Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 66

Оглавление

DONDERDAG 28 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 43:15–23

Stresvolle tye

“Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie” (Gen 43:23).

GESELSVRAAG: Waaroor is jy tans bekommerd?

“Toets jou geheue. Waaroor het jy jou presies ’n jaar gelede lê en bekommer?” vra Joseph Cossman. Vandag is die môre waaroor jy gister bekommerd was. “’n Bekommernis wat te klein is om oor te bid, is te klein om vir jou ’n las te word,” het Corrie ten Boom geskryf. Iemand anders het aangeraai: “Moenie jou oor jou hart bekommer voor hy opgehou klop het nie.” “Moenie bang wees vir môre nie – God is reeds daar,” het iemand anders gesê.

Maar Josef se broers het genoeg gehad om hulle oor te bekommer. By die huis was die familie besig om van honger dood te gaan. Hulle was nou in ’n vreemde land, met ’n baie aggressiewe regeerder aan wie hulle moes rekenskap gee. Hul een broer was reeds in die tronk en hul geld was weer terug in hul sakke. En nou word hulle na die vreemde heerser se huis geneem. Hulle het die ergste verwag.

“Elke aand gee ek al my bekommernisse aan God oor. Hy gaan in elk geval die hele nag wakker wees,” skryf Mary Crowley. Dale Carnegie het aangeraai: “As jy in die nag nie kan slaap nie, staan dan op en doen iets. Dis die bekommernisse wat jou onderkry, nie die slapeloosheid nie.”

“Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” skryf Petrus in 1 Petrus 5:7. “Werp” beteken om dit daar te los, en nie weer terug te neem nie.

GEBED: “Hemelvader, ek gee vandag my bekommernisse aan U oor.”

Lees vanaand in Genesis 43:24–34 hoe sy broers se besoek vir Josef emosioneel geraak het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх