Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 86

Оглавление

MAANDAG 18 MAART 2013

Lees eers Matteus 6:9–24

Wie is jou baas?

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie ... Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt 6:24).

GESELSVRAAG: Wat het God met ons daaglikse werk te doen?

“Geld kan nie geluk koop nie, maar dit maak jou miserabelheid darem baie meer gerieflik,” het Helen Gurley Brown, ’n Amerikaanse skrywer, opgemerk. En as jy eerlik moet wees, dan het geld ’n baie belangrike deel van ons lewe geword. Die dae toe mense alles wat hulle nodig gehad het self produseer het, is lankal verby. Maar die gevaar is ook dat ons goed ons god word.

Dit is aangrypend dat Jesus by gebed begin en by geld eindig. As jy mooi boekhou, het hy vyf maal meer oor ons besittings gesels as oor dinge soos geloof of gebed. Dit is vir Hom baie belangrik dat ons vry moet wees van aardse bande, sodat ons sy Stem kan hoor. Geld mag nie jou baas word nie. Een manier is om te leer om geld weg te gee – en wonderlik genoeg, dit maak jou bly as jy iemand anders kan help! Só maak jy skatte in die hemel bymekaar, waar dit nie gesteel kan word of skade ly nie. Jesus het mos vir die ryk jong man aanbeveel om sy rykdom weg te gee, sodat hy skatte in die hemel kan hê (Mark 10:21). Dis die beste belegging.

Die werk wat ons hierdie week gaan doen, het dus alles met die koninkryk van God te doen. Ons inkomste moet ons vir Hom bestuur. Ons moet Hom leer vertrou vir alles wat ons nodig het. Mag hierdie week ’n avontuur in jou geloofslewe wees!

GEBED: “Here, leer my om ’n getroue rentmeester te wees.”

Lees vanaand in Matteus 6:25–34 wat die geheim van ware sekuriteit op aarde is. Hoe gaan jy dit doen?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх