Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 73

Оглавление

WOENSDAG 6 MAART 2013

Lees eers Genesis 47:27–48:9

Oupa se seën

“Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën” (Gen 48:9).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons ons kleinkinders seën?

“Ek wonder watter rol ons voorouers se gebede nog in ons lewens en in dié van ons kinders speel,” wonder iemand nou die dag toe ons gesels oor ons voorouers se gebedslewe. Dit is nogal interessant om te lees hoeveel leiers in Suid-Afrika afstammelinge van dominee Andrew Murray van Graaff-Reinet is. Hy het baie tyd spandeer aan gebed vir herlewing en vir sy kinders. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Sy kinders het sy voorbeeld gevolg.

Ook in Bybelse tye was die mense baie bewus van die krag van ’n seën wat ’n sterwende vader of grootvader se woorde kon inhou. Ons het al vanjaar van verskeie sulke voorbeelde gelees. In vandag se gedeelte lees ons hoe die bejaarde Jakob sy seun Josef se kinders seën. Dit klink asof die handeling ’n profetiese invloed gehad het. ’n Mens wonder hoe die oorvertel van die toneel wat ons vanaand sal lees, die afstammelinge van die twee seuns beïnvloed het.

Wat is die beste wat ons vir ons kinders kan doen? Iemand het gesê dit is om vir hul ma lief te wees. Daar is baie waarheid in, maar nog beter is om self ’n voorbeeld van toewyding en godsvrug te wees. Kinders leer die beste deur wat hulle sien. As hulle sien dat hul ouers nie leef volgens hul belydenis nie, kan dit hul geestelike groei baie skade aandoen.

GEBED: “Here, ons bid vir ons kinders en kleinkinders. Lei hulle op u pad, en verhoed dat ons voorbeeld hulle verkeerd lei.”

Lees vanaand in Genesis 48:10–22 hoe Jakob tussen Josef se kinders gediskrimineer het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх