Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 70

Оглавление

SONDAG 3 MAART 2013

Lees eers Psalm 89:12–18

Eienaarskap

“Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin” (Ps 89:12).

GESELSVRAAG: Watter reg het die Here op ons besittings?

“My plaas is my plaas; my geld is my geld; ek het hard gewerk daarvoor en ek het ryk geword deur dit nie weg te gee nie,” sê ’n ou boer toe die diaken by hom kom kuier. Hy was nie gewillig om enige dankoffer te gee nie. Hy het vergeet dat sy plaas nie eintlik aan hom behoort nie, maar aan die Here. Sy liggaamskrag het hy van die Here gekry. So ook sy vermoë om te beplan. Die reën kom van die Here af. Die suurstof wat hy elke dag inasem om van te lewe, kom van God af. God het beplan dat plante suurstof vir ons moet produseer. Die groeivermoë van elke plant is God se werk. Die oeste is God se seën. Die grond is sy skepping en behoort nog steeds aan Hom.

Ons kan dus verstaan dat dit sy hart seermaak as sy skepsels Hom nie wil erken nie. Hulle wil nie tyd maak om saam te kom om Hom te loof nie. Hulle is doelbewus ongehoorsaam aan sy gebooie wat Hy vir hul eie beswil gegee het. Hulle kies om in sonde te lewe. Hulle maak self hul eie afgode om op sy dag te dien.

Nietemin het die Here Jesus aarde toe gekom om ’n pad oop te maak dat sondaars gered kan word. Hy het kom ly en sterf sodat ons sondes weggeneem kan word. Hy het ons rekening kom betaal. Hoe kan ons anders as om Hom vandag heelhartig te dien?

GEBED: “Ek loof U vir u groot liefde, Here Jesus. Dankie dat U u lewe vir my kom gee het.”

Lees vanaand in Psalm 89:19–28 hoe elke regeerder ook in die hand van die Here is.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх