Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 69

Оглавление

SATERDAG 2 MAART 2013

Lees eers Genesis 45:1–13

Die groter plan

“ ... God het my voor julle uit gestuur om lewens te red” (Gen 45:5).

GESELSVRAAG: Wat was jou grootste verrassing?

“Ek het na Suid-Afrika gekom om werk te soek sodat my familie by die huis nie van honger hoef dood te gaan nie,” vertel ’n Zimbabwiër. So vind ons goed gekwalifiseerde mense wat gewillig is om motors vir ’n karige inkomste by die inkopiesentrum op te pas, want dit is nog baie beter as in hul tuisland. Josef het besef dat sy beproewings uiteindelik tot almal se beswil was. God was in beheer.

Die elf broers het hierdie vreeswekkende verskynsel net as Safenat- Paneag geken (Gen 41:45). Hy het soos ’n Egiptenaar gelyk en geklink. Hulle het nie in hul ergste nagmerries gedroom dat hy die gehate boetie was wat hulle 21 jaar vantevore eers wou doodmaak en toe as slaaf verkoop het nie. Geen wonder hulle was doodverskrik nie (Gen 45:3). Maar die slegte nuus het vir hulle goeie nuus geword. Hy wou hulle nie straf nie – hy wou hul lewens red en hulle help! Alles wat gebeur het, was deel van God se plan!

Jesus het sy dissipels ook verras toe Hy op die see na hulle toe aangestap kom en Homself aan hulle bekend maak. Saulus van Tarsus het Hom ook so op ’n onverwagte manier op pad na Damaskus leer ken, en dit het sy lewe vir altyd verander. Elkeen van ons het seker ook ’n storie van hoe Christus Homself aan ons openbaar het. Hy het gekom sodat ons die ware lewe kan hê!

GEBED: “Dankie vir my grootste verrassing, Here Jesus.”

Lees vanaand in Genesis 45:14–28 hoe die goeie nuus by Jakob uitgekom het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх