteit. Hoe sigbaarder jou logge lyf word, hoe onsigbaarder is jy as mens. Waar die skaal nou staan, is nog net my tande en my mooi ore deel van my oorspronklike self.

Obesiteit beteken om gestremd te wees.

Het ek my onbewustelik só met my pa vereenselwig dat ek in die pyn en beperkinge van sý lyf wou deel? Pa, wat nie sy eie toonnaels kon knip nie en net met moeite sy skoene kon aanstoei? Oor berge selftwyfel, valleie van diëte, oefenplanne, vergrype, selfverloëning en trane. Al die flentersgeskopte skale, geskeurde foto’s en leë beloftes.

Ek, die eerlike straight shooter.

Ek lieg lang stukke vir myself.

Ander kan op my integriteit staatmaak, maar teenoor my eie lyf het ek geen lojaliteit nie. Partykeer is ontkenning al wat jou toelaat om soggens voet uit jou bed – die veiligste plek in die wêreld – te sit. Ontkenning is meesterlike oorlewing. Veral as jy die persoon in die spieël onherkenbaar vind.

Soms voel dit daar was meer spyskaarte as padkaarte in my vorige lewe. Ja, ek blameer Jan van Riebeeck ook. Dis sy skuld dat die snoepie nou in ons gene is.

Ek sou my eie Groot Trek aanpak. Van normaal na abnormaal na absurd.

My rug raak seer van so oor die kar leun, wel wetende my sitvlak is nou op al die monitors van die Amerikaanse veiligheidsdiens. As ek lank genoeg talm, kan hier dalk ’n voertuig vol gekamoefleerdes met sonbrille opdaag. Wat sou ek sê as hulle my met my hande op die kardak laat staan en vra wat ek hier maak? “I miss my father. Ek is hier om julle oor my pa te vertel. He was seldom armed, but he always behaved like he was fully loaded.” Maar as hulle my in ’n eengloeilampiesel aanhou en my met Mexikaanse burrito’s omkoop, sal ek dán dalk die storie vertel soos ék dit onthou?

Mense dink hulle sal nooit hul geboortereg vir lensiesop verkoop nie, maar hulle misgis hulle. Ons doen dit almal. Hoeveel slimme vroue eet of drink om te keer dat die woorde in hul kop nie dalk by hul mond soos teikenvaste torpedo’s uitskiet nie? Van wat jy regtig vir jou paphandjiesman wil sê – terwyl jy ’n groeiende spesmaas het dat jý die hoofoorsaak is dat hy in ’n Jelly Tot verander het – en jul spruite eiegeregtige bloedsuiers is. Met ’n hap-hap van wat ook al probeer jy dit summier afdruk. Wegsluk.

Almal stop hulle nie noodwendig vol kos nie, maar almal stop hulself wel vol met iéts – al is dit ’n verslawing aan sosiale media, YouTube of Netflix. Enigiets net om besig te bly sodat jy nie kan onthou hoekom jy régtig hier is nie. En wie jy is nie.

Ek wil nie meer popspeel nie.

Ek wil nie soos Pa net altyd op vlug wees nie.

Ek wil eerlik met myself wees en die hele verhaal net een keer hardop uit my eie mond hoor, sonder dat ek dit met kos blokkeer. Soos ’n finale mondeling wat mens in matriek aflê.

Dit is waaraan ek dink wanneer ek in die hemelruim opkyk of probeer besluit of ek vandag gaan ophou koffie drink en brood en suiwel los, of nie. Dalk sal ek weer vegetaries of vegan word? Wie weet, môre hou ek dalk net op met eet.

Waar kom ek aan hierdie hoop tot ’n eie opstanding? Dat ek soos ’n Lasarus uit my spelonk te voorskyn sal sweef en dat daar ’n hemelse kaart is wat duidelik wys: Hier! Hier gaan ek woon en hier is dit vir my gemerk: Uitgerafelde gelukkigheid met ’n saligheid in my oë wat deinings gewelfblou waarheid na ander toe uitstoot. Bedags speur ek na die horison. Snags worstel ek met die gevare van gluten en kaas.

Ek strek my rug.

Die windjie raak nou koel en die vel op my bene voel droog. Wat het my besiel om tot hier te ry? Pleks dat ek ’n fles koffie saamgebring het.

Ek kan mos maar weer môre hier kom parkeer en verder skryf? Orde skep. Ek wil al die belaglike, vreesgedrewe en liederlik verkeerde besluite, ompaaie en vernederinge saamstring en met een naald aanmekaarstik. Ek wil die Hoër Waarheid soos ’n templaat bo-oor alles afdruk sodat my storie tot iets wat betekenis het, verhef kan word.

Rachel is sowat 56 kilometer vanaf Area 51 en die naaste oorslaap- en toiletplek. Dit is kleiner as Maltahöhe waar ek glo eendag gaan erf en ’n grondbaron word. Terug by die Little Alien Inn Motel snuif ek die reuk van petrol en stof in. Wit, kalkagtige Amerikaanse stof wat in jou hande verpoeier, moontlik as gevolg van die geheime kernwapens wat die owerhede roekeloos in hierdie geweste getoets het.

Pa se geld wat destyds deur die Amerikaanse owerhede gevries is, sal ons seker nooit sien nie. My suster het ’n ou koerantuitknipsel van die LA Times opgespoor. Ons praat van iets soos $110 miljoen, waarvan etlike miljoene nooit opgespoor is nie. Sjoe, in die tagtigs was dit meer as ’n redelike fortuin. En Pa was maar in sy dertigs gewees. Nogal baie om te vermag vir ’n Afrikanerklong wat in spoorweghuisies grootgeword het en op driejarige ouderdom vir hoeveel jare daarna tot net onder sy skouers verlam was.

Ek vat die lêer met Pa se dokumente op die bakkie se sitplek saam om in my kamer te bestudeer. Wie het Pa regtig geken? Nie sy kinders nie. Sy vroue oorweeg ek nie eens nie. Nie een van hulle was binne-in Pa se Louis L’Amour-wêreld nie. Pa se donkie en sy perde wel. Dalk Mister Thompson. Moontlik sy enigste ware vriend.

Die rolprentspan van Independence day het ook glo in hierdie motel tuisgegaan. Ek haal my eie laken uit my reissak, want ek wil nie mikroskopies meemaak wat als op hierdie beddens ná ’n lang dag op stel gebeur het nie.

In die hoek van my outydse laken met sy piepklein geborduurde roosknoppies is Ouma-hulle se voorletters met inkpen aangebring, en die woord “Pastorie”. Die laken is wit, en as ek diep inasem, onthou ek dat ek eens ’n kind met ’n rein hart was.

Maar op sewe het ek al geweet my maag is te groot.

Dit laat my dink aan ’n keer toe ek onverwags ’n nuwe pêl gemaak het. Van daai lekker goed wat met jou in rehab gebeur waar jy niks het om na uit te sien nie, behalwe die bespreking van jou stoelgang met ’n terapeut. En skielik verander jou hele dag – oor een mens wat jou laat lag. In Afrikaans.

Wouter. En Wouter se gawe pens.

Toe ek sy aksent hoor, het ek geweet dié man kan net van die Noord-Kaap af kom. Wie sou nou ’n Wouter in ’n kliniek vir eetsteurnisse en ander afwykendes in Spanje verwag?

Na sy hangmaag, snoesig onder ’n tuisgebreide trui, het hy as “Magdel” verwys.

Ek, Wouter en Magdel was dadelik vriende. Wouter en Magdel het dit die vrolikste rehab nog gemaak. Al het ons oppassers en terapeute gevra dat ons ter wille van die ander nie in Afrikaans kommunikeer nie, kon een kyk die omvang van die belaglikheid oordra.

Wouter was ’n maagd; dit was sy eerste keer in rehab.

Aspris het ek nie vir hom gesê hier gaan altyd iemand saam met jou toilet toe nie, en as jy klaar is, kom inspekteer hulle die bak. Hier word jou opelyf intens aan etenstafel bespreek, asof dit ’n invloed op aardverwarming het.

Wouter se gesig ná sy eerste draai het my histeries laat lag.

“Het hierdie mense geen skaamte nie? En jy waarsku my nie?” Wouter het rooi en ontstig van die toilet af teruggekom, sy stem ’n hoë trilling en sy een hand wapperend asof ’n floute naby was. Vir die res van Wouter en Magdel se verblyf het hy aan erge konstipasie gely en parmantige gevegte opgesit wanneer die besorgde Spanjaarde hom iets daarvoor wou ingee.

Ek onthou my terapeut het gemeen ek steek my ongemak oor sekere emosies weg deur vir byna als te lag. Nodeloos om te probeer verduidelik ek kom van ’n land waar mense nog spontaan lag, al leef ons in ’n korrupte bestel waar landsreëls moontlik met spin-the-bottle oor ’n boks Nando’s uitgedink word. In ’n winkel in Duitsland waar ek en Pa eendag hardop gelag het, het die verwarde verbruikers tot stilstand gekom. Die een gesig norser as die volgende oor dié onwelvoeglike opgeruimdheid.

Gelukkig is Mister Thompson verskeie tale magtig en kon hy hulle gerus stel. “Die mense lag nie vír julle nie! Moet asseblief nie aanstoot neem nie. Hulle kom van ’n land waar mense vanself lag.”

My terapeut was ’n aantreklike vrou met ’n gryswit vlegsel en die permanente uitdrukking van voorskriftelike deernis wat jy van ’n mamoerse duur behandelingsentrum verwag. “Are you comfortable with me touching you this way?”

Fok, nee! Ek is nie.

“For some – laughter is the safest way to cry.”

Dit was heerlik bevrydend om iewers in ’n vreemde land in rehab te wees waar ek kon ophou voorgee om nice te wees. Ek kon so kinderagtig, onbeskof of kreatief wees soos ek wou. Selfs waag om liefdevol en gaaf te wees. Maar meestal was ek weer die kind wat saam met haar pa oor als gelag het.

In individuele of groepsessies waar terapeute my tot volwassenheid wou dwing, het ek gehuil: “Julle is vals! Julle gee niks om vir my nie. Julle word betaal. Julle het geen idee wie ek regtig is nie. Dink julle om in my stront te krap gaan julle iets van my ware self leer?”

Dit was nie regtig op húlle wat ek gegil het nie. Dit was op myself en die gedrog wat ek toegelaat het om my lyf in te neem. Iewers sou ek wel altyd weer om verskoning gaan vra. Afrikaners is eenvoudig net te goed gemanierd.

Wouter se koms het als lig gemaak en my gedrag aansienlik laat verbeter. Nou het ek iemand gehad saam met wie ek kon lag. Wouter was ’n reddingsboei, iemand eg.

Party dae het ons net groen sap, ’n massering en ’n sif gekry. Laasgenoemde was om die sukses van jou toiletsake te bestudeer. Ek en Wouter het by die swembad gaan wegkruip met ons sproetgesigte in ’n permanente rilling getrek. Ons was verwilderd, en daarom byna altyd histeries aan die giggel.

’n Grap was dit beslis nie. Sommige pasiënte het lintwurms opgelewer wat byna groot genoeg was om vir aanneming op te gee.

Wouter se gunstelingbehandeling was wanneer ons deur ’n Spanjaard met ’n kaal bolyf gemasseer is totdat jou oë in hul kasse begin terugrol. Ons het na hom verwys as Ernesto Half ’n Half. Die onderste helfte van sy kop was geskeer en die boonste gedeelte in ’n poniestert.

“Ek vermoed onse Ernesto bewerk na-uurs daai Amerikaanse Raponsie van jou,” het Wouter my met duidelike afkeuring meegedeel. “Sy’t so ’n gloed as sy daar by sy ateljee uitkom.”

As Ernesto se kokosneuthande met jou klaar was, kon jy nie regop loop nie. Jy het geslinger, Pappie, en aan die gangmure vasgehou. Blink en glad soos ’n paling gevryf. Buite Ernesto se spreekkamer het die mure strepe vertoon, asof reusagtige, beskonke slakke daar geseil het.

“Ek dink nie my hart gaan dit hou nie,” het Wouter hygend van sy eerste sessie gekom. “Ek gee hom enige dag een van my niere.”

Onder by die swembad, elk met ’n poltus van vulkaniese as om ons mae ge-Gladwrap, vertel Wouter vir my plattelandse stories.

Al sou ek dit nooit aan my ma erken nie, het ek met erge skuldgevoelens huis toe verlang. Ek is direk van Amerika na die verskillende rehabs gepos en was lanklaas in Namibië of Suid-Afrika.

Een van Wouter se stories gaan oor ’n stel spore op hul plaas in die Roggeveld. Toe hy nog ’n klein seuntjie was, het hy en sy ma vroegoggend iets aardigs buite gewaar. “Vlak voor ons stoep het ’n stel yslike spore gelê.” Wouter hou sy hande oor sy poltus om te keer dat sy doek afval.

“Hoe groot? Soos watter spore?” Krakend kom ek op my elmboog orent, die ene ore.

“Nee, gits, ons het nie geweet nie, maar almal het kom kyk. My pa is geroep, my oom Jurrie van oorkant, die bure van byna veertig kilometer ver, en al die bruin mense van die kontrei. Niemand het al sulke groot spore gesien nie. En wat so onverklaarbaar was, is daai spore het net voor die huis gelê, maar nêrens heen gegaan nie!”

“Nee, man, Wouter. Hoe bedoel jy nou? Het julle die spore gevolg?”

Wouter het al so pienk in die Spaanse son gebrand dat ek vir hom my breërandsonhoed aangee.

“Die spore het gelyk soos dié van ’n groot kat, maar al die ongediertes is mos lankal uitgeskiet, en die spore was in elk geval hopeloos te groot vir ’n bergluiperd of so iets. Dit was kompleet of daai spore kom van iets wat op die stoep gelê en toe opgestaan en ’n entjie geloop het. En net daar het die spore opgehou. My pa-hulle het selfs vir Skeel Jasper, die jakkalsvanger, met sy honde laat haal, maar nêrens kon hulle ’n plek kry waar daai spoor weer grond gevat het nie.”

Sweet vorm strome onder die plastiek om my lyf. Bitter kielierig en ongemaklik. Om te keer dat die poltus voor die tyd afskeur, probeer ek op Wouter se vertelling konsentreer.

“Pleks lat die honde spoorvat, staan almal net oopbek of gaan lê sommer op die spore! Nie eens Skeel Jasper se gevloek kon die honde op dreef kry nie. Mens sou sweer hulle het die gedierte geken soos hulle stert geswaai het.”

“Was daar nie ’n boom naby nie?”

“Daar is twee baie ou bome op die erf, maar nie daar waar die spore gelê het nie, en Jasper se honde sou dit buitendien mos opgetel het.”

Wouter vertel hoe senuagtig almal was en hoe die storie deur die distrik versprei het. Hier en daar sou die werkers soggens kom rapporteer hulle sweer by die Liewe Heiland, hulle hét ’n tier hoog teen die rantjies sien staan toe die son net-net sy voorkop begin wys het.

“Niemand het geweet wat om te glo nie en, nou ja, later het dit ook vervaag, maar ek het so geskrik dat ek nooit weer my ma se rokspante gelos het nie tot ek moes skool toe gaan,” lag Wouter dat ’n blink Magdel onder die Gladwrap wys.

Lank nadat ek met trane van Wouter en Magdel moes afskeid neem, het ek bly wonder oor die spore wat net so die niet in verdwyn het. Een nag, nadat Ernesto my daardie middag tot net duskant die Hardap-besproeiingskema gemasseer het, droom ek ’n wonderlike gesig: Ek en Woutertjie is albei klein en ons speel op hulle stoep. Ons het van daardie outydse, sterk plastiektrekkers wat mens gekry het, hy ’n gele en ek ’n rooie. By ons lê ’n enorme dier, maar ons is niks bang nie. Inteendeel, ek ry met my trekkertjie al deur sy maanhare.

In rehab is daar elke dag sessies waartydens jy moet bespreek hoekom jy jouself nie genoeg liefhet om te kan ophou eet, hoer, dobbel, steel of jouself sny of verhonger nie. En as jy in ’n rehab is waar die eetversteurdes – maeres en vettes – saam is, kan dit interessant raak.

Solank die groepleier net nie voel ons moet wag dat elke anoreksie- of bulimielyer praat nie. Weens al hul skelm rituele het hulle verleer hoe om te kommunikeer. Partykeer moes ons so lank vir ’n anoreksielyer wag om haar sin klaar te maak, of te begin praat, dat almal tog net na ’n vette wou aanbeweeg. Vet pasiënte was soveel interessanter en almal verskillend. Baie van hulle het ook ’n goeie sin vir humor. Dit was tragies opmerkbaar hoe anoreksielyers almal lankal hul vermoë om te lag verloor het.

Die maeres is oorwegend selfbehep tot ’n punt waar mens wonder wanneer laas hulle gedink het aan enigiets anders as kos en hoe hulle lyk. Hulle kon tot in mikroskopiese detail praat oor wat hulle geëet het, en in hoeveel blokkies jy ’n cracker kan breek om dit oor verskeie maaltye te versprei. Sommige meisies was pragtig, maar die waan van liggaamsdismorfie het voorkom dat hulle hul skoonheid kon sien. Ná ’n sekere stadium het die maeres vir my begin lyk soos wesens wat vinnig gevries is. Die uitdrukking sit vas, die mond getrek, daar is nie meer genoeg lewensap om nog ’n geluid te maak nie. Een langtermynpasiënt het in haar minirompie soos ’n Egiptiese mummie gelyk. Jy kon nie bepaal hoe oud sy was nie, want haar vel het gespan oor iets wat lankal gebalsem was.

Maar jy kon nie anders as om te skrik as jy meer van die siekmaeres te wete gekom het nie. Sessies saam met hulle was allesbehalwe grappig. Dit was meestal om van te huil.

Die chroniese hoereerders en die dobbelverslaafdes was gewoonlik die meeste sports. Eersgenoemdes het soms selfs vir ’n kooirol met ’n vette kans gesien.

Ek en Wouter het albei ’n paar aanbiedinge gekry, maar ons het nie kans gesien nie. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy met ’n kloppende gemoed aan onse Ernesto dink nie. Ek weer was obsessief aan die wroeg oor hoe ek as interdimensionele wese kan leer funksioneer. Ook oor wanneer die ontmoeting sou plaasvind tussen my en hóm – die man met die padkaart van Sion in sy hart.

In party rehabs het die kamers nie eens deure gehad nie sodat verpleegsters en oppassers enige tyd kon inloer om te sien of iemand nie dalk sit en lek aan ’n skoensool waarmee daar aspris in iets soets getrap is nie. Of om mense te vang wat skytpille uit knope, borsels en liggaamsholtes haal.

“Ek word so hartseer wanneer ek versadig is en niks meer kan eet nie,” het Wouter ons eenkeer almal lekker laat lag.

En tog was hy ernstig. Want dit is waar. Elkeen het ’n heelal in hul mond gehad. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal. Elke smaak en tekstuur om ’n emosie te onderdruk. Ek en die stomme Wouter hoor dit die eerste keer in ’n sessie. Natuurlik het ons geweet kos is nie net vir eet nie, maar nie soos dit nou vir ons oopgelê is nie.

“Wanneer ons ophou eet en daar geen smaak is om ons te verdoof nie, kom meld jou gevoelens aan,” verduidelik Raponsie.

“Sy kyk reguit na jou,” stamp Wouter aan my.

Verskeie rehabs later sou ek die proses maklik in myself en ander kon herken. As ek ophou eet, word ek aanvanklik hartseer. ’n Innerlike geween, aanhoudend soos ’n kind wat nie getroos kan word nie. Daarna word ek rasend en rusteloos.

En dan neem die erns oor.

Enigeen wat al in ’n detoksplek was, sien al dié stadiums uitspeel. “Ek sal dalk nooit weer glimlag nie,” het my suster my een nag ge-SMS tydens ’n maand lange detoks waartydens sy net water met blackstrap melasse en rooipeper kon drink. Nie lank daarna nie stuur sy vir my ’n nuwe resepteboek wat pas in Amerika gepubliseer is: Eat like you give a fuck deur Thug Kitchen. Voorin staan geskryf: “Wat jy nie verander nie, kies jy.” Ag voertsek.

Eers nadat jy lank nie ’n krummel ingeneem het nie, bereik mens die volgende stadium. Gewoonlik ná weke van niks eet of oortree nie, en dit kom ook voor by mense wat ’n eetwyse net streng volg: Jy raak meerderwaardig. Skielik is die mensdom vir jou verdeel in net twee groepe: Diegene wat nog moet eet teenoor dié uitverkorenes wat nie meer voor die afgod van kos en vleeslike swakheid swig nie. Of almal wat op dieselfde dieet as jy is, teenoor die res. Dit kom ook voor onder vandag se Banters, CrossFit-maniakke of streng vegans wat al byna na ’n droë boontjie op voete lyk.

Eintlik het jy slegs een slawemeester vir ’n ander tiran ingeruil. Fisieke perfeksie en die ideaal van die volmaakte afmetings laat jou op die altaar van selfhaat klim. Wat dit nog meer verwarrend maak, is dat dit dikwels as selfafgodery manifesteer.

Liza Drolkop het my op Facebook opgespoor en soms kry ek ’n aardige WhatsApp-video’tjie van haar: Hey, my African friend! I’m at Number 8!

“Rehab or husband?”

Al ons gesprekke begin só. Haar laggies kabbel soos flou brandertjies teen haar perfekte implantate. Sy erken self daar is nou al soveel keer op haar popgesiggie geopereer dat sy basies net drie gesigsuitdrukkings oorhet.

“Gebruik jy steeds rehabs om vakansie te hou – weg van jou gesin?”

“Ah, you know me so well!” giggel sy weer.

Sy kan skaars wag om haar nuus met my te deel. “Raai bietjie wat het ek dié slag gefix.”

“Jou anus?”

“Done, Doll. That’s so 2010!”

Sy laat my nog ’n paar aardighede opnoem.

“My vajayjay!”

“Jou wat?”

“Jy kan die ontwerp self kies en dan vorm hulle jou jayjay soos ’n mooi klein blomblaartjie.”

“Nah!” trek ek ’n gesig toe ek my die gevoude vleesangelier voorstel. Kan jy dit nou oorvertel? Sowaar: Vrywillige vroulike genitale mutilasie in die Eerstewêreld.

“My spesialis het my vertroulik meegedeel dat sekere lede van ’n baie beroemde realiteitsgesin ook hulle klein tuintjies by hom laat opknap het!”

Hoekom Liza hoegenaamd met ’n vlugtige kennis van ’n leeftyd gelede op ’n ander kontinent wil gesels, bly ’n raaisel. Stellig het sy in al hierdie jare nog nooit haar ware self aan vriendinne ontbloot nie. ’n Vreemdeling in Afrika bied ’n veilige bieghokkie.

Die onderwerpe waaroor ek en Liza praat, is hoe sy haar lyf kan verbeter, wanneer ek iets aan myself gaan doen en die soorte kos waarna sy tans smag omdat sy dit nie mag eet nie. Sy het ook ’n galgagtige fassinasie met hoeveel ek nou al weeg. Elke keer kan ek haar ’n gil hoor onderdruk.

Sy vertel my dat in sommige rehabs hulle deesdae die afwykendes toelaat om ou episodes van die godinne van versteurdheid, Keeping up with the Kardashians, te kyk. Dan besef mens van voor af wie die god van rehabs is. In my tyd in die tagtigs was dit reeds so, maar eers vandag het ons ’n benaming daarvoor: die narsistiese self.

Die stomme Liza kan my altyd presies sê in watter fase sy is.

In die meerderwaardige fase van verhongering het ek al gordyne van hul maste afgepluk, ’n alleswetende kollegatjie in die redaksie, vars uit matriek, so hard gestamp dat sy amper by ’n stel trappe afgeneuk het. Sy wil mos seks hê met die redakteur in die toilets terwyl die res van ons moet bloed sweet om ons spertye te haal, magtig. Ook het ek verskeie werkgewers en politici byna met die vuis bygedam.

Selfopgelegde eetstakings lol met die kop. Rustelose woede en haat wat die matiges van Weight Watchers hulle nooit sou kon indink nie, kan jou pak. Jy wil vermorsel. Soms kry ek só ’n begeerte om sekere mense van die Aarde af te vee dat my lus byna uithang.

As jy die uitwissing van jou naaste as die oplossing sien, gaan jy reeds ’n verbond met die dood aan. En op daardie vlak is alle hemelse portale, asook Pniël, ontoeganklik. Lewe en dood meng nie. Jy kies of die een óf die ander.

Dis hoekom ek sommige van my notaboekies nie net kon stukkend skeur nie, maar moes verbrand. In party was tekeninge van galge.

Geroosterde kaastoebroodjies en espresso’s met room het al baie geweld in my lewe afgekeer. Party mense het drank nodig, maar vir my is koffie genoeg. Goeie koffie proe na iets wat vergifnis moontlik maak.

In ’n leeftyd van oorlog met my lyf het ek maar weinig verby die eerste beskermende laag tot by die kernhartseer gekom. My binneste lyk soos ’n Russiese houtpoppie waarin al my jonger selwers versteek word. As jy die eerste paar lae afgeskil het, bly net ’n bang kind oor.

Hartseer is die tering van die siel, elke asemteug brandend rou.

Vir sommige is kou nes gebedskraletjies. Om en om bid jy dat die gekheid van jou selfvernietiging sal ophou. Soos Elia wat bly uitkyk het vir reën, soek ek na die ondeurgrondelike dinge wat nader aan ons is as wat ons ooit sou glo. Ek wil nie onverhoeds betrap word nie. Hoop moet my nie verbygaan nie. Maar as die deur oopgaan, kán en sal alles verander. Daar ís ’n deur en ek moet Hom net eenvoudig vind. My lewe hang daarvan af.

Dink, dink, dink.

As die Little Alien Inn Motel nie die laaste stop was waar mens petrol of ’n toilet kan kry nie, sou niemand dit seker besoek het nie. Buite staan ’n trok wat ’n model van ’n vlieënde piering aan ’n opgehysde haak hou. Die somtotaal van die aksie van die dag is wanneer die ketting in die wind kraak.

Net langsaan staan Earthlings welcome op ’n tipiese Amerikaanse motelnaambord, en hoewel daar altyd voertuie in die parkeerterrein is, weet ek nie waar hul eienaars is nie. Wat hulle in die motelkamertjies doen, is seker maar wat die meeste mense in sulke kamertjies op verlate vlaktes doen: Hulle almal bekom wegneemkos en sit-lê en televisie kyk. Minus die vrou wat verwytend sug en die kinders wat langs mekaar op die rusbanke rondlê en whatsapp.

Later die middag stap ek na die motel se kroeg vir nog koffie. Op die tafeltjies is blompotjies. Leeg. Dit maak nie saak nie. Ek dra my eie vrolikheid rond.

“Is daar niemand interessant hier rond aan wie jy my kan voorstel nie? Sommer net om mee te gesels?” vra ek die kougomkouende jong kroegman en kelner aan diens toe Belle nie daar is nie.

Bokant die toonbank is note waarop mense hul name en land van herkoms geskryf en aan die dak vasgeplak het. Rachel se vlieë loop daarop rond. Die eerste aand het ek vir Belle ’n oranje R200-noot uitgehaal omdat ek van die luiperd hou. Groot katte is adel. Vir ’n hele ruk het ek gesit en wonder wat ek daarop moet skryf.

Wat sal mý ten volle versadig?

Later het ek die “my” verander na “ons” omrede ek geestelik en allesomvattend wou probeer dink. Ek meen ek kan nie net altyd op myself fokus nie – wat van my volk?

“Nah,” antwoord die jong man my. “Soms kom hier bussies met UFO-navorsers en hul groupies wat ’n dag of twee bly. Gewoonlik wanneer iemand weer ’n nuwe boek bekendstel.” Hy kyk terug na sy foon, wat duidelik sy enigste vorm van vermaak is.

Ek slurp aan die koppie koffie wat so vol is dat ek vooroor leun. In daardie opsig is wat hier gebeur het, ’n goudmyn. “En die ou in die camper van?

“Ted?”

“Ja, die een met die kep wat sê ‘Truthseeker’.”

“Ted sal vir jou ’n paar stories kan vertel. Maar hy praat met niemand.”

“Wat maak hy hier? Ek sien hom net altyd deur sy gordyntjies loer.”

Die kelner skuif sameswerend nader aan sy kant van die toonbank: “Hy kruip weg.”

My belangstelling is nie juis geprikkel nie, met ’n pa soos myne. “Regtig? Vir wie?” fluister ek, maar toe ek sien hy’s geaffronteer.

“Hy was deel van daai groep in Sedona …” Aspris laat hy sy sin onvoltooid in die lug hang. Ek kan die kougom op sy tongringetjie sien vassit.

Die foon wat hy so pas op die toonbank neergesit het, vibreer.

Kalm geïrriteerd staan ek op. House-cleaning kan die beker maar in my kamer kom haal. Die kroegman druk dit teen sy bors: “Noudat ek daaraan dink, Ted was dalk in ’n kultus.”

Die nonne spook dae lank om die jong man se koors te breek. Dank God daar is twee rytjies droë bloed op sy hand, anders sou hulle nie betyds geweet het ’n slang het hom gepik nie.

In sy benewelde toestand bly hy in ’n vreemde taal prewel.

Die ou Germaanse non, wat al ’n leeftyd in Suid-Amerika met toewyding mense bedien wat nooit sou snap wat sy moes prysgee nie, luister met haar oor by die ylende vreemdeling se mond.

Die heelal op my tong

Подняться наверх