Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 85

Оглавление

SONDAG 17 MAART 2013

Lees eers Psalm 90:1–6

God bepaal ons lewensjare

“U laat die mens sterwe: U sê net: ‘Word weer stof!’” (Ps 90:3).

GESELSVRAAG: Wanneer is ons lewenstaak verby?

“Ek glo dat elkeen ’n bepaalde getal take moet afhandel,” sê die strokiesverhaalheld, Calvin, “en ek is al so ver agter dat ek seker vir ewig sal lewe.” Ongelukkig werk dit nie so nie. Ons kan so maklik ons lewe vermors op dinge wat geen ewigheidswaarde het nie. Ons kan die belangrikste besluite uitstel tot dit te laat is.

Ons lees dat hierdie psalm deur Moses gedig is. Hoe dit in Dawid se psalmbundel beland het, word ons nie vertel nie. Dit help ons egter om hierdie psalm te lees met Moses se lewensloop in gedagte. Moses was bewus daarvan dat elke mens se lewe beperk is. Daarom moet ons versigtig wees hoe ons elke kosbare minuut gebruik. Dit kan teen of vir ons tel. Ons moet leer om by God te skuil (v 1) want net God is ewig. Selfs voor die berge gemaak is, was Hy al daar (v 2). God bly in beheer van die skepping. Ook van ons lewens. Hy bepaal hoe lank elke mens se lewe moet wees (Ps 139:16). Wanneer ons dus ’n geliefde aan die dood moet afstaan, is dit vir ons ’n troos dat sy of haar lewe uiteindelik in God se hand was, nie van dié van ’n misdadiger of geweldenaar nie. Wanneer ons liggaam na stof terugkeer, is dit gelukkig nie die einde nie. Dit is die begin van ’n nuwe, wonderliker manier van lewe – ewig by die Here! Dit is iets om na uit te sien. Die dood is maar net die deurgang na die Vaderhuis in die ewigheid.

GEBED: “Hemelvader, ek sien daarna uit om eendag by U te wees.”

Lees vanaand in Psalm 90:7–17 wat ons met ons beperkte lewensdae moet doen.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх