Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 84

Оглавление

SATERDAG 16 MAART 2013

Lees eers Matteus 5:33–48

Radikaal anders

“Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg” (Matt 5:44).

GESELSVRAAG: In watter opsigte is Christene anders as ander mense?

“God het jou lief en ek ook,” verklaar ’n Christen teenoor die soldaat wat hom martel om sy geloof af te sweer. Hierdie onverwagte woord het uiteindelik tot daardie offisier se bekering gelei.

Min van ons sal dit seker regkry om so iets te sê en dit te bedoel. Bid jy vir daardie baas wat onregverdig optree? Of vir daardie kollega wat jou so uitbuit? Of vir daardie boelie by die skool wat jou elke dag wil seermaak?

Jesus vertel in vandag se gedeelte dat ons nie slagoffers moet bly nie. Neem die inisiatief oor. As iemand jou een myl laat loop, loop dan twee. As iemand jou onregverdig hof toe neem, skik maar liewers, al is hy verkeerd. Moenie wraak neem nie. Vra jouself af: Wat sou Jesus in my plek gedoen het? Hoe kan ek God se liefde aan hierdie persoon bewys? Hoe kan ek daardie bedelaar regtig help?

Dit is nie maklik om anders te wees nie. Ons wil so graag aan groepsdruk toegee en maak soos ander maak. Ons wil lyk soos ander lyk. Ons wil klink soos ander klink. Maar hoe kan ons dan ’n verskil maak? Hierdie wêreld kan net beter word as ons radikaal anders optree. In die sakewêreld moet ons bekend staan vir ons eerlikheid, al is dit tot ons eie nadeel. Ons huweliksverhouding moet ’n voorbeeld wees. Ons gesin moet vir mekaar omgee. Hoe kan ons dus verander?

GEBED: “Here, U maak ons radikaal anders. Verander my ook sodat ek selfs my vyande kan liefhê.”

Lees vanaand in Matteus 6:1–8 waarom ons nie na die eer van mense moet soek nie. Hoe moet ons dan maak?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх