Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 69

Saterdag 1 Maart 2014 Lees eers Markus 1:1-11

Оглавление

Goeie nuus!

Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só: […] – Mark 1:1

GESELSVRAAG:

Wat is die beste nuus wat jy hierdie week gehoor het?

“Ai, ek wil nie meer die koerant lees of na die TV-nuus kyk nie, want al die nuus is net sleg,” sug ’n vriend. Ons ken almal daardie gevoel. Dit lyk asof die duiwel besig is om die oorhand te kry. Die Bybel se boodskap word nie meer aanvaar nie. Baie gemeentes loop leeg en moet sluit. Onreg, korrupsie en misdaad het algemeen geword. Ons het goeie nuus baie nodig.

Vandag kom Markus met daardie nuus. In sy tyd was daar groot verdrukking deur ’n buitelandse moondheid. Die geestelike leiers was swak voorbeelde. Alles het hopeloos gelyk. En toe kom Jesus op die toneel! Markus sê hy het goeie nuus gebring (die letterlike betekenis van “evangelie”). Hy het gesê die goeie nuus gaan oor ’n Persoon. Hierdie Jesus is die Christus, die langverwagte Messias. Maar Hy is so totaal anders as wat die gelowiges verwag het. Hy was nie ’n soldaat nie. Hy het nie wapengeweld nodig gehad nie. Sy wapen was liefde. In die volgende paar weke sal ons Hom beter leer ken. En Hy is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Heb 13:8). Markus begin direk met Jesus se bediening, nie sy geboorte nie. Hy vertel van Johannes die Doper se getuienis oor hierdie Jesus. As jy Jesus ken, besef jy Hy is veel hoër as jy. Jy buig voor Hom.

GEBED:

Here Jesus, ek wil U beter leer ken. Maak my hart oop om te ontvang wat U vir my in hierdie Evangelie weggesteek het.

Lees vanaand in Markus 1:12-20 hoe die Here ’n roeping vir elkeen van sy volgelinge het. Wat is joune?

Uit die beek 2014

Подняться наверх