Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 87

Оглавление

DINSDAG 19 MAART 2013

Lees eers Matteus 7:1–12

Hoeveel te meer

“As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matt 7:11).

GESELSVRAAG: Watter goeie dinge kan ons van ons Vader verwag?

“Die meeste mense bid net genoeg om hul gewetens te stil, maar nie genoeg om enige verskil te maak nie.” As jy die lewensverhale van gebedstryders lees, dan besef jy baie gou dat ons vandag maar min weet van wat dit beteken om “deur te bid”. Gebed was vir hulle ’n werklike werk, ’n stryd. Hulle moes volhard tot die antwoord kom (Luk 18:1). Gebed is die krag agter elke herlewing en elke suksesvolle uitreik. Ure, selfs nagte van gebed, lewer resultate. God het nie oortuiging nodig nie; Hy gee ons graag alles wat goed is, maar ons moet verander.

Jesus is hier besig om baie belangrike beginsels aan sy dissipels te leer. Hy leer hulle dat dit nodig is om te bid (om in die besonder te vra). Ons moet soek na God se wil in hierdie saak tot ons weet wat dit is, dan kan ons met geloof bid. Ons moet klop tot die Here vir ons oopmaak. Dit beteken ook dat ons onsself moet ondersoek sodat ons die sonde wat skeiding maak, kan bely en uit die pad kan kry.

Gebed verander ons ook. Dit maak dat ons anders teenoor ander mense optree. Ons behandel ander mense met liefde en respek, want dit is wat ons self verlang (v 12). Gebed is iets wat ons gereeld moet oefen, tot ons dit regkry om te bid soos die Here dit wil.

GEBED: “Here, leer my bid, nie net hoe om te bid nie.”

Lees vanaand in Matteus 7:13–23 oor die groot verskil tussen dié wat gered word en dié wat verlore gaan.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх