Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 79

Оглавление

MAANDAG 11 MAART 2013

Lees eers Matteus 2:1–12

Soek die ware Koning

“Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?” (Matt 2:2).

GESELSVRAAG: Waar verwag ’n mens om ’n koning te kry?

“Ek het nog nooit enige bewyse gekry dat God bestaan nie,” sê die Duitse dame op die vliegtuig. “Nou waar het jy na jou bewyse gesoek?” vra die Nigeriese leraar wat langs haar sit. Dit is tog interessant dat die mense wat veronderstel is om te weet, dikwels so onkundig is, terwyl mense van wie jy dit nooit sou verwag nie, jou met hul geloof en toewyding beskaam.

In Jesus se tyd was dit ook so. Die Skrifgeleerdes het alles geweet, maar nie daarvolgens opgetree nie. Die sterrekykers het egter die moeite gedoen om ’n reis van baie maande aan te pak op soek na die koning wat gebore is. Daar is besonder interessante navorsing gedoen na hoe hulle kon weet dat daar ’n koning vir die Jode gebore is (www.bethlehemstar.com). Indien daardie navorsing korrek is, was die ster van Betlehem presies bokant Betlehem op 25 Desember van die jaar 2 vC indien jy in Jerusalem gestaan het. Dit beteken nie dat Jesus op daardie datum gebore is nie, want Hy was toe al minstens ’n jaar oud. Hy was nie meer ’n baba nie. Hulle het in ’n huis gewoon. Volgens die sterrekundiges getuig die sterre dat Hy waarskynlik in September van die jaar 3 vC gebore is.

Vandag hoef ons nie nagte om te sit om die Koning te leer ken nie. Hy openbaar Homself in die Bybel. Hy doen dit ook deur sy Gees in ons hart. “Ek weet Hy leef in my.”

GEBED: “Here Jesus, U is my Koning. Ek aanbid U.”

Lees vanaand in Matteus 2:13–23 hoe die klein Jesus die kindermoord van Herodes vrygespring het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх