Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 82

Оглавление

DONDERDAG 14 MAART 2013

Lees eers Matteus 4:18–25

Vissers van mense

“Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Matt 4:19).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons vissers van mense wees?

“Nee, ek vang nie vis nie – ek is ’n hengelaar,” verduidelik ’n kennis met ’n groot glimlag. Toe wonder ek – ons sien gereeld die manne met visstokke op die rotse langs die see, maar ek het nog nooit een gesien wat ’n vis gevang het nie. Die beste toerusting help niks as jy nie ’n vissie kan uittrek nie.

“Oom Bossie se visse is al goed wat aanhou groei nadat hulle dood is,” lewer iemand kommentaar op ’n hengelaar se visstories.

Hoe gaan dit met jul gemeente? Vang julle elke dag mense vir Christus? Wanneer laas het jy van ’n bekering gehoor? Die geheim van die dramatiese groei van die kerk in die eerste paar eeue was dat die groei deur die getuienis van gewone gelowiges was (Hand 8:4). Deesdae hou ons so baie kursusse en Bybelstudies, maar dit is vir ons eie groei, nie die koninkryk s’n nie. Jy kom elke dag met mense in aanraking wat nooit ’n dominee sien nie. Wie, dink jy, is die mees logiese persoon vir die Here om te gebruik om daardie ouens te bereik? Is dit nie jy nie? En wie is die beste persoon om jou kinders na die Here te lei? Die kategeet? Die dominee? Of dalk jy wat elke dag met hulle saamleef? Jou grootste vreugde sal wees as jy vandag iemand na die Here kan lei en dan op die pad verder kan begelei. Is jy gereed hiervoor?

GEBED: “Here, gee my vandag iemand om mee oor U te praat.”

Lees vanaand Matteus 5:1–12 en kyk watter van hierdie uitsprake op jou van toepassing is.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх