Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 78

Оглавление

SONDAG 10 MAART 2013

Lees eers Psalm 89:29–38

Die ewige Koning

“Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê, en my woord aan Dawid sal Ek nie verbreek nie: daar sal altyd nakomelinge van hom wees, sodat sy troon so blywend soos die son sal wees” (Ps 89:36–37).

GESELSVRAAG: Hoe sou ons voorberei om ’n koning te ontmoet?

“Het u dalk vir my ’n bietjie water om te drink?” vra die vreemdeling. Koning George het gedurende sy besoek aan ons land besluit om langs die spoor te gaan stap terwyl die wit trein op ’n Karoo-stasie moes wag. Langs die spoor kry hy ’n tannie op ’n stoeltjie en vra haar toe vir water. “Jy kan self daar anderkant in my huis gaan water skep. Ek kan nie nou weggaan nie; die koning se trein kom nou-nou hier verby en ek wil dit nie misloop nie,” was haar antwoord. Sy het glad nie besef sy praat met die koning nie!

Vandag gaan ons ook die Koning ontmoet: die Koning van die konings. Besef ons met wie ons te doen gaan kry? Dit is Hy wat die heelal gemaak het soos dit nou is. Hy het die mens ontwerp en gemaak. Hy wil ons vandag ontmoet om te hoor hoe dit met ons gaan en om ons meer van Homself te vertel. Hy verlang na ’n liefdesverhouding met ons soos tussen ’n pa en sy kind. Hy is die ewige Koning.

Hy wil ons ook toerus en bemoedig vir die week wat voorlê. Hy is nie meer ’n babatjie in ’n krip nie. Hy bestuur die heelal, maar maak tyd vir ons. Gaan ons ook tyd maak vir Hom om met ons te werk en ons te seën?

GEBED: “Here, vandag wil ek U persoonlik ontmoet. Praat met my.”

Lees vanaand in Psalm 89:39–53 hoe die psalmdigter aan God se beloftes vashou, al lyk die omstandighede anders.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх