Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 71

Оглавление

MAANDAG 4 MAART 2013

Lees eers Genesis 46:1–7

Nooit alleen nie

“Ek gaan saam met jou Egipte toe ...” (Gen 46:4).

GESELSVRAAG: Wanneer het jy die eensaamste gevoel?

“Ek was baie bekommerd toe ons oudste in sy dienspligjare grens toe gestuur is, tot ek besef het dat die Here ook daar is. En Hy kan beter vir ons kinders sorg as wat ons dit kan doen.” Ons God is nie net ’n plaaslike godjie nie. Hy is die Skepper en onderhouer van die heelal. Daar is geen plek in die ondenkbaar groot heelal waar Hy nie is nie.

Jakob was seker ook onrustig toe hy genooi word om na Egipte te versit. Moet hy dan nou die God wat so dikwels met hom gewerk het, agterlaat? Was die offer wat hy gebring het, dalk ’n manier om totsiens te sê? Die Here het toe weer aan hom in ’n visioen verskyn om hom te verseker dat Hy nie agterbly nie. Hy is ook in Egipte. Jakob hoef dus nie bang te wees nie. God sal ook daar vir hom sorg. God sal hom daar ook seën en sy nageslag sou ’n groot nasie word.

Miskien moet jy ook verhuis. Dalk dink julle aan emigreer, of jy word verplaas na ’n ander deel van die land of die wêreld. Onthou, God is ook daar. Jy sal ook daar ander kinders van die Here raakloop. Julle sal mekaar daar ook kan bemoedig. Of as jy na ’n plek moet gaan waar daar geen ander kinders van die Here is nie, moet jy weet dat die Here jou met ’n doel daarheen stuur. Hy is reeds daar besig om harte voor te berei. Hy wil jou gebruik om die goeie nuus van Jesus met iemand anders te deel.

GEBED: “Here, U kan my na enige plek toe stuur. Dankie dat U ook daar is.”

Lees vanaand in Genesis 46:8–34 van die blye ontmoeting tussen vader en seun ná soveel jare van hartseer.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх