Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 91

Sondag 23 Maart 2014 Lees eers Psalm 135:13-21

Оглавление

Nuttelose gode

[…] oë het hulle, maar sien kan hulle nie; ore het hulle, maar hoor kan hulle nie […] – Ps 135:16-17

GESELSVRAAG:

Watter afgode kan werklik ’n verskil maak?

“Daardie beeld van Boeddha stel hom voor waar hy slaap; as dit hom voorstel waar hy dood is, is sy twee voete langs mekaar,” verduidelik die gids in Sri Lanka. Die beeld is seker 4 m lank en veelkleurig geverf, soos die gewoonte daar is. Maar mense het ook handgemaakte kombersies oor hom gegooi, van aanbidders wat hom wou omkoop om hul gebede te verhoor. Suiwer Boeddhisme is eintlik ateïsties, maar die bidders van Sri Lanka het dit nog nie verstaan nie. Hulle het hulp kom soek, nie selfhelp-raad nie.

Dwarsoor die wêreld bid mense vandag tot hul verskillende gode. Hierdie psalm wil ons herinner dat daar net een lewende God is – die God van die Bybel. Net Hy kan gebede verhoor. Net Hy gee om vir sy volgelinge. Die ander gode is almal mensgemaak – hulle kan nie sien of hoor nie. Hulle haal nie eens asem nie. Dit is mos dom om op sulke gode te vertrou. Alle godsdienste is nie gelyk nie.

Dit is een ding om hierdie feit te verstaan, maar ’n ander om daarvolgens te lewe. Dit gaan nie oor wie reg het nie, maar oor wat waar is. En as jy die waarheid ontdek het, bring dit ook ’n verantwoordelikheid mee. Die Here wil jou vandag ontmoet en jou toerus vir die week wat voorlê. Skryf vanaand die opdrag neer wat jy vandag by Hom gehoor het.

GEBED:

Here, gee my die kans om nog iemand na U te lei.

Lees vanaand in Psalm 136:1-9 die begin van die beurtsang wat één baie belangrike feit herhaal. Kyk of jy dit kan raaksien.

Uit die beek 2014

Подняться наверх