Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 83

Оглавление

VRYDAG 15 MAART 2013

Lees eers Matteus 5:13–20

Maak lig daar

“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt 5:16).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons vandag ons lig laat skyn?

“Lig het net waarde as dit in ’n donker plek is.” Dit is nie heeltemal waar nie, want ’n verkeerslig het waarde as die son skyn. So bedoel die Here seker ook dat ons elke dag en elke nag ’n verskil moet maak in ander se lewens. Selfs die kleinste kersie is sterker as die grootste duisternis. Maar hoe donkerder dit is, hoe nodiger is daardie liggie. As dinge maar donker lyk daar by die werk of by die skool, dan is ons juis daar nodig.

Jesus sê ons goeie werke is die lig wat ons voor die mense moet uitdra. Mense hou ons fyn dop om te sien of ons anders as hulle is. As gelowiges struikel, dan is hulle bly, want dan hoef hulle nie skuldig te voel nie. Ons moet hulle laat verstaan dat ons nie een volmaak is nie, maar dat ons op die regte pad is. Ons wil graag groei soos die Here dit wil hê. Ons wil uitreik na mense wat Hom nodig het. Ons wil help waar ons kan.

Dink so ’n bietjie: waar is die “donkerste” plek wat jy ken? Is dit in die politiek? Is jy nie dalk daar nodig nie? Of die armoede in die plakkerskamp? Kan jy dalk een persoon daar help? Of die skoolkinders wat spesiale aandag nodig het? Kan jy hulle dalk met studie help? Of kan jy dalk iemand met ’n kroniese sieke aflos, sodat sy ’n slag kan uitkom? Laat jou liggie skyn!

GEBED: “Laat ons skyn vir Jesus met ’n helder glans!”

Lees vanaand in Matteus 5:21–32 hoe radikaal die Here se kinders anders moet wees.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх