Читать книгу Uit die beek 2014 - Attie van Wijk - Страница 50

Woensdag 12 Februarie 2014 Lees eers Eksodus 29:38-46

Оглавление

Lewensveranderende ontmoeting

Dáár sal Ek die Israeliete ontmoet en daar sal hulle geheilig word deur my magtige teenwoordigheid. – Eks 29:43

GESELSVRAAG:

Watter ontmoetings het ons lewe verander?

“Here, ek sal Sondag kerk toe gaan, maar moet tog niks van my vra nie en moet niks in my lewe verander nie.” Daar is seker min van ons wat so bid voordat ons kerk toe gaan. Tog is daar min van ons wat kerk toe gaan met die verwagting dat die Here ons gaan omkeer. Ons hou mos van die status quo. Ek is goed genoeg, dankie.

In vandag se Skriflesing het die Here Moses vertel hoe Hy die volk wou ontmoet. Daar by die ingang van die tent van ontmoeting sou God met Moses praat (Eks 29:42). Maar meer nog, as enigeen van die Israeliete ook daar opdaag en ’n ontmoeting met die lewende God verlang, sou dit gebeur. Hulle sou geheilig word deur daardie ontmoeting. Hulle sou aan Hom gewy wees. Hulle sou in sy diens staan en aan Hom gehoorsaam wou wees. Hulle sou besef dat Hy hulle God is en dat Hy tussen hulle woon.

Waar is God vandag? As jy antwoord “in die hemel” is jy seker reg, maar dit is nie al nie. Hy is mos alomteenwoordig. Hy is ook nou daar by jou waar jy in hierdie boek sit en lees. En as jy alles van jouself aan Hom oorgegee het, is Hy ook in jou. Jesus sê die Drie-enige God kom woon in ons (Joh 14:17, 20). Hy wil vandag met jou werk toe en skool toe gaan. Hy wil jou verander en deur jou ander mense se lewens verander.

GEBED:

Wees U die Koning van my hele lewe, Here Jesus.

Lees vanaand in Eksodus 30:1-10 oor die rol van die altaar – wat ná Christus se kruisdood nie meer nodig was nie.

Uit die beek 2014

Подняться наверх