Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 74

Оглавление

DONDERDAG 7 MAART 2013

Lees eers Genesis 49:1–13

Die Messias kom!

“Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp” (Gen 49:10).

GESELSVRAAG: Beskryf jou ideale regeerder.

“Ek bid maar dat Christus gou weer sal kom,” sug ’n VGK-leraar toe hy vertel hoe moeilik dit is om die regte leiding te gee. Dit maak nie saak wat hy doen of sê nie – daar is altyd mense wat vol kritiek is. Hy en sy familie is selfs met moord en brandbomme gedreig omdat hulle nie ten gunste van geweld as antwoord was nie. Wat ons land – en die wêreld – nodig het, is ’n liefdevolle, regverdige, alwetende, almagtige regeerder. En dit kan net Jesus Christus wees.

Jakob se oudste drie seuns het hul eersgeboortereg as leiers deur hul optrede verbeur. Jakob gee die leierskap dus aan Juda en sy nageslag. Uiteindelik het Dawid, die koning uit Juda, die land verenig en groot oorwinnings behaal. En die Here het aan hom belowe dat iemand uit sy nageslag altyd op die troon sal wees. Jakob noem Hom eeue vantevore Silo (Rus). Die Jode het Hom as die Messias geken. Jesaja noem Hom die Vredevors (Jes 9:5).

In die laaste boek van die Bybel word Christus “die Leeu uit die stam van Juda” genoem (Op 5:5). Hy het dus hierdie profesie vervul. Hy is die finale regeerder wat tot in ewigheid sal regeer, want Hy is God. Hy is die hoogtepunt van die geskiedenis. Sy koms sal alles tot ’n einde bring en alles weer nuut maak.

GEBED: “Ons het U baie nodig. Kom tog gou, Here Jesus!”

Lees vanaand in Genesis 49:14–33 watter seën Jakob vir elke seun gee, en hoe hy sy finale opdragte gee.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх