Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 65

Donderdag 27 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 39:32-43

Оглавление

Gehoorsaam aan die wette

Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses beveel het. – Eks 39:42

GESELSVRAAG:

Watter wette kom jy na?

“Omdat ek die ma is, dis hoekom,” staan op ’n vriendin se T-hempie geskryf. “Maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie,” het ’n ander een vir haar kinders vertel. “As almal Christene was, het ons geen polisiemanne en verkeerskonstabels nodig gehad nie,” het ’n studentevriend verklaar. “Dit help nie om wette te maak as jy dit nie kan toepas nie,” skryf iemand in die koerant.

Die hoofboodskap van die Ou Testament is dat ons gehoorsaam moet wees. Ongehoorsaamheid lei tot ellende. Maar juis omdat gehoorsaamheid onmoontlik is, soos my een kleinseun gesê het, was dit vir Jesus nodig om te kom. Die wette en regulasies van die Ou Testament het net die pad voorberei vir die boodskap van God se genade in die Nuwe. Ons lees min dat die volk gehoorsaam was. Selfs in die beste tye was daar nog steeds probleme. Dink maar wat ons oor die konings lees. In eie krag kan ons nie doen wat die Here ons beveel het nie.

Maar ons hoef nie bedruk op ’n hopie te gaan sit nie. Daar is ’n ander pad vir ons oopgemaak. Ons hoef nie meer ons redding te probeer verdien deur wette na te kom nie. Jesus het dit alles vir ons gedoen. Ons hoef net God se genadegawe te ontvang (Rom 3:23-24, 6:23). Wat ’n verligting!

GEBED:

Hoe kan ek vandag vir U wys hoe dankbaar ek is, Here?

Lees vanaand in Eksodus 40:1-15 hoe die tabernakel opgerig en ingewy is.

Uit die beek 2014

Подняться наверх