Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 77

Оглавление

SATERDAG 9 MAART 2013

Lees eers Matteus 1:1–17

Die profesieë word vervul

GESELSVRAAG: Waar kom ons familie oorspronklik vandaan?

“Dit was interessant om te ontdek dat ons voorvader, Adriaan, in 1620 in die dorp Wijk by Duurstede gebore is. Daarom het hy die ‘van Wijk’ agteraan sy naam gelas toe hy na Amsterdam verhuis het.” (Die meeste Hollanders is eers amper twee eeue later deur Napoleon verplig om vanne aan te neem. Hulle wou glo nie, vandaar die sommige interessante vanne wat hul nageslag nog (ver)dra!)

Die geslagsregister wat ons vandag gelees het, is egter baie meer as net iets vir interessantheidshalwe. Matteus wil vir ons bewys dat Jesus die vervulling van die beloftes in die Ou Testament is. Daarom haal hy vir Dawid en Abraham in die opskrif aan. Verder in sy Evangelie haal hy dikwels gedeeltes in die Ou Testament aan “sodat vervul sou word ...”. Hy wil ons help om te verstaan dat Jesus die beloofde Messias is vir wie hulle al soveel eeue gewag het (vgl Hand 3:25).

Jesus het nie toevallig op die toneel verskyn nie. Sy koms was al beplan nog voor die wêreld geskep is, vertel Paulus (Ef 1:4–5). God is nie aan tyd gebonde nie – Hy is buite die tyd en weet alles van die verlede, hede en toekoms. Elke gelowige kan dus weet dat hy of sy deur God uitverkies is om lid van God se familie te wees. Ons Vader is in bevel!

GEBED: “Dankie Hemelvader, dat U alles weet en vooruit beplan het.”

Lees vanaand in Matteus 1:18–25 hoe die geboorte van Jesus aan Josef aangekondig is, en wat hy toe gedoen het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх