Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 68

Оглавление

VRYDAG 1 MAART 2013

Lees eers Genesis 44:1–14

Tyd van toetsing

“En my beker, my silwerbeker, moet julle bo in die sak van die jongste sit saam met die geld vir sy graan” (Gen 44:2).

GESELSVRAAG: Wat is die swaarste toets wat jy al moes deurstaan?

“’n Juweel kan nie gepoleer word sonder wrywing nie, en ’n mens ook nie sonder beproewings nie,” lui ’n ou Sjinese spreekwoord. John Newton het geskryf: “Beproewings is die medisyne wat ons bedagsame en wyse Geneesheer voorskryf omdat ons hulle nodig het. Hy besluit hoe dikwels ons dit nodig het, en watter sterkte. Ons kan Hom vertrou en Hom dank vir sy voorskrif.”

Josef wou homself aan sy broers bekend maak, maar hy wou eers vasstel of hulle al verander het. Sou hulle hul kleinboet ook in die steek laat soos vir hom, of gee hulle darem nou al vir mekaar om? Daarom lees ons van hierdie ongewone opdragte aan sy bediendes. Ek wonder wat die bediendes daarvan gedink het! Maar dit het die gevolg gehad dat hulle almal weer sak en pak teruggekom het, en hy kon sien hoe hulle verander het.

Beproewings is nooit lekker nie, maar ons kan seker wees dat hulle uiteindelik tot ons beswil is. Die Here wat ons gemaak het, weet hoeveel druk ons kan verduur. Hy is lief vir sy kinders en waak oor ons. Hy wil ons heilig maak en vorm as sierade vir die ewigheid. Daarvoor is teëspoed soms nodig. Maar Hy stel ons in staat om dit te hanteer (2 Kor 10:13).

GEBED: “Here, ek vertrou U in elke beproewing. Dra my deur elkeen en help my om sterker anderkant uit te kom.”

Lees vanaand in Genesis 44:15–34 Juda se roerende pleidooi sodat Benjamin weer huis toe kan gaan.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх