Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 90

Оглавление

VRYDAG 22 MAART 2013

Lees eers Matteus 9:1–8

Vir wie dra jy?

“Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe’” (Matt 9:2).

GESELSVRAAG: Wie het vandag ons voorbidding nodig?

“Dit is oor jou ongeloof dat jy nie genees word nie,” is die liefdelose opmerking van sommige goedbedoelende gelowiges. Hulle laai die las van ongeloof nog boonop op die sieke. Alles hang van die sieke af. Genesing is ’n doen-dit-self projek, soos hulle dit sien. En as iemand nie gesond word nie, is dit sý skuld, nie dié van die selfaangestelde geloofsgeneser nie.

Die Bybel praat anders. Daar is wel geleenthede dat die sieke se geloof ’n rol gespeel het, maar gewoonlik is dit die genade van die Here wat alles gedoen het. En soms sê die Here “nee”, soos in Paulus se geval (2 Kor 12:9). Almal word nie genees nie. Soms gebruik die Here beproewing om sy kinders nader aan Hom te trek.

Dit tref ons egter in vandag se geskiedenis dat Jesus die geloof van die vier vriende raakgesien het. Hy het ook geweet dat die grootste behoefte van hierdie sieke nie genesing was nie, maar vergifnis. Hy begin dus by die eintlike probleem: sonde. En dan bewys Hy dat Hy die gesag het om sondes te vergewe deur die verlamde man sommer so terloops ook te genees. Vir wie bid jy? Glo jy dat die Here hom of haar gaan aanraak en verander? Christus sien jou geloof raak. Vertrou op Hom. Hy hoor jou gebed.

GEBED: “Here Jesus, maak my getrou in my voorbidding vir ander.”

Lees vanaand in Matteus 9:9–17 hoekom ons nie net met ons eie klein groepie te doen moet hê nie. Ander het Jesus ook nodig.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх