Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 89

Оглавление

DONDERDAG 21 MAART 2013

Lees eers Matteus 8:18–27

Menseregtedag

Regte mense

“Meneer, ek sal u volg waar u ook al gaan” (Matt 8:19).

GESELSVRAAG: Wanneer moet ’n mens jou regte prysgee?

“Ons staan vir jou regte,” belowe een van die politieke partye in die verkiesing. Elke mens het tog regte wat in die grondwet verskans is. Jy het reg daarop. Maar as jy vir Jesus wil volg, vra Hy jou dalk om van al jou regte afstand te doen, soos Hy gedoen het. Sal jy Hom dan nog volg?

Jesus kon bly wees dat ’n skrifgeleerde, een van sy vyande, aankondig dat hy Hom voluit wil volg. So iemand sou tog baie meer beteken as twaalf vissers. Sy woorde klink na algehele toewyding. Maar Jesus ken elke mens se hart. Hy het geweet hoe om hierdie man te antwoord. Hy wys daarop dat Hy Self al sy menseregte prysgegee het. Jakkalse het gate en voëls neste, maar Hy het nie eens ’n huis of ’n bed gehad nie. Hy was gewillig om soos die armste van die armes in die veld te slaap. Hy het baie kilometers met sy twee voete geloop. Hy het werklik omgegee vir mense wat niks het nie. Enigeen van hulle kon na Hom toe kom, want Hy was soos een van hulle. Dit is maklik om beloftes te maak as dit moontlik tot jou voordeel kan strek, maar Jesus se pad is dikwels die moeilikste van almal. Is jy werklik gewillig daartoe? Sal jy met vreugde in ’n plakkerskamp gaan woon? Elke dag met ’n taxi of derdeklastreinwa werk toe gaan? Elke dag in lewensgevaar verkeer? Kan jy werklik hierdie skrifgeleerde se woorde nasê en dit bedoel? Dan kan jy maar kom …

GEBED: “Here, maak my gewillig om U voluit te vertrou.”

Lees vanaand in Matteus 8:28–34 hoe twee duiwelbesetenes verlos is en waarom Jesus nie langer daar welkom was nie.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх