Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 84

Sondag 16 Maart 2014 Lees eers Psalm 135:1-7

Оглавление

Die wonder van aanbidding

Prys die Here, want die Here is goed, sing tot eer van sy lieflike Naam. – Ps 135:3

GESELSVRAAG:

Wat is vir jou lekker aan kerk toe gaan?

“Die jongmense het vyfuur elke oggend bymekaargekom om die Here ’n uur lank te loof en te prys. Selfs ná ’n uur op ons voete was ons nog nie moeg nie, want die leiers was goed voorberei en het bypassende Skrifgedeeltes voorgelees,” vertel ’n bejaarde sendeling wat ’n weeklange sendingkonferensie in ’n township bygewoon het. In ons gemeente kom baie mense eers op die laaste nippertjie kerk toe sodat hulle die voorafsang kan misloop. Wat is die verskil?

In vanoggend se psalm kry ons die herhaalde opdrag om die Here te prys. Dit is nie vir hulle ’n pynlike beproewing nie, maar iets heerliks, want die Here is wonderlik. Hy het wonderlike dinge vir hulle gedoen. Hulle ken die Here. Hulle is bewus van sy wonders; daarom is dit vir hulle lekker om Hom te loof. Hulle kan bedoel wat hulle sing. Die woorde van hierdie psalm is aangrypend. Dit kom uit die hart. Die gemeente sien God se hand in alles wat gebeur op die aarde, in die see en in die lug. Hy is ’n wonderlike God, ver bokant al die ander nasies se afgode.

Dit is Hy wat ons vandag ook saam wil loof. Sien jy uit daarna? Hoekom, of hoekom nie? Kom ons berei ons voor vir daardie besondere ontmoeting met die lewende God.

GEBED:

Ons prys U vir wie U is en vir alles wat U elke dag doen, Hemelse Vader. U gee vir ons elke dag vreugde.

Lees vanaand in Psalm 135:8-12 hoe die volk God se werk in hul geskiedenis kon raaksien. Waar sien jy Hom werk?

Uit die beek 2014

Подняться наверх