Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 81

Оглавление

WOENSDAG 13 MAART 2013

Lees eers Matteus 4:1–11

Versoekings kan weerstaan word

“Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Matt 4:4).

GESELSVRAAG: Hoe hanteer ons versoekings?

“Ek hanteer versoeking deur daaraan toe te gee,” het William Shakespeare in een van sy dramas geskryf. Ons moet seker almal maar erken dat versoeking vir ons ’n groot probleem is. Hoe kan ’n mens dit weerstaan? “Jy kan straf vermy deur eenvoudig gehoorsaam te wees,” vertel ek vir my een kleinseun. “Dis onmoontlik,” was sy reguit antwoord.

Die Here Jesus wys vir ons die pad na oorwinning. Die duiwel weet baie goed hoe om met mense te werk. Sy resep bly maar steeds dieselfde: Hy verlei ons deur ons liggaamlike behoeftes en drange, deur die lokstem van rykdom en deur die belofte van gewildheid en status. Jesus het elke keer gesien wat aangaan. En elke keer klap hy die duiwel met Deuteronomium! (Hoe goed ken ons daardie boek?) God se Woord is die een ding waarteen die duiwel geen verdediging het nie. Hy moet vlug. Wat sou jy dus doen as jy in sy plek was? Natuurlik probeer keer dat die kinders van die Here die Bybel bestudeer en uit hul kop leer. Dagstukkies is alles baie mooi, maar die duiwel skrik nie vir mensewoorde nie. Maar hy is doodbang vir God se Woord. Kom ons leer om die Bybel reg te gebruik en gedeeltes daarvan te memoriseer.

GEBED: “Leer my, Here, om u Woord te onthou en te gehoorsaam. Herinner my dan daaraan wanneer dit nodig is.”

Lees vanaand in Matteus 4:12–17 hoe Jesus dieselfde boodskap as Johannes voortsit.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх