Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 88

Оглавление

WOENSDAG 20 MAART 2013

Lees eers Matteus 7:24–8:4

Hoorders en doeners

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het” (Matt 7:24).

GESELSVRAAG: Watter preek het al jou lewe verander? Hoe?

“Nee, man, dominee bedoel dit nie so letterlik nie,” was glo die kommentaar van die ander eende in Kierkegaard se verhaal. Hy het vertel van die wilde eend wat as leraar by ’n klomp mak eende kom nesskop het. Hy wou hulle toe oortuig dat hulle bedoel was om te vlieg, nie te waggel nie. Een eendjie het dit ernstig opgeneem en begin verslank, want daardie logge liggaam sal nooit kon vlieg nie. Vandaar die kommentaar van die ander. Is dit nie tipies van die meeste kerkgangers nie? Verwag ons dat die Here ons Sondag sal verander?

Die Here Jesus het in sy bergpreek ’n hele klomp radikale dinge kwytgeraak. Het Hy dit letterlik bedoel? Is dit alles sommer net woorde wat nie so letterlik opgeneem moet word nie? Hy het nogal op baie tone getrap – ons s’n ook! Kan ’n mens werklik so leef soos Hy in hierdie Skrifgedeeltes voorskryf? Darem seker nie. Vandaar sy waarskuwing aan die einde. As ons net daarna luister en nie doen wat Hy sê nie, gaan ons lewenshuis omval. Eina!

“Dankie dominee, dit was ’n mooi preek,” is dikwels ons kommentaar ná die diens. Maar as die Woord ons nie verander en versterk nie, dan was dit tevergeefs. Kom ons luister elke dag mooi na wat die Here vir ons wil sê – en doen dit dan!

GEBED: “Here, maak my ’n doener van u Woord.”

Lees vanaand in Matteus 8:5–17 hoe Jesus ’n soldaat se geloof beloon en Jesaja se profesie vervul het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх