Читать книгу Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck - Страница 14

Dollarboer

Оглавление

My suster sit met my bruin skooltassie vol ou foto’s op haar skoot. Dit móés saamkom. Miskien gaan hierdie uitreis dalk nie net oor my en Pa nie. Dalk het sy self kwessies wat ingevul en besweer moet word.

Daar is ’n plakker van oom Dik Daan en Bollie binne-in, langs my naam wat in groot, netjiese letters in die tassie geskryf staan.

“Ma se handskrif?”

Ek trek my skouers op. “Of Ouma s’n?”

“Het die skoolhoof nie in jou eerste week van sub A vir Ma-hulle gebel nie? Om te vra of hulle bewus is daarvan dat hul dogter gewapen skool toe kom.” Sy lag met haar oë toe wat my aan Ma laat dink.

“Dit kan dalk daai einste tas gewees het, hoor. Ek onthou dit nie, maar hulle sê ek het ’n broodmes skool toe gevat. Ek moes glo die mes skuins draai om te pas.”

“Waarom? Wat het jou so bedreig laat voel?”

“Meisies wat my boelie. Flippit, my hele skoolloopbaan was dit so. Ek weet nie of ek ’n irriterende kind of wat was nie, maar daar was net altyd ’n paar wat my wou dônner.”

“Jy was seker net te weird. Jy’s steeds weird.” Sy blaas vir my ’n soen.

My suster krap rond en wys af en toe ’n foto sodat ek die storie daaragter moet vertel. Party neem sy met haar slimfoon af om haar eie afdruk te laat maak.

Partykeer wil ek nie oor ’n sekere foto praat nie. Dan skud ek net my kop.

“En dié?” Sy wys na ’n foto waar ek onder Pa se arm ingedruk sit, terwyl een of ander flerrie op sy ander knie balanseer.

“Jy weet party goed kan mens net in Afrikaans verduidelik,” sê ek aspris stadig sodat sy verstaan.

“Dis ’n dolk in my hart dat jy nie—”

“Ja-ja. Jou hart bloei. Ek wéét! You have made it very clear.”

Die feit dat sy haar moedertaal verleer het, is pynlik. Sy woon al te lank oorsee om sin te maak van ons vreemde sêgoed. Hoeveel jaar het ek oorsee gewoon en nie eens ’n aksent opgetel nie? Ek’s trots daarop dat my “is” en “are” soms nog deurmekaar raak.

Pa se laaste wens aan haar was juis dat sy nooit sou ophou Afrikaans praat nie, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.

Ek kyk reguit voor my. Padvat is my kuur vir baie dinge. Daar’s iets vreedsaams daaraan om jou hande op ’n stuurwiel te hê. Soos wat ons hier langs mekaar sit, is ons enigste gemene deler ons pa.

En dalk die soeke na waarheid.

In Palm Springs het ek eens gevra: “As Pa ’n regte boer was, waarmee sou Pa geboer het?”

Hy het in die skadu by sy drywende kroeg in die swembad gesit en stapels geld netjies in rye op die toonbank voor hom uitgepak: “Met dollars! Enige Afrikaner se gunstelingoes.”

“Sjoe, Oom.” Adriaanus het net sy kop geskud en oopbek gelag soos ’n bulhond wat kos gaan kry.

“Gaan koop julle twee ’n boks doughnuts en iets te drinke vir die FBI-manne,” sê Pa soos gewoonlik en maak ’n paar note uit ’n pakkie los.

Hy is bruingebrand met sproete oor sy rug en skouers. Onder die water, weet ek, is sy bene pynlik dun en wit.

“En Adriaanus, jy trek nie ’n yster soos laas nie, verstaan?”

Adriaanus sit op die rand van die swembad. Inderdaad het dit al gebeur dat hy induik en vergeet om sy wapen eers af te haal. Sy skouers sak asof die spiere langs sy nek lam word: “Mag ek ’n tire uitskiet, Oom? Net een, Oom?”

“Nee.”

“Wat van ’n aartappel in hul exhaust druk?”

Pa sug en rol sy oë: “Here, help my,” prewel hy. “Dalk later. Stuur Lorenzo solank met cocktails. Dis warm buite.”

Die foto waaroor ek nie wil gesels nie, staan skerp uit in my geheue.

Die temalied van Pa se lewe kom uit die cowboyfliek The good, the bad and the ugly. Ofte wel, die goeie, die slegte, die briljante en die fok-apies, soos Pa gesê het.

Ek hoor weer die stemme, die musiek van messegoed en glase wat gesellig gelig word. Die sterk aksente van ander tale wat soos klankdrade luid oor tafels gelaai met eksotiese disse gespan word.

Geure en gevoelens.

’n Glimmende aand. Iewers op die grens tussen Duitsland en die USSR.

Die dogtertjie wat na die kamera glimlag, het groot voortande wat effens uitstaan.

“Brigitte Bardot lips!” sê een van die ooms aan tafel vir my.

Ek sien myself weer ’n rol vertolk in die oneindige rits etes wat soos ’n string spyskaarte ’n voerband deur my lewe vorm.

Ononderbroke.

Arriveer by die restaurant, besluit, bestel, opwinding in die mond. Jy voel die spanning uit jou syg, voel vol, voel skuldig, voel jy gaan bars. Vaak, maar jy moet wag dat die grootmense klaarmaak voor jy eendag in die bed kan kom. Dan beweeg jy aan, arriveer elders, sit aan: nog ’n vurk na mond, nog keuses, sluk-sluk-sluk.

“Wil jy sjerrie hê?” wou Pa weet. Ek mag van kleins af gedrink het. Net nagereg was verbode. Ma se reëls.

Die Russe hou van weelde. Van eet en optof en baie drink. Van bulder aan tafel. En hulle hou van goud. Maar anders as wat ek later by ander nasies sou sien, wys hulle dit eers agter geslote deure. Die eetgerei het dié aand goue inlegwerk en op elke warm bord wat deur ’n onsigbare hand voor ons neergesit word, is ’n goue strepie. Daar is selfs mense aan die tafel met goue stopsels in hul voortande.

Op die foto is onbekende volwassenes. Soos gewoonlik. Die sjef is spesiaal ontbied om na ons privaat eetkamer op te kom. Hy poseer langs ’n Afrikaanse sekretaresse-cum-skootsittende girlfriendjie en ’n baie lang en baie blonde vrou met ’n mond wat aan albei ore raak.

Net voor die foto geneem is, het Pa gesê ek moet gou langs hom kom inskuif. Ek het drade aan my tande en dra ’n geruite geel-en-groen jas met groot gespes wat my laat lyk soos ’n Pommy-sambreel wat by die middel ingegord is. Op die tafel voor my lê ’n pelsmus met lang, sagte insetsels vir mens se ore. Pa was slim genoeg om vir my te jok dat dit nie ware pels is nie. Dit laat my neus jeuk.

“En dit was dônners duur,” herinner Pa my wel gereeld. Dus dra ek dit.

Eintlik is ek allergies vir al die leuens wat vertel word, maar ek kan dit nog nie verwoord nie.

Op pad na die restaurant knars die sneeu onder ons skoene. Pa sien uit na wie vir wie gaan uitoorlê, en ek na wat ons te ete gaan kry. Vroeër die middag was die lug nog gryserig buite. Net die duiwe waarvan die spoortjies soos potloodsketse teen die sneeu vertoon. Nie Pa of ek kon verstaan hoekom die duiwe nie verkluim nie. Dit is ver-ver onder vriespunt. In Sutherland, het Pa vertel, het die muisvoëls van die heinings en uit die bome geval wanneer dit baie koud word. Dan lê die bevrore David Kramertjies met hul rooi skoentjies asof dood, maar sodra hul temperatuur styg, kom hulle weer by en vlieg ongedeerd weg.

“Ek onthou deur my voetsole,” vertel ek my sus. “Ek het rooi tights aangehad waarby ek ’n broekie onder én een bo-oor moes aantrek vir warmte.”

Die eetplek se tapyt was koningsblou en goud – heel moontlik ’n nabootsing van die een in die ou Sovietsky Hotel in Moskou. Uiters luuks soos daardie tapyt met die eerste oogopslag was, was daar al ’n dowwer paadjie getrap in die middel van die gange. Anders as die sebravel in ons ouerhuis buite Windhoek waarmee my pa gespog het, of die ordentlike hier-praat-ons-met-gedempte-stemme-want-mense-hou-biduur-matte van Oupa en Ouma se huis in die Noord-Kaap.

“Sjoe, ek was daai aand so vaak. Ek kan nou nog voel hoe graag ek net onder die tafel wou wegsink en slaap eerder as om die hele aand te sit by ’n klomp grootmense wie se gesprekke ek nie kon volg nie.”

Saam met die klomp Russe was die ewig teenwoordige Mister Thompson.

Ek en Pa het die Russe se smaak in meubels aanvanklik aardig gevind. Die weelde in die privaat sitkamers en restaurant het ons eers later te sien gekry. Voor ons binnegelaat is, moes ons op harde stoele by ontvangs wag. Die voorportaal was vierkantig soos ’n outydse skool. Asof die stroefheid jou moes stuit en jy net die weelde kon sien as jy dit kon bekostig om verby die koue fasade te beweeg.

Pa het sy sneeujas aangehad. Op die een skouer was ’n Suid-Afrikaanse vlag vasgewerk. Later sou Pa ’n Namibiese een ook daar laat aanbring. Die oorspronklike knope het hy met vlakvark- en bobbejaantande laat vervang. Dié ruiltransaksie is glo een vrolike aand in ’n Walliese kroegrestaurant in Cardiff gesluit.

Pa was oorstelp om drie diamantsmokkelaars van Port Nolloth in die vreemde raak te loop. Twee broers en hul neef. En dié het die sak tande by hulle gehad. Net daar moes die eienaar se vrou met naald en gare die saak regstel. Natuurlik sou daar ’n allesvergewende fooitjie wees wat verseker Pa is welkom – solank hy geld het.

Of Pa klippies bygekoop het, bly duister. Hy sou byna enigiets doen vir iemand wat bereid was om oorsee met hom in Afrikaans te kuier. Later die aand was Pa natuurlik die een wat opgedok het. Sy ego het nooit toegelaat dat enigiemand anders ooit in ’n eetplek betaal nie, al was hy dikwels so diep in die skuld dat ons gereeld moes gaan kyk het of mens by die toilette se venters sou kon uitkom.

Sover ek weet, is die sneeujas met sy wolvoering in Londen gemaak, maar soos Pa vertel het, sou jy sweer ’n groep singende Herero-mamas het dit vir hom geweef terwyl hulle hom soos ’n prinsie op die rug van ’n eland in die hoofstraat van Okahandja af gelei het. Pa kon ’n storie vertel dat ervare kroegmanne in Kamanjab voor die vuurpeloton van hul eie vroue sou sweer hulle het dit sien afspeel. Reg daar, treë van die kantien se deur af.

Die waterwerende jas het hy altyd in koue lande gedra, hoewel hy geweier het om die kep op te sit. Musse is vir kinders en moffies, het hy gesê.

“Weet jy? Ek onthou die geritsel en die reuk van die jas asof ek my nou daarin kan toewikkel.”

My suster lig haar sonbril en bring die foto nader om dit te bestudeer.

“Partykeer het hy dit laataand uitgetrek en toegelaat dat ek onder die tafel of op ’n bank daaronder aan die slaap raak. As dit nie vir die jas was nie, het Pa my seker al ’n paar keer in die vroeë oggendure by ’n restaurant of in die kelder van een of ander villa vergeet.”

Net voor dié foto geneem is, het die lang blondine, toe reeds beskonke, oor die tafel geleun en die hangertjie onder my hemp uitgelig. Daar was blinkertjies in haar borsgleuf en iets te jeugdig aan die hand wat sy na my uitgesteek het. Skielik lyk sy vir my eerder na ’n skoolmeisie in grootmensklere as ’n volwassene.

Pa beduie ek moet my hangertjie afhaal sodat sy dit van nader kan bekyk. Gewoonlik steur ek my nie aan die vroue wat om my pa fladder nie. As hulle mooi is, maak ek stories in my kop dat hulle feetjies is wat ’n landingsplekkie soek op die groot paddastoel waar die kabouterkoning woon.

Vanaand babbel almal in feëtaal en my pa dring aan dat ek ook iets in feëtaal sê om ons gasheer te bedank. Hoe meer bottels op die tafel saampak, hoe meer klink sowel Pa se gebroke Duits as sy Boererussies na Afrikaans, maar dit lyk nie juis of iemand dit agterkom nie. Die een skree harder as die ander een.

Die meisie-vrou sê iets op Russies, en my pa knik asof hy sy kop ná al die vodka doelbewus op sy nek moet stut. “That is my daughter’s golden bullet,” glimlag hy vir haar. “And she knows what to do with it.” Hy lig sy glas vir ’n heildronk: “Prostitute in die riete!”

As Pa en sy trawante eers kômmin raak, kyk ek weg. Sonder uitsondering gebeur dit wanneer daar Russe in die geselskap is. Ek kan klasgee in kômmin, hoe verskillende kulture dit uitleef. Dit vat min of ’n Rus trek sy wapen, terwyl Arabiere weer mekaar sommer oor die tafel klap, nes vroue in ’n katgeveg. Die Franse, sommige Suid-Amerikaanse nasies en die mafia van Mongolië pluk mes, terwyl die Italianers klein pistooltjies en groot sakdoeke dra. Die sakdoeke kom te pas wanneer hulle aan die huil raak of bloedspatsels van hul gesig moet afvee, sê Pa.

Russe sal ook sonder skroom aan tafel in hul tande grou, terwyl daar altyd iemand is wat sy oor met ’n sleutel skoonmaak en eers fronsend die vonds besigtig voor hy die sleutel aan die tafeldoek afvee.

“Mense dink altyd die Franse Legioen is die wreedste weens hul voorliefde om hul vyand van naby dood te maak eerder as om van ’n afstand af te skiet,” het Pa dikwels vertel. “Maar die gevaarlikste en onvoorspelbaarste vegters is die vroue in die guerrillamagte van Suid-Amerika. Hulle kan reeds die ene koeëls wees, maar aanhou storm.

“My nasie,” sukkel Pa weer om sy kop in posisie te bring, “is nie bloedlustig nie, maar as jy hulle lank genoeg treiter, beter jy reg wees vir wat kom. Lafaards is hulle nie! Saluut!”

Niemand verstaan ’n woord wat Pa sê nie, maar as hy sy glas lig, lig die hele tafel luidkeels ook hulle s’n.

Afrikaners, het ek as kind al opgelet, raak aan die sing en maak dan kopdoeke van servette en lieg dat hulle recces was. Hul redding is natuurlik dat hulle lekker kan lag, en ek het al gesien hoe Pa se uitbundige gelag opgewerkte manne hul oorgehaalde wapens laat sak.

Pa is wel bang vir oogdruppels, dat sy tone raak geknip gaan word wanneer mens sy naels sny en dat iemand dalk op sy voete sal trap. Pa se voete is klompe ongevormde vleis met toontjies waarvan die naels regop staan en moeilik is om te knip. Nadat gevoel in sy lyf begin terugkom het as tiener en die verlamming soos ’n vloek van hom gelig het, het dieselfde vel waarin sy klasmaats voorheen naalde kon druk, nou uiters sensitief geword. Weens sy polio het hy waarskynlik perineuritis in veral sy voete ondervind. Vermoedelik het hy die kiem by kuiergaste opgetel.

Pa het sy voete weggesteek en probeer beskerm met kort opgeboude steweltjies of tekkies wat spesiaal vir hom gemaak is. Tog het sy gesig dikwels van pyn vertrek wanneer hy hom per ongeluk teen ’n tafelpoot gestamp of ’n opgewonde hond se poot op sy skoen beland het. Net óns wat sy voete help versorg het, het geweet hoe gou hy pyn voel en op watter klein oppervlak hy moes balanseer.

Daardie koue aand vryf hande oor my kop en kry ek klapsoene op die wang. Ek kyk af, bang Pa laat my weer ’n gat in die spyskaart skiet. Daar kom altyd een of ander wapen onder ’n jas te voorskyn.

“Okahandja!” skree Pa nog ’n heildronk.

En die Russe sluk.

Die meisie hou my hangertjie met die goue koeël na my toe uit. Nou sien ek eers die lang, growwe letsel wat oor haar gorrel loop. En sy sien ék sien. Vir die res van die aand bly ek die gil hoor van iemand wat in haar lag stilgemaak is.

Intussen het Mister Thompson se wit Skotse gesig rooi kolle uitgeslat soos een van Parow se tuindwergies wat pas oorgeverf is.

“Eintlik was Mister Thompson die Rango van die groep,” vertel ek. “Die verkleurmannetjie wat met ’n versameling aksente in verskeie tale vrede of verwarring kon saai.”

“Hy’t vir my partykeer stories voorgelees in Palm Springs wanneer ek die grootmense nie wou uitlos nie,” onthou my suster.

Mister Thompson was ’n enigma. Die ene kontradiksies. Hy kon sulke klein messies gooi soos ander mense veerpyltjies gespeel het, en het ’n voorliefde vir ’n vars blommetjie in sy lapel gehad. Dikwels het hy op spesifieke blomme in Pa-hulle se hotelkamers aangedring en soms vir my en die stomme Adriaanus van die korrekte blomname probeer leer.

“Sal jy die tulpe en die kind nou los dat ons hierdie deal aanmekaar kan sit,” het ek Pa meer as een keer gefrustreerd hoor roep.

Weer pluk ek aan Pa se baadjiemou omdat ek wil teruggaan hotel toe, maar hy ignoreer my net.

“Sarie Marais!” lig hy sy glas nog ’n keer.

“Saleemalee!”

“Rageltjie de Beer!” kap Pa met sy glas op die tafel. “Ragel … and more beer!” koor almal. As dit eers op dié trant gaan, kan ek my maar regmaak om tot sonopkoms onder die tafel te slaap.

Die doeanebeampte kyk verskeie kere van die paspoort na die fors man voor hom. In die weerkaatsing van al die monitors gee die dik veiligheidsglas die amptenaar se vel ’n lewelose kleur en vertoon sy pupille vierkantig. “U is oorspronklik waarvandaan?”

“Suid-Afrika.”

“Maar u is elders gebore?”

“Korrek. Namibië. Is daar fout?” frons die man, steeds vriendelik. Hy kan nie bekostig om die vlug te mis nie. Om te ontspan, plant hy sy voete wyd.

“Tog het u tans ook ’n woonadres in die Verenigde State van Amerika?”

“Ja, ek beskik oor ’n langtermyn-sakevisum.”

Die beampte wink ’n meer senior kollega nader. Geluide van ongeduld uit die ry agter hom: “This is insane!” sê ’n Amerikaner aspris hard.

Die senior beampte kyk uitdrukkingloos na die rekenaarskerm terwyl sy met lang naels deur sy paspoort bly blaai.

Die man loer na sy polshorlosie en let daarop om sy asemhaling egalig te hou. Die oomblik wat hy dit regkry om sy perspektief na ’n groter geheel te verskuif, is dit asof gemoedelikheid van hom na die amptenare uitkring. Die senior beampte se gesig verhelder in ’n glimlag, terwyl die junior lyk of hy uit ’n katatoniese waas gewek is.

“O,” knik die senior beampte. Haar hele liggaamshouding verander sigbaar. “O, ek sien. U is ’n gereelde reisiger.” Sy maak ’n geïrriteerde gebaar na haar kollega, vou die Suid-Afrikaner se dokumente netjies op ’n stapeltjie en laat gly dit deur die gleuflaai na hom toe terug. “Dankie vir u geduld, Meneer. Ons moes net baie noukeurig wees, want twee vrouepassasiers met ’n soortgelyke paspoort het onlangs aandag getrek. Geniet u reis en kom veilig terug!”

Junior knik instemmend en lig twee vingers in ’n byna-wuif.

Die heelal op my tong

Подняться наверх