Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 75

Оглавление

VRYDAG 8 MAART 2013

Lees eers Genesis 50:1–14

Staatsbegrafnis

“Gaan, en begrawe jou vader soos hy jou met ’n eed laat beloof het” (Gen 50:6).

GESELSVRAAG: Hoe wil jy graag eendag begrawe word?

“Ek was nie by sy begrafnis nie, maar ek het ’n mooi kaartjie geskryf om te sê dat dit my goedkeuring wegdra,” het Mark Twain oor een van sy kennisse vertel. “Die mense wat aandring op ’n gestrekte lykswa met ses wiele en ’n monument van ’n grafsteen is juis dié wat dit nie kan bekostig nie,” sê ’n begrafnisondernemer onlangs. Dit is tog eienaardig hoe mense dink dat ’n goeie begrafnis verkeerde sake kan regmaak. By die begrafnisdiens word so baie mense salig verklaar wat beslis nie daarvolgens gelewe het nie.

Farao het baie respek vir Josef gehad, en daarom het hy gesorg dat daar ’n behoorlike begrafnis gehou word, met al die regte toesprake deur hoogwaardigheidsbekleërs en professionele huilendes en al. Die stoet was indrukwekkend, sodat die mense van die buurt vir geslagte daarna nog daaroor gepraat het. Dié begrafnis het selfs vir die plek ’n spesiale naam gegee: Abel-Misrajim!

Die belangrikste mense by ’n begrafnis is egter nie die een wat oorlede is nie, maar dié wat agterbly. Hulle het troos nodig. Hulle het ook goeie nuus nodig: Dit is moontlik om gereed te wees vir die dag as dit ons beurt is. Beplan dus jou eie begrafnis met sorg, sodat die boodskap van die ewige lewe duidelik sal deurkom.

GEBED: “Here, ek weet ons almal sal eendag moet sterf. Help ons om vir daardie dag gereed te wees.”

Lees vanaand in Genesis 50:15–26 hoe Josef en sy broers finaal versoen is en wat daarna gebeur het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх