Читать книгу Die heelal op my tong - Anoeschka von Meck - Страница 16

Wat eet jou?

Оглавление

“Wat wil jy my vra? Vra dan!”

Ons is nog ’n hele ent voor Klawer se One Stop. My kleinsus se bruin hare hang oor haar skouer. Dit is weer lank soos toe sy klein was en sy en Ma na die kind- en volwasse weergawe van dieselfde mens gelyk het. “Ek’s bly jy het jou hare weer laat groei. Daai borselkop-look van Demi Moore was ook net so lank sexy en daarna het jy net hard en verbitterd gelyk.”

“H’m,” sê sy, maar vat nie die aas nie. “Presies die look waarna ek gemik het.”

Vantevore kon my suster oor niks anders as die weermag praat nie, maar nou is sy in die gesondheidsbedryf. Wel, soort van. “Cutting-edge stuff,” lag sy wanneer ek haar uitvra. Hulle vervaardig medisinale dagga.

Jare lank was sy ’n militaris en toe sy eers by die weermag aangesluit het, was Pa liries.

Daar was meer foto’s van haar in aksie as gekoopte grade teen Pa se kantoormure. “Die beste PhD wat ek ooit gedoen het,” sou Pa altyd op die een naaste aan hom tik wanneer Fabula die dag bietjie bekaf was. Dit was Pa se gunstelinggraad van dié wat sekretaresses namens hom verwerf het.

“Uitmuntende navorsing!” het Pa gereeld vir Fabula gelukgewens wanneer sy hul werk vir hom moes voorlees. In Amerika het Pa meer as een huis gehuur. Een rede was sodat Fabula in vrede kon swot – onmoontlik wanneer Pa naby is – of wanneer hy genoeg gehad het van die geroesemoes om hom. Hy het graag met dié huis gespog, want dit sou glo aan Dolly Parton behoort het. Heel moontlik het Pa net op ’n dag ’n beboesemde vrou met groot hare daar sien verbyry, maar wie sal weet?

Die Dolly-huis is waarheen Pa vir my, Adriaanus en die poepholbrigade verban het wanneer hy onder druk was. Pa kón nie net afskakel nie. Dit is ’n begrip wat vir hom nie bestaan het nie.

“Ander mense smag na vakansies, maar sy vakansie is die paar gulsige happe waarmee hy sy kos afsluk,” het my ma gesê. Pa het byna altyd soos ’n verhongerde dier geëet. Nie ’n aptytwekkende gesig om te aanskou nie. Nogtans was hy baie gesteld op die tafelmaniere van almal om hom. Eintlik was hy besonder beskaaf; praat van dele wat nie pas nie.

My vlugtige vertoef by ’n afrondingskool in Switserland was nog ’n grap.

“’n Dônnerse duur grap,” sou Pa voor gaste spog. Nietemin een hengse lekker ondervinding en blootstelling wat my insig in die mentaliteit van die boonste strata van die samelewing sou gee. Daar het ek van naderby gesien hoe onseker, arrogant, diep onnosel, totaal afgesny van die realiteit, of vol sports party adellikes en verspot rykes kon wees.

“Eintlik nogal soos rehab,” skets ek dit vir my suster, wat vir ’n ruk so bar was dat ek benoud was om ’n kamer met haar te deel.

“Wat verwag jy? Ek moes hoe lank my toiletsake byeenskraap met iets wat soos ’n koekskepper lyk en dit in versengende hitte in ’n ziplock in my rugsak saamdra.”

“Yuck! In Afghanistan?”

“I never want to think of it again. Daai kak is verby,” sê sy stadig en duidelik ingenome met haar Afrikaans.

“Ons was net eleganter aangetrek en gegrimeer aan die ontbyttafel,” gaan ek voort oor my dae in die finishing school. “Vra my tog asseblief hoe om ’n granaat te sny sonder dat ’n korrel wegrol. Of hoe mens uit ’n limo klim sonder dat jou ghwar wys. Maar die afrondingskool wag seker nou nog dat die rekening vereffen word. Ek het die granate skaars bemeester of Mister Thompson kontak my om te sê Pa is opgesluit en dat dit na ’n langtermynsessie lyk.”

“Hektiek! Vertel?”

“My dear, ek’s bevrees als is gevries en jy sal jou slim uit die voete moet maak om jou verleentheid te spaar. Ek kon deur my kontakte ’n vliegtuigkaartjie vir jou reël.”

Mister Thompson was oor my besorg. Die Skotse weergawe van ’n kort en koddige James Bondjie wat altyd net buite die grense van my lewe met ’n kierie vorentoe tree wanneer nodig.

Ons was al ’n rukkie in die Dolly-huis voor Pa vir die eerste keer self na die huis kom kyk het. Dit was dekades voor Mr Price Home, en nie een van ons het al sulke reusagtige kunsplante gesien nie. Dus het Adriaanus hulle bly natmaak tot die water oor die wit-en-swart teëlvloer gestroom het. Dié plek was vir ons aanvanklik ’n bron van verwondering. Daar was meer spieëls as waarna ’n gesonde mens wou kyk en dié teen die plafonne was net vir die mans opwindend.

Al die beddegoed was van swart sy. As jy nie uit jou bed gly nie, sit die lakens aan enige skurwe hakskeen vas en trek jy alles af wanneer jy opstaan. Bo-oor die spieëls in die gang en sitkamer was swart sebrastrepe, terwyl van die mure goudgeel was. Die sitkamerstel het ons aanvanklik stomgeslaan. Daar was ’n rooi-en-groen beblaarde bank met ’n ontwerp van rissies en koolkoppe. Ook deursigtige plastiekstoele en gestoffeerde rooi hoërugstoele.

Pa was nog in die bespieëlde ingangsportaal toe hy al in sy spore vastrap: “Wat gat hier aan?” Met duidelike ongemak het hy opgekyk na sy eie beeld wat van verskillende hoeke af na hom aankom.

Almal het gewag om Pa se reaksie op die cowboy te sien. Die byna lewensgrootte cowboy was ’n swart standbeeld van ’n ruiter met hoed en lasso op ’n perd wat op sy agterpote staan. Pa het die beeld soos ’n opgewonde skoolseun bewonder en so hittete of dit is gelaai. Ek kon dit sien aan die vinnige beweging van sy oë wat meet of die standbeeld in die gang af en in sy Mercedes sou pas.

Die bewondering het nie lank gehou nie. “Nee, magtig!” het Pa gegril toe hy aan die cowboy raak.

“Dis plastiek wat met velvet oorgetrek is, Boss,” het Adriaanus opgewonde uitgebars soos ’n man wat geheimenisse ontrafel. “My strikdas vir die matriekafskeid in Vanderbijl was ôk velvet. Ek ken van dié goed.”

Adriaanus het die man-te-perd opgetel om te wys hoe lig dit eintlik is, al lyk dit swaar. “Dít was nou vir jou onverwags.” Pa het net daar op sy hakke omgedraai. Hy was nie geheel en al teen kômmin nie, maar volksvreemde kômmin het hom ongemaklik gestem.

Wanneer Fabula by die Dolly-huis was, mag niemand behalwe ek ook daar tuisgegaan het nie. Veral nie Adriaanus nie, want maak nie saak hoeveel keer Fabula hom gevra of gedreig het nie, as jy weer daar kom, lê die hele plek vol skietgoed en pypskoonmakers.

“And where am I supposed to put all Boss’s research? Vat weg julle toys!”

Fabula is saam met ons na Pa se gradeplegtigheid vir sy doktorsgraad en die geselligheid daarna, waar Pa nie geskroom het om aan haar erkenning vir haar aandeel te gee nie. Ewe vrolik het hy heildronk ná heildronk op haar en húl poging ingestel.

Fabula het tradisionele Lemba-kleure aangehad, met groot bronsringe in haar hare ingeweef. Pa moes spesiaal ’n vrou, oorspronklik van Jamaika af, opspoor wat kans gesien het om volgens Fabula se instruksies dié dag lange taak aan te pak.

Soos ’n lewende kunswerk is sy deur almal bewonder. Selfs Chana het Fabula gekomplimenteer oor hoe ongelooflik sy gelyk het. Ek het Chana nogal bewonder vir die wyse waarop sy skynbaar nie deur Fabula en Pa se intieme verstandhouding bedreig was nie.

Maar dit sê ek nie vir my sus nie.

My suster wil-wil haar verbeel dat sy by was, maar ons kan nie onthou watter jaar dit was nie. Sy krap in die tassie rond om te kyk of daar foto’s van die geleentheid is.

“Got them!” Sy wikkel die pakkie foto’s uit ’n rekkie los. “Nah, I’m not on any of these. Moes voor my tyd gewees het. Jy lyk soos ’n teekoppie.”

Ek vat ’n paar foto’s by haar aan en hou dit oor die stuurwiel vas. Op een staan ek met ’n poniestert bokant my oor langs die Lemba-skoonheid.

Blykbaar was ek maer genoeg vir ’n moulose, gekartelde, goue rok, met ’n Madonna-handskoen sonder vingers aan een hand.

“Genade!” trek ek my gesig. “Sulke dinge het gebeur. Dit was die tagtigs.”

Iewers moet jy net vrede daarmee maak en aanbeweeg, troos Tintin my in die stem van my suster. Ons lag oor hoe verspot my uitrustings destyds was.

“Ek hou van die blou oogskadu soos ’n reënboog bo elke oog. Very endearing.”

Precious Cargo was Pa se kodenaam vir my kleinsus en uiteindelik het almal haar só begin noem. Nieteenstaande hoe ek kleintyd deur enige cowboy en crook kom haal is, was Pa heilig op háár veiligheid. Nadat my suster saam met haar bataljon ontplooi is, kon ek dikwels agterkom hy is diep ingedagte. Aan die een kant kon Pa nie ophou praat van sy jongste dogter se weermagloopbaan nie; terselfdertyd was hy ook stiller en meer teruggetrokke.

Een aand tref ek Pa en Behrouz in die hoofhuis se kombuis aan. Behrouz maak vir hulle toebroodjies, en tussen hulle staan ’n tweeliter-melk wat nou-nou leeg sal wees.

“Hulle beter goed na Precious Cargo kyk of ek keer hierdie plek om.” Pa het ’n melksnor. “Anders stuur ek vir jou en Fred om haar te gaan haal.”

Behrouz vee self met die rugkant van sy hand ’n paar melkdruppels van sy swart baard en knik. Die baard het grys strepe bygekry sedert hy kort-kort by Pa in Amerika inval. Eens het Behrouz karaktervolle Oosterse klere gedra, maar deesdae sien ek hom net in sweetpakke waarin sy eens gespierde boudjies al poens trek.

Pa was ’n bende van een. En ’n permanente entourage was nodig om in die bende se behoeftes te voorsien. Hoe Pa se vroue dit met sy ewige posse uitgehou het, begryp ek nie. Wie ook al met Pa getrou het, moes weet sy sou nooit alleen met hom in die huis wees nie.

Nog ’n aand tref ek vir Pa in sy eie sitkamer se kroeg met sy ewige geel skryfblok aan.

“Wat skryf Pa so?”

“Ek is besig. Gaan slaap.”

Hy wou nie deur my gesteur word nie. “Ek probeer uitwerk waar jou suster dalk gestasioneer kan wees.” Hy het op sy onderste lip gebyt. “Ons moet op bystand wees, ingeval …”

Pa het dit gehaat om magteloos te voel. Om iemand vir eens in sy lewe nie te kon opspoor nie.

“Ingeval wat?”

Hy het nie geantwoord nie, net die staanlampie langs hom wat van ’n gegote rewolwer gemaak was, afgeskakel. ’n Ou truuk as hy nie wou hê mens moes emosie op sy gesig sien nie. Of as hy eenvoudig nie verder met jou wou gesels nie. Vir ’n oomblik was ons twee bekende vreemdelinge wat ongemaklik in dieselfde donker vertrek asemgehaal het.

Voor Pa die lamp afgeskakel het, het ek ’n glas op die tafel by hom gemerk. Hy was nie maklik ’n alleendrinker nie. Wel Coke Zero. By die kratte, ja. As Mister Thompson by was, was dit wyn. En met Fred Enjin aan huis het die manne ge-Chivas Regal. Brandy en Coke is net in Pa se kroeg toegelaat as die besoekers Suid-Afrikaanse regeringsamptenare, spioene of eks-spesmagte was. Selfs Adriaanus moes vir hom ’n ander drankie aanleer.

Lank, lank gelede, toe ek nog jonger was en Pa vir my nog goed vertel het, het ek hom gevra hoekom hy nie daarvan hou as mense onder ons dak brandy en Coke drink nie.

“Is dit te kômmin, hè, Pa?”

“Dit is omdat dit my aan mense herinner wat die grootste lafaards is wat ek al ooit ontmoet het. Mense wat nie skroom om iemand in ’n rolstoel te martel nie.”

Knip-knip my oë en ek staan in die donker voor Pa, met ’n weemoedig kaal gevoel, asof my enigste bedekking ’n ongemaklike en harde stortgordyn is.

Ek het Pa genuine jammer gekry omdat hy kon wonder waar sy een dogter haar geografies bevind, terwyl sy ander dogter, reg voor hom, lankal vermis word.

“Dalk het hy nie eens besef hy het jou verloor nie,” sê my suster sag.

Ek skrik. Ek’t nie besef ek het hardop gepraat nie.

Sy draai skuins op haar sitplek: “Ek was die maklike dogter omdat ek minder getraak het, maar jy was die sensitiewe een. En jy was kleintyd groot genoeg om al die drama te onthou, ek nie. Sorrie.” Sy vat aan my arm.

Onwillekeurig verwissel ek my arm se posisie.

“Nou is jy nes Ma! Wat is dit met julle twee wanneer mens aan julle raak?”

’n Bus slapende passasiers, koppe ongemaklik teen die ruite, ry by ons verby. Heimlik is ek bly oor die onderbreking, want intimiteit met familielede maak my ongemaklik.

As kind het ek gereeld met die Mainliner-bus tussen Namibië en Suid-Afrika gery en dikwels in die onderarmwalms van mans gesit wanneer die lugverkoeling op die koffie was. Daai tyd was die drankies op die bus nog gratis, onthou ek.

“Ek was nooit jaloers omdat jy Pa se oogappel was nie,” sê ek ná ’n rukkie. “Dit het my eerder getroos dat daar iemand is met wie Pa opreg kon wees sonder om ’n show op te sit. Daar was ’n band tussen julle wat dalk vir ’n rukkie tussen my en hom bestaan het, maar ná die dag van die egskeiding in die prokureur se kantoor het dit nooit herstel nie. Ma en Pa het vriende gebly, maar ék en Pa het geskei.”

’n Hoesie los ’n spoegdruppel op die stuurwiel, wat ek afvee.

“En dit was net ’n refleks. Ek het nie bewustelik my arm weggetrek nie. Seriaas.”

’n Paar kilometer verder herinner ek my suster aan ’n toneel toe sy so sestien jaar oud was. “Soek maar die foto,” beduie ek. “Dit moet daar êrens wees, want nadat jy beskonke uitgepass het, het ek jou as bewysstuk afgeneem.”

Sy steek haar tong uit. “Not a scene I want to recall.”

Precious Cargo, ek en Pa was een aand alleen aan tafel. Mister Thompson, Behrouz of Adriaanus was dalk ook daar, maar hulle tel nie. Pa se “alleen” het byna altyd van die manskappe ingesluit. Pa se idee van “ander mense” was sy vrou of skoonfamilie.

“Ek het gedink ek’s baie hardcore en gaan Pa onder die tafel in drink,” onthou sy.

Die einde was ’n lang nag in die badkamer en toe sy uiteindelik haar bed haal, het ek haar afgeneem met ’n stuk papier waarop staan: “So lyk hardcore!”

“En dwing Pa my die volgende oggend om self die badkamermatjie te was,” sê my suster en skud haar kop.

Ons het Adriaanus eers ná brunch in die tuin ontdek waar hy tussen die varings gelê en snork het. Niemand het agtergekom hy het nooit sy slaapkamer gehaal nie.

By Klawer se garage klim ons uit om bene te rek. My suster verdwyn kleedkamers toe en ’n ou wat van die Wimpy af kom, kyk haar agterna. Hy glimlag onderlangs en suig hard aan sy strooitjie. My oë volg hom toe hy na die einste droogtehulptrok van netnou loop. Met ons afdraai by Kardoesie het sy trok ons ingehaal. Gaan hy sy seil aspris stadig na sodat hy ’n tweede kykie van Precious Cargo kan kry?

Vreemd dat twee susters wat feitlik daagliks met mekaar in verbinding is, steeds so min van mekaar weet. Ons gesels die meeste dae, maak nie saak op watter kontinente ons ons bevind nie. Dikwels begin ons saans – my tyd – oor iets stry, en hervat ons die argument wanneer ek die volgende oggend wakker word en dit aand is by haar.

Ná sy terug is, staan Precious Cargo langs die Subaru en hou ’n botteltjie water na my toe uit.

Ek beduie na die polka-dot bra straps wat by haar T-hemp uitsteek. “Ek sien jy het vir jou gaan onderklere aantrek. Gaaf. Ek is innig dankbaar.”

My suster gooi haar kop agteroor terwyl sy water drink. Flink lig sy haar top om haar bra vir my te flash. ’n Ent weg verstik die jong trokbestuurder in sy koeldrank.

Sy’s deeglik bewus van haar toeskouer. Laggend gaan Precious Cargo op haar jis voor die kar onder die skadunet sit. ’n Tevrede glimlaggie op haar bakkies.

“Besef jy dat Pa ’n wêreldkaart teen een hele lang muur van die sitkamer in Palm Springs laat bou het om vir almal te kan wys waar sy dogter gestasioneer is?”

“Ek wéét!” kruip my suster agter haar hande weg.

Pa het ’n teëlkunstenaar vir die taak gehuur. Om haar Indiaanse oorsprong te bewys, het sy haarself Two Elk Running genoem en ’n voorpant van gerygde bene, stokkies en kristalle gedra. Pa het voet by stuk gehou sy het regte Hopi-bloed, maar haar hare, met vere ingeryg, was peroksiedblond.

“Ek kan die sproete op haar tiete sien!” Adriaanus het in verwondering die kombuis ingestrompel. “Dis soos kleinvee wat op ’n heuwel wei.”

Ek het aan ’n selderystingel met maaskaas geknibbel. “Dalk is dit bosluise? Met al daai stokkies sal mens nooit weet nie. Jy moet nog net skuim om die mond, dan sê ek Pa moet jou doer agter by die palm in die tuin weens dolheid lat uitvat.”

Die hele tyd dat Two Elk Running met haar muur besig was, het Adriaanus ewe ’n kristal begin dra. Ook ’n ronde borsspeld waarop staan “Ride the Snake”. Dit het nie goed by sy pak gelyk nie.

“Haal af daai blêrrie ding,” het Pa streng gesê. “Hier word nie ge-snake ride nie! Hier word gewerk.”

“Dit verwys na The Doors, Pa. Ken Pa nie hul musiek nie? Ek moet bietjie vir Pa ‘Riders of the storm’ speel.”

Fabula het ’n geluidjie gemaak wat my laat dink het die vrou het dalk gelag, maar sy het gou weggedraai. Die verliefde Adriaanus het die borsspeld in ’n gekleurde servet toegedraai en plegtig aan die kunstenaar gaan oorhandig.

Daarna het Pa daagliks ’n rede gesoek om Adriaanus met een van die karre uit te stuur sodat die vrou met die halfkaal bolyf gewerk kon kry. “Gaan kry net vir Adriaanus weg daar by die herkouende bokooie!” sou hy skel.

Die wêreldkaart is in bruin teëltjies uitgelê, driedimensioneel met donkerblou-en-wit geglasuurde oseane. Pa se vrou was nie beïndruk deur die gewerskaf op haar dik sjampanjekleurige tapyt nie, maar uiteindelik was ons almal in verwondering. Die talentvolle Two Elk Running het, in opdrag, die plekke waar Pa al oral gewoon het, in reliëf laat uitstaan en gaatjies in die teëltjies geboor waaragter liggies gemonteer is.

Saans het ek en Pa dikwels by Adriaanus gaan sit en die liggies aan- en afgeskakel soos kinders by ’n Kersboom.

“Cardiff,” sou Pa dan vir Adriaanus met die afstandbeheerder sê. “Wat van Luxemburg? Adelaide?”

“Ek sien nie ’n vrou hierop nie, Boss?”

“Australië! Dis ’n stad in Australië!”

“Good night, everyone. I will leave you kids to it then,” het Chana goedig maar betekenisvol gesê.

“Die witkopkunstenaar het ’n veertjie op die eerste lit van elk van haar vingers getatoeëer gehad,” vertel ek my suster. “Jy kan bly wees Pa het joune nooit gesien nie, want hy sou jou beslis vir ’n veloorplanting gestuur het.”

Precious Cargo het ’n liederlike tatoeëermerk oor haar hele boarm. Elke keer wanneer ek daarvan bewus raak, voel ek om haar ’n skuinsklap te gee. Ons hang steeds buite die kar rond by die One Stop voor ons weer padvat.

“’n Tatoe is soos om jou eie stam te stig. Volgens jou ontwerp. Jy en jou lyf is gemerk deur waarin jy glo. ’n Baie menslike behoefte. Hoe jy lyk, ís jou meesterstatus. Dis hoe ander jou lees en in ’n millisekonde opsom.”

“Sal ek dit nou nie weet nie? Ja, soos vet. As jy dik is, is dit die eienskap van jou wat alles oorskadu. Mense se blik som jou lyf se proporsies en hoeveel jy weeg op nog voor hul brein enigiets anders van jou registreer. Van vet kan jy nog ontslae raak, maar met ’n tatoeëermerk sit jy opgeskeep. Sê nou maar jy glo oor twintig jaar iets anders?”

Precious Cargo sug. “Jy ooranaliseer als. G’n wonder jy sukkel met die gewone lewe nie, want jy delf en ontleed als op drieduisend maniere. Raak jy nie moeg nie? Ek gaan nie my tyd mors op moontlike kommer of spyt oor twintig jaar nie. Nou is ek hier. En ek laaik my tatoe, of jy en Ma daarvan hou of nie.”

“Lyk my jy het ’n bewonderaar.” Ek wys met my oë.

My suster en die jong man glimlag vir mekaar.

“My sister and I are doing a road trip,” waai Precious Cargo vir die boer.

Hy lig ’n blikkie Coke asof hy cheers sê. Ek sien nou eers hulle is twee. Die ander man het ’n baard soos ZZ Top met ’n pet en sonbril op. Hy help sy vriend om die toue na te gaan voordat hulle inklim en vertrek. My sus kom orent en stof haar sitvlak af.

Op die grootpad gaan ons die trok weer spoedig verby. Hulle het Rosh Pinah-nommerplate op. My suster blaas vir die jong man ’n soen en hy hang aan sy toeter. Die baardman langs hom skud net sy kop en lag.

Verby Garies begin ek gaap. Die son blink op die teer. Ons praat nou nonsens net om my wakker te hou. Ek trek af om bietjie te strek. Dit is byna skemer en my suster haal haar sonbril van haar kop af, maak die kattebak oop en soek deur haar bagasie langs die kluis vir iets warmers om aan te trek.

“Ek weet jy wil my vra,” sê ek weer bo-oor die Subaru se dak.

“Oor hoe jy lyk?”

Ek leun teen die kar.

“Jy’s verkeerd, hoor. Die heelal wentel nie rondom hoeveel jy weeg nie. Glo my. Ek’t ander vrae. Oor Pa. En Ma. Hoe sake inmekaar pas. Jy’s moerse selfbehep as jy dink almal stel belang in hoekom jy in jou eie lyf wegkruip.” Sy sê dit sonder beskuldiging.

Ek glimlag. Ernstiger: “Daar’s baie vrae wat ek jóú wil vra, maar ek weet nie of ek gereed is vir ’n waarheid wat anders is as waarvan ek myself oortuig het nie.”

Precious Cargo klim by die bestuurskant in. “I’m driving for a while. You take a nap.” Sy stel die sitplek vorentoe al is ons basies ewe lank.

Die skemering se sagte kleure sus my onmiddellik. Voor ek haar vir oulaas herinner aan watter kant van die pad sy moet ry, vroetel my suster met haar Amerikaanse megaftertjie waarop sy ook musiek gebring het.

“They tried to make me go to rehab, but I said no, no, no!” slur Amy Winehouse wat altyd klink of sy met ’n bottel in die hand sing.

“Jy’s aspris, nè?” Ek sit ’n kussing tussen my en die ruit.

Al is my oë toe, raak ek nie dadelik aan die slaap nie. Het ’n storie altyd ’n duidelike begin, lê ek en wonder. Myne is plek-plek so geblur, ek kan nie meer die skerwe reg aanmekaarlas nie. Dit het ek eintlik al in standerd vyf besluit. Dit was die jaar wat ek ophou praat het. Want, het ek besef, woorde is soms ook leeg. Wat help dit grootmense praat, maar daar is geen binnegoed om te anker wat hulle sê nie?

Toe die musiek ophou, kom ek uit my sluimering. My suster het van die pad getrek en draai haar venster af. “Listen!”

“Plattelandse stilte?”

“No, something like a flat tyre.”

Ek kreun, maak my veiligheidsgordel los en ons klim weer uit.

“Ek sien niks fout nie?”

“I definitely heard something.”

By die agterwiel ontdek ek tot my verligting dat die modderskerm losgeraak het. “Dis wat jy gehoor het. Dit het al voorheen gebeur. Dankie tog ons hoef nie nou ’n wiel om te ruil nie.”

Die uiltjieknip het my goed gedoen. Ek’s reg om verder te bestuur én om met my verhaal aan te gaan.

“Waar was ek?”

“Daai jaar op laerskool toe jy heeltemal opgehou het met praat …”

Pa is weg einde standerd twee, en ek het begin wag. Hy’t gesê hy sal bel, maar hy het nie. Hy’t gesê hy sal skryf, maar hy het nie. Oor die jare het ek enkele poskaarte gekry van wie weet waar ook al, byna altyd in die handskrif van een of ander onbekende vrou. Pa het gesê sodra hy kan, sal hy my na hom toe laat kom. Maar hy het nie.

Ek het bly wag.

“Al wat ooit verbygekom het, was fokkol en kontsemaat,” vertel ek vir Precious Cargo, maar dit val plat in die Engelse vertaling. “So, iewers word genoeg net genoeg.”

Dis toe dat ek besluit het ek gaan nie langer in hierdie familie bly nie. “Ek weet presies waar ek gesit het. Dit was op ’n duin agter daardie hoë woonstelle op Bloubergstrand. Weet jy nog waar ons ná hulle egskeiding gewoon het?”

“Blouberg Heights.”

“Ja, Ma wou naby haar suster wees.”

My suster lag toe sy hoor dat ek my eie bende gestig het om teen die bende van woonstelseuns te baklei. In die bende was net ek en my maatjie, Estrellita.

Daar op die duin het ek ’n botteltjie tuisgemaakte gif vasgehou wat ek oral met my saamgedra het. My gif was ’n Grandpa-poeier, Dettol, een gegapste Valium, twee skytpille en fyngemaalde giftige veldtulpe, als saam verpulp. Heel laaste het ek ’n fyn roosblaar heel bygevoeg omdat ’n deel van my jammer was dat ek so haatlik geword het. Mettertyd het die roosblaar byna deurskynend geword.

Ek het lank na die sakkende son deur my botteltjie en die drywende roosblaar gekyk. Dit het my laat dink aan die veldblommetjies wat my ma in haar Bybel saamgepers het.

As ek my pa ooit weer sien, maak ek hom self vrek. Seker nie met die gif nie, want hy sou my uitlag. Die gif is bedoel vir ’n paar ander mense. Dit het my beter laat voel om dit saam met my te dra.

Die atmosfeer in die kar is skielik ernstig en ek voel simpel oor wat ek verklap het.

“Wanneer het jy toe weer van Pa gehoor? Dit moes hektiek gewees het om so te wag. Maar was jy en Ma nie toe al eienaardig wat jul eetgewoontes betref nie? Ek wil my so iets verbeel.”

“Fokkitjaa! Daar was nie ’n dieet wat ons nie slaafs nagevolg het nie. Of dit een was wat Ma self opgemaak of uit ’n oorsese boek gekry het, ons het dit gedoen. Die een met die grondboontjies was die ergste …”

“Jy eet dan nie grondboontjies nie?”

“Presies. Ek en Ma het ’n week lank nét grondboontjies geëet en niks anders nie. Ma het gesê as ek daarby hou, vat sy my om my hare te laat knip by ’n regte haarkapper en kan ons daarna in ’n duur restaurant gaan eet. Ná Pa weg is, het ons nooit meer uitgeëet nie. En ek het by die grondbone gehou, hoor. As ek vandag nog gemengde neute sien, krul my tone binne-in my skoene om.”

My suster lag. “Het dit darem resultate gelewer?”

“Seker. Van te naar wees om verder te eet en in ’n dwaal wakker word nadat jy die nag in jou eie dampe geslaap het.”

Die gepraat oor kos maak ons knibbelrig, en my suster draai op haar knieë om om ’n sak eetgoed van die agterste sitplek vorentoe te bring. “Hummus en mini-ryskoekies,” sê sy.

Skielik mis ek my ouma Liedjie se padkos. Is daar enigiets lekkerder as toebroodjies in die ry?

“Daai tyd het ek gedink as ek net maer en mooi genoeg word, sou Pa my dalk toelaat om by hom oorsee te kom woon. Of selfs beter, ek sou ’n ouer man as kêrel kry en wegloop sodat Pa my moes kom soek.”

“Dis waar jou ding vir ouer mans vandaan kom,” wys my suster ’n vinger na my toe. Sy skeur die pak ryskoekies oop en praat met ’n koekie op haar tong soos ’n nagmaalwafeltjie.

“Seriously, jy was so ’n Lolita! Ek hoop nie ou ooms trek jou steeds aan nie, want dan sal jy by die ouetehuis moet kuier. En die enigste manier om daar aksie te kry is om op jou hande te staan en dit maar te laat inhang.”

“Nee!” swaai ek gemaak geskok ’n hou na haar kant toe. “Siesa! Jy weet ek is baie visueel.”

Precious Cargo stik amper soos sy proesend kammakoes.

“Van my vroegste herinneringe is van jou wat altyd iewers gesit en skribbel het. Eintlik van jou en Pa saam. Albei op sulke geel skryfblokke.”

“Watse?”

“Ja, en dan sou jy jou storietjies of wat ook al vir hom voorlees. Hy het altyd gespog oor hoe jy eendag hierdie internasionale best seller gaan word.”

Binne my kop voel ek my lobbe hard teen mekaar skuur soos hulle van my ore af wegtrek omdat ek nie kan glo wat ek hoor nie. Was Pa trots op mý?

Vir ’n ruk ry ons in stilte. Aan weerskante lê die dorre landskap vreedsaam. Ons het ’n tweede asem.

“Pa het nie altyd sin gemaak nie. Aan die een kant het Pa my konstant gedruk om méér te leer,” vertel ek. “Harder te studeer. Meer boeke te lees, meer sinne in ander tale te bemeester. Tog het dit gelyk of skoolbywoning nie juis vir ons ouers ’n prioriteit was nie. Pa se skoolkwartaal en dié van die onderwysdepartement het weinig ooreengestem.”

Sou ek huilerig wees omdat ek nie ’n A-plus vir al my vakke gekry het nie, of wanneer ek nie teenwoordig was om my rapport te ontvang nie, het Pa my getroos. “Ék,” druk hy dan op sy bors, “sal besluit of jy deur is of nie.” Dan vra Pa my vrae oor dinge wat hy weet ek ken, en knik sy kop asof beïndruk deur my antwoord.

“Gebruik altyd eerste jou eie verstand,” het Pa gesê en teen sy slape getik.

Hy het aangehou ek moet leer Engels praat. “Jy gaan dit nodig kry. Moet net nooit geïndoktrineer raak nie.” En hy was ontsteld omdat Suid-Afrikaanse skole kinders nie geleer het om wapens te hanteer nie. Oor en oor moes ek hoor hoe Russiese kinders in rekordtyd gewere aanmekaar kon sit en weer uitmekaarhaal. “Met my eie oë gesien. Meisies jonger as jy!”

“Iemand soos jy, my liewe seesta, sou nooit as te nimmer in die weermag reggekom het nie,” sê my suster nadenkend. “En ek bedoel dit nie sleg nie. Jy het net hierdie Lone Rider-ding van Pa in jou, terwyl ek veiliger voel juis wanneer daar iemand anders is wat die besluite neem en bevele gee. Dis waar ons verskil.”

Selfs in die donker sien ek Pa se donkerblou oë as my sussie na my kyk.

“Dis nie waar nie. Ek wéns iemand anders wil ’n slag oorneem. Jy weet tog ek val altyd vir mans wat juis nié volgelinge is nie.”

Sy dink bietjie na, haar kop effens skuins. “Miskien is mans die uitsondering, maar kan jy instruksies op ’n kartonboks lees oor hoe om iets gaar te maak, huh?”

Ek byt my lip.

“Jy is so vry grootgemaak, jy ervaar selfs ’n resep as voorskriftelik.”

O ja-a. Ek gee ’n laggie. “Resepte stem my agterdogtig. Hoekom soveel suiker? Vir wat gebruik hulle suiwel?”

Ook Pa het mense en alles om hom met suspisie bejeën.

Ek vertel vir Precious Cargo van toe Pa nog tyd gehad het om boeke te lees. Hoe hy op pad skool toe ’n boek oor die stuurwiel sou lees. Menige keer het ons oor ’n spoedwal gevlie dat die voorste wiele in die lug hang.

“Pa’s nie nou op ’n perd nie!” sou ek ergerlik vasklou.

Maar as Pa eers verlore was in een van sy slapbandboekies oor Louis L’Amour se cowboys, was hy in ’n alternatiewe werklikheid. Daar was ’n kruiwa vol boeke in die garage wat Ma al uitgegooi het en wat ons by die boekhandel vir Tintins kon gaan omruil, maar die stapels leesgoed langs Pa se kant van die bed het net aanhou groei. Dit was ook Pa wat my die Swart luiperd-reeks leer lees het. Sodra ’n nuwe een uitkom, het ons gestry oor wie dit eerste kan lees. “Meestal het Pa gewen, want hy het soveel vinniger as ek gelees.”

My suster frons. “As ek so na jou luister, klink dit soms vir my of Pa en Ma nog self sulke kinders was.”

“Ma het matriek op sewentien klaargemaak en my voor haar twintigste verjaarsdag gehad.”

Precious Cargo gee ’n fluit. “Flippit.”

Ek was vyftien toe Pa uiteindelik vir my ’n vliegtuigkaartjie stuur. Hy was weer getroud. Dit was in die tyd wat Pa Amerika toe getrek het, nadat hy eers lank in Europa was. Dit het my min geskeel. Ek het toe lankal nie meer geworrie om hom te sien nie. Teen daardie tyd was Pa nie meer al een wat kon lieg en voorgee nie.

Ek het my eie agenda gehad oor hoekom ek oorsee wou gaan.

Ek wou weg van Ma sodat sy my nie meer kon keer nie. Ek wou myself uitwis, kilogram vir kilogram. Ek sou self my delete-knoppie druk. En dan sou wat klaar is, regtig klaar wees.

“Ek dink nou nogal dis Pa se weggaan wat my aanvanklik laat skryf het.”

Fronsend luister my suster na my.

“Terwyl my klasmaats love letters gekrabbel het, het ek snags briewe op ons balkon by Blouberghoogte gelos. Eers vir Pa omdat ons nooit ’n adres van hom gehad het nie. En later vir iemand wie se naam ek nie meer kon onthou nie, maar wat ek vas geglo het eendag weer my man sou word. Ek was heilig oortuig hy was van die konstellasie Ara.”

Precious Cargo laat haar mond oordrewe oophang en gaap my aan. “Jy is wragtig something else – daar was iets in die brak water toe jy grootgeword het, sowaar!”

Sy stamp aan my. “Vertel. Ek wag in spanning.” My suster trek haar veiligheidsgordel oor haar kop sodat sy nóg meer na my toe kan draai. “Waar kom jy aan al die vreemde goed, huh?”

Laat ek net iets oor die Onbekende Man noem en my suster is intens geïnteresseerd. “Jy ken die storie. Hoekom vertel jý nie ’n slag van jou lewe nie? Soos wie die eerste een was wat jy met jou lyf vertrou het. Ek’s darem jou suster.”

“Nah, we will circle back to that one wanneer die tyd reg is,” ontglip sy al weer enige persoonlike vrae. “Ons praat nou eers oor die Onbekende Man.” Sy rek dié woorde fluisterig uit soos in ’n radiodrama.

As klein dogtertjie was ek oortuig dat ek reeds getroud was met ’n man met wie ek herenig sou word. Dit is ’n oortuiging waarmee ek so te sê gebore is. “Volgens ouma Liedjie was ek nog baie klein toe ek haar gevra het om asseblief die een gastekamer reg te hou.”

“Vir jou man?”

“Jip,” blaas ek lug uit.

“Crazy! En toe?”

“Ek onthou niks verder nie,” trek ek my skouers op. “Dit moes vervaag het voor ek skool toe is. Ara bestaan wel regtig.”

Precious Cargo vroetel met haar foon. “Wragtig! Dis een van 88 sterrestelsels wat Ptolemaeus in die tweede eeu reeds beskryf het.”

“Ek wéét. Dit beteken ‘altaar’.”

Die storie dat ek getroud die lewe ingekom het, laat my van voor af ongemaklik voel. Asof ek iets vermis. Snags raak ek dikwels bewus van verlange. Wat ek nie vir my suster sê nie, is dat ek onlangs weer wakker geskrik het met die duidelike wete dat ’n man na my geroep het. Die klanke het steeds oral om my in die kamer gehang. Een van die redes hoekom ek later as skoolkind aantekeninge in dagboeke gemaak het, was om my vlietende kopprentjies te probeer onthou. Ek wou hóm nie vergeet nie, maar ek het.

“Het jy nie ook voet by stuk gehou dat jou man koorsig is en dat ouma Liedjie hom sou moes dokter as hy opdaag nie?”

“O, ja! Flippit, jy onthou die storie beter as ek.”

Ek verstel my sitplek om regopper te sit.

“Vir hierdie leerskool ervaar ons onsself tot tyd en wyl as deel van ’n groepering biologiese wesens vol hormone wat hoofsaaklik sensories lewe.”

My suster sak terug in haar sitplek. “Uh?” Sy weet hier kom een van my tirades en laat haar ruit ’n oomblik lank sak sodat koel wind die kar binnestroom. “I really need some fresh air.”

“Ons wil kitskos eet, mekaar beklouter, of almal en als uitwis wat ons moontlik aan ons hemelse herkoms herinner. Ons draai alles om. Wat sleg is, word goed. Dié wat dom, slinks en gierig is, sal die slapende dwales as leiers kies. Hoeveel jy weeg en wat die kleur van jou vel blyk te wees, dit-is-jy. Hoe faktap is dit, hè? Doosheid,” beklemtoon ek, “en afwykende gedrag word beloon en wysheid is ketter.”

Ek leun oor die stuurwiel en kyk op na ’n spatsel van die melkweg wat oor die Subaru se dak boog. “Ons gesamentlike gierigheid is so erg dat, indien ’n UFO dit ooit sou waag om hier te land, die kanse goed is dat ons net daar sal omdraai en hulle blameer vir al ons ellende en heel moontlik ’n eis teen hul planeet instel. Of hulle met tyres aan die brand steek of in hokke aanhou en met twee dag oue samoesas dik voer. Ons is waansinnig in ons strewe na mag en beheer oor ander en so lank al aan boosheid oorgegee dat naasteliefde godslasterlik klink. Vrede is nie ekonomies lonend nie en daarom stel ons nie daarin belang nie.”

Precious Cargo gee ’n slaperige kreun en het lankal in haar eie sonnestelsel weggedryf. Geen wonder sy het nie gekla dat ek kilometers terug al vergeet het om Engels te praat nie.

“Springbok,” vat ek liggies aan haar. “ Ons slaap vannag hier.”

Die man kom orent in sy kajuitbed, dankbaar die dae van goedkoop vlugte is verby. Vir luuksheid, nes eenvoud, maak hy nie meer verskoning nie. Gelukkig het genoeg blootstelling hom van die Afrikaanse neiging tot skuldgevoelens verlos.

“U stort is nou gereed,” kom bied die lugwaardin hom ’n sagte koningsblou-en-silwer japon met insteekpantoffels aan. Die pantoffels is natuurlik weer te klein.

“Ek vra om verskoning dat u moes wag.” Die lugwaardin staan reg om te kom opruim. Sy beduie met die geringste beweging van haar oë na die groter kajuite met en-suite sitkamers, skuins oor sy eie. “Van ons passasiers het besondere behoeftes,” fluister sy betekenisvol, “én voorskrifte.”

Hy glimlag en knik woordeloos. Hy het reeds die hoogswanger Angelina en Brad op ’n kommersiële vlug na Windhoek opgemerk.

Die heelal op my tong

Подняться наверх