Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 80

Оглавление

DINSDAG 12 MAART 2013

Lees eers Matteus 3:1–12

Aan die brand

“Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop” (Matt 3:11).

GESELSVRAAG: Wie ken ons wat aan die brand is vir die Here?

“Ek wil liewer uitbrand vir die Here as om op te roes,” antwoord ’n bekende prediker toe hy gemaan word om briek aan te draai.

Johannes was ook so iemand. Hy was vreesloos en het selfs vir die kerkleiers van sy tyd die waarheid vertel. As jy vandag so iets sou waag, sal jy baie gou van liefdeloosheid beskuldig word. Jy sal ook gou teëspoed optel, soos wat met Johannes gebeur het. Sy vreeslose getuienis het uiteindelik sy lewe gekos. Maar baie mense het toe reeds geluister na sy oproep tot bekering.

Johannes was gou om te sê dat hy nie die groot man is nie. Daar was iemand anders, die Messias vir wie hy die pad voorberei, wat alles sou verander. Hy sou nie met water doop nie, maar met die Heilige Gees en met vuur. En toe die Heilige Gees oor die eerste gemeente uitgestort is, was dit sowaar in die vorm van vuurtonge wat op hulle gekom het! Jesus kom om onderskeid te maak tussen die koring en die kaf. Die laaste oordeel sal finaal wees.

Hierdie boodskap is vandag nog nodig. Ons moet hoor van bekering. Die meeste mense is op die verkeerde pad. Ons moet ook hoor van die Heilige Gees wat lewens verander en gelowiges toerus vir diens aan die koninkryk van God. Dit is nodig dat ons aan die brand moet raak vir die Here. Is dit reeds waar van jou lewe?

GEBED: “Here Jesus, werk deur u Gees in my hart sodat ek ook aan die brand vir U kan raak.”

Lees vanaand in Matteus 3:13–17 hoekom Jesus Hom met die doop van bekering laat doop het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх