Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 72

Оглавление

DINSDAG 5 MAART 2013

Lees eers Genesis 47:1–12

Die wêreld is ons woning nie

“Ek is nou al honderd en dertig jaar ’n vreemdeling hier op aarde” (Gen 47:9).

GESELSVRAAG: Waar is jou ideale woonplek?

“Miskien is ons volgende jaar in Jerusalem,” het die Jode in die Oosblok-lande mekaar getroos toe hulle swaar verdruk was. En vir sommige van hulle het dit waar geword. Hul woonplek was maar net tydelik in Rusland. Hulle kon verhuis. Nadat Totius se dogtertjie voor hom deur die weerlig doodgeslaan is, het hy ook baie met die seer van die dood geworstel. En keer op keer het die refrein gekom: “Die wêreld is ons woning nie.”

Jakob het waarskynlik nog maar min van die lewe ná die dood geweet. Tog het hy soos ’n vreemdeling op aarde gevoel. Hy was maar net ’n trekboer – hy en sy kudde het al agter weiding aan getrek. Nêrens het hy vaste eiendom besit nie, al was hy volgens die standaarde van daardie tyd heel welgesteld. Hy het sy hele lewe as tydelik beskou. Daar wag mos iets beters.

Jesus het ons ook geleer dat ons eintlike huis nog op ons wag: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh 14:2–3). Ons is vreemdelinge hier – dáár is ons ewige woonplek.

GEBED: “Dankie, Here Jesus, dat U vir my ’n plek voorberei.”

Lees vanaand in Genesis 47:13–26 hoe Josef die land tot die farao se voordeel bestuur het sonder om self korrup te word.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх