Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 91

Оглавление

SATERDAG 23 MAART 2013

Lees eers Matteus 9:18–26

Die krag van geloof

“Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered” (Matt 9:22).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons ons geloof versterk?

“As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon,” lees ons in Hebreërs 11:6. Waar kry ons hierdie soort geloof wat werklik ’n verskil maak in ons lewe? Kan ons dit self oppomp? Is dit ’n soort van hoop-vir-die-beste?

Matteus is nog steeds besig om ons te vertel hoe geloof dinge kan verander. Ons lees van hierdie arm vrou wat al haar geld op dokters uitgegee het en tog nie gehelp is nie. Sy het alles verloor. Haar saak was hopeloos. En toe hoor sy van Jesus. Sy het gehoor dat Hy ander mense genees het. Miskien ... Weens haar siekte is sy as onrein beskou. Sy mag nie met ander mense gemeng het nie. Sy mag nie tempel toe gegaan het nie. Sy mag dus nie deel van hierdie skare om Jesus gewees het nie. Sy mag nie met Hom gepraat het nie. As sy nou maar net die soom van sy klere kon aanraak, kon dit dalk help. Indien dit sou werk, kon sy weer tussen die skare verdwyn het. En sou dit nie werk nie, sou niemand weet van haar waagstuk nie. Maar Jesus het geweet. Hy wou haar help. Almal moes weet dat sy nou genees is. En sy moes weet dat haar vertroue op Hom, nie op sy klere nie, die verskil gemaak het. Soek jy dus ’n sterk geloof? Leer Hom net ken. Hy openbaar Homself in die Woord van God. Dan sal jy weet dat jy Hom kan vertrou.

GEBED: “Here, gee my al die geloof wat ek vandag nodig sal hê.”

Lees vanaand in Matteus 9:27–34 meer oor die krag van geloof en hoe ongelowiges dit probeer afmaak.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх