Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 87

Woensdag 19 Maart 2014 Lees eers Markus 6:45-52

Оглавление

Tyd vir toetsing

[…] Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie. – Mark 6:50

GESELSVRAAG:

Watter tyd in jou lewe was vir jou besonder moeilik?

“Ek hoor en ek vergeet; ek sien en ek onthou; ek doen en ek verstaan,” het Confucius gesê. Ander mense het weer beweer dat ’n mens net 10% onthou van wat jy lees, 50% van wat jy sien en hoor, en 80% van wat jy doen. Dit is natuurlik ’n growwe veralgemening. Maar ’n mens kan nie uit ’n boek leer viool speel sonder om een in jou hande te hê nie. Dit is net deur oor en oor te oefen dat ’n mens enige musiekinstrument kan baasraak.

Die dissipels het baie gehoor van wat Jesus sê. Hulle het ook gesien wat Hy doen. Toe moes hulle leer deur te doen. Die eerste les was gehoorsaamheid. Jesus het hulle beveel om in die skuit te klim en sonder Hom oor te vaar na die westekant van die meer. Toe moes hulle leer vertrou terwyl alles teen hulle was. Hulle moes steeds vertrou toe ’n spook op die water na hulle aangestap kom nadat hulle reeds uitgeput was van die roei. En toe vind hulle uit die “spook” was Jesus wat nog steeds besig was om hulle op te lei. Jesus het hulle nie vergeet nie. Hy was besig om vir hulle te bid, daar op die berg, en Hy was besig om hulle dop te hou om te sien wat hulle doen (Mark 6:45, 48).

Ons kry ook soms moeilike opdragte. Dit is ’n toets vir gehoorsaamheid. Ons geloof word getoets in die storms wat ons lewe oorval, en ook deur die dinge wat met ons gebeur wat ons nie kan verstaan nie. Hou moed! Jesus bid vir jou. Hy vorm jou daardeur.

GEBED:

Vorm my, Here, tot u eer – ook deur die toetstye.

Lees vanaand in Markus 6:53-56 hoe gewild Jesus was terwyl Hy mense gehelp het.

Uit die beek 2014

Подняться наверх