Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 90

Saterdag 22 Maart 2014 Lees eers Markus 8:1-10

Оглавление

Hy maak die onmoontlike moontlik

[…] Waar sal ’n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry? – Mark 8:4

GESELSVRAAG:

Wat is die grootste uitdaging wat nou op ons wag?

“Hoe kan ons die mense help om hulself te help?” vra my vrou ná die soveelste bedelaar vir ’n “stukkie brood” kom aanklop het. Dit is nie waar dat almal skelms of leuenaars is nie. Baie van hulle is werklik in die nood. Hoe kan ons hulle help?

Jesus het weer ’n skare van etlike duisende gehad wat in die veld na Hom kom luister het. Sy boodskap was vir hulle so belangrik dat hulle nou al drie dae by Hom was sonder om huis toe te gaan om te gaan eet. Praat van toewyding! ’n Uur lange diens was nie vir hulle genoeg nie. Hulle was ook nie eens naby hul huise nie – die dissipels praat van die verlatenheid. Húlle het darem nog ’n paar brode en visse oorgehad, maar wat is dit vir so baie mense? Weer het Jesus gewys wat Hy kan doen. Hy het alles geneem wat hulle gehad het en gesorg dat dit vir almal genoeg is. Nou sou die skare genoeg krag hê om by hul huise te kom. Christus gee werklik om vir mense!

Miskien is jy ook vandag in daardie posisie dat jy niks het om te eet nie. Jesus weet. Hy wil voorsien. Of, meer waarskynlik, is jy in die posisie dat jy wel iets het wat Hy kan gebruik. Is jy gewillig om dit in sy hande te gee? Die mense wat al hul kos weggegee het, het nog steeds genoeg gekry om te eet – en daar was nog sewe mandjies vol kos oor vir die pad terug! Lewe met Jesus is ’n avontuur!

GEBED:

Wys my wat U deur my wil doen om mense te help.

Lees vanaand in Markus 8:11-21 hoe Jesus moedeloos geraak het oor sy dissipels se stadige vordering. Hoe voel Hy oor jou?

Uit die beek 2014

Подняться наверх